Nuuskommentaar: Zuma nou in vuurwarm drukkoker

Pres. Jacob Zuma

Pres. Jacob Zuma

Die tyd was nog nooit so ryp soos nou vir pres. Zuma om die aftog as president te blaas nie. Hy sal egter waarskynlik soos ʼn neet bly klou en in die proses die ANC nog kwesbaarder maak.

Die beslissing van die hooggeregshof in Pretoria, dat die besluit om meer as sewehonderd aanklagte van korrupsie, geldwassery en bedrog teen pres. Jacob Zuma terug te trek, irrasioneel was en hersien moet word, is ʼn reuse terugslag vir Zuma en sy aanhangers. Dit volg boonop kort na die konstitusionele hof in die Nkandla-sage ook teen Zuma en sy lakeie beslis het.

Dié keer kan Zuma niemand vir die wolwe gooi en self skotvry (in sy eie oë) daarvan afkom nie. Een van sy beweerde lakeie, die hoof van die nasionale vervolgingsgesag, Shaun Abrahams, het nou die onbenydenswaardige taak om te besluit of die vervolging heringestel moet word, maar waarskynlik eers nadat Zuma op belastingbetalerskoste die appèlhof en die grondwetlike hof genader het.

Intussen gaan Zuma tog, by wyse van spreke, reeds begin om sy vonnis uit te dien. Indien hy, soos hy aanvoer, onskuldig is, is sy aangewese roete nou om sy dag in die hof te kry, soos hy eens op ʼn tyd gevra het totdat dinge teen hom te oorweldigend begin lyk het.

Die opsie wat hy meer waarskynlik sal volg, is om alle regsremedies uit te put om die kwade dag (vir hom) so lank as moontlik uitgestel te kry.

Daar was ʼn geruime tyd sprake van ʼn uittredingspakket wat vir hom beding sou word, wat behels dat hy van verdere vervolging gevrywaar sou word indien hy sy hoed vat en loop. Dié moontlikheid het elke keer skaars genoem in die lug bly hang en verdwyn. Dit mag wees dat die ANC duidelike tekens van die opposisie gekry het dat hulle hul nie so ʼn opsie sal laat welgeval nie.

Dit is waarskynliker dat Zuma self nie vir so ʼn opsie te vinde sou wees nie en eerder sy magspel binne die ANC sou wou voortsit. Nou het daardie skip vertrek en Zuma loop die werklike gevaar om eendag tronk toe gestuur te word.

Abrahams mag die grootste Zuma-aanhanger in die land wees, maar of hy na die afranseling wat Mpse in die hof gekry het, sommer ʼn soortgelyke besluit sal neem, is onwaarskynlik. Die hof het immers nou riglyne gestel wat gevolg moet word.

Dié terugslag kom terwyl Zuma reeds in baie kringe, veral buite die ANC, maar ook binne ʼn belangrike segment van die ANC, as toksies vir die land ervaar word. Daar is enorme bewegings om druk op hom uit te oefen om te bedank en dit sal nou toeneem.

Voorts het Zuma in ʼn vorige saak reeds deur sy regspan aangevoer hy behoort as sittende president ʼn soort immuniteit teen vervolging te geniet, omdat dit onmoontlik sou wees om die nodige aandag aan die take van die president te verleen en homself teen dié swetterjoel aanklagte te verdedig.

Sy regspan het selfs ʼn vet kans gevat en aangevoer Zuma moet as president ipso facto daardie immuniteit geniet soos die presidente van, onder andere, die VSA. Die Amerikaanse presidente geniet egter nie daardie immuniteit nie en ons grondwet maak ook nie vir so-iets vir ons president voorsiening nie.

Nou, met Zuma wat baie aandag aan die aanklagte teen hom sal moet skenk, selfs voordat vervolging heringestel word, kan hy volgens sy eie bekentenis nie die nodige aandag aan die take van die presidentskap verleen nie.

Hy is dus nou moreel verplig om te bedank. Maar so was hy verskeie kere in die verlede eintlik, volgens internasionale konvensie, veronderstel om op sy ore uit die amp te wees, maar Zuma is ʼn meester om die massas agter hom te verenig.

Intussen is die land baie dank aan die DA verskuldig, wat baie kostes aangegaan het en sewe jaar se frustrasies moes verduur om tot by hierdie punt te kom. Ook die IVP, deur bemiddeling van wyle dr. Mario Ambrosini, het al ʼn belangrike hofsaak teen die staat (lees Zuma se ANC maar op belastingbetalerskoste) gewen. Die Vryheidsfront Plus span weer gereeld ʼn instelling soos die Menseregtekommissie in om Zuma tot orde te probeer roep.

Die klimaat vir Zuma se bedanking was nog nooit so ryp soos nou nie. Selfs die mees stoere Zuma-ondersteuner moet nou besef die ANC ly meer skade met so iemand, as wat Zuma in die amp ʼn wins kan wees.

Lees alle vorige berigte oor die “spioenasiebande” op Maroela Media.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Hannelie ·

Ek stem saam hy moet die eerbare ding doen en bedank as President, want hy is tans een GROOT verleentheid vir Suid-Afrika.

Sampie ·

Dit is ‘n kwade dag dat die land se vertoning op die valutamark verbeter as sy staatspresident ‘n nederlaag ly in ‘n hof. Die rand is blykbaar die sterkste teen die dollar in ‘n lang tyd na die hofuitspraak teen Zuma en die NVG vanoggend. Skande!

Johan ·

Oppas as ‘n magshonger, hoogmoedige narsis, wat homself beskou as onaantasbaar, in’ n hoek gedryf word. Sulke mense raak onvoorspelbaar en gaan nie alleen grond toe nie. In posisies van mag kan hulle ‘n ramp orkestreer. Hulle het geen eerbaarheid of liefde vir hulle eie organisasies of land. Hulle dink net aan hulle self en hulle droomwêreld…

Johannes van Rooyen ·

Niks wat zuma doen is eerbaar nie so hy sal nie bedank nie hy sal gefire moet word wat word nou van die salaris wat hy onregmatig gekry het ?

Loeis ·

Dit is eintlik goed hy klou nog so bietjie aan die mag vas, dit gaan die ANC later vanjaar stemme kos, wat beteken hulle binnegevegte gaan vergroot :)

alida ·

Nou sit sy turf maar die skelm kom elke keer skotvry daarvan af. Hy sal seker weer lag oor die uitspraak. Alles is mos ‘n een groot vet grap volgens hom.

Andrea van Vuren ·

Gee hom sy dag (of dae?) in die hof. Hy besit nie die intellektuele vermoë om homself te verdedig nie! Wie gaan sy toespraak dan vir hom skryf?

Hennie Theart ·

Mnr Zuma……..die dobbelsteen het geval en “Zuma must fall” is nou ‘n werklikheid. Dit is beter om te bedank en as ‘n privaatmens jou saak aan te hoor as om as president dit te doen. Wees nou eerbaar en loop. ANC julle het op die verkeerde perd verwed……julle tyd om te gaan is ook naby. Die verkiesing sal praat.

charl ·

Ons almal hoop dat die “jors” eendag in die tjoekie op ons onkoste gaan beland. Ek dink hy gaan weereens te slim wees en n tydjie in n luukse hospitaal le , ook op ons onkoste , en dan na sy kaia en al sy bywywe verkas, ook op ons onkoste!!!

charl ·

Hennie ongelukkig bestaan die woord “eerbaar” nie in hul woordeboek nie!!!

Boffin ·

Gaan die skelm ,dief weer Sondagaand rapella en al wat ANC is, in trane van bejammering hê.
Dink sy g@t begin stadig maar seker vas te draai.

John ·

Dinge gaan nou lelik raak …. baie lelik! Dis nie net een nie, maar ‘n hele kaboedel ‘domino’s’ in ‘n ry wat pak moet kry. Hulle gaan ongelukkig nie die pak soos ‘n man vat nie. Dis die probleem.

Henry ·

Malema en sy rooi hemde lag al die pad stembus toe.
‘Coconut’ Maimane en die DA met sy wit meelopers, gaan vorentoe ook al hoe skerper en skriller as die grootste vyand van die ANC, die EFF en hul onderskeie stemvee ge-brandmerk word.
Dit is die prys wat betaal sal word in ‘n land waar die meerderheid kiesers oor ‘n tydperk van 22 jaar reeds so geïndoktrineer is, dat die DA en enige iets wat na ‘n wit mens lyk of klink, as rassiste en vyand gebrandmerk word.
Die opposisie en die wittes is die rassistese vyand wat daarvoor verantwoordelik is dat die ‘onderdrukte’ massas en die ANC regime se leiers so bedreig word.
Ek weet nie wat oorle’ oompie van Rensburg te sê gehad het nie, stel okkie belang nie, maar al die rooi kleure/klere wat mens sien, wil dit laat voorkom asof daar veel gevaarliker tye voorlê.

Kenny Erasmus ·

Ek wil graag op. Sampie se kommentaar reageer….dis juis die teenoorgestelde Sampie, tensy ek jou kommentaar verkeerd verstaan. Die mark weerspieel juis vertroue (sterker eenheid) agv die skroewe wat nou aangedraai word ( lees dissipline). Hierdie speel so reg in o.a mnr Pravin Gordhan se hand om die land van rommel status te red. Die buiteland en beleggers wys juis meer vertroue. Dis nie ‘n skande nie, dis ‘n “Vote of Confidence”

Bach ·

Die stembus gaan nie veel oplewer nie. Kyk na die duisende wat hom pas in Limpopo toe gejuig het. Hulle is onongelig lees nie koerant of luister nuus nie. Hulle sal kniediep in rioolwater staan maar ANC sal hulle stem.

Gideon ·

Maroela, ek wil julle bedank vir die vryskut skrywers wat julle gebruik!! Herman Toerien jy mag maar skryf!!

Oom Kalahari ·

@Gideon, ek stem heelhartig met jou en jou skrywe saam. Herman Toerien is en was nog altyd uitstekend in sy berigte en stellings en ek het groot respek vir hierdie vryskut skrywer en sy werke. Herman bou so voort, jy is ‘n regte steunpilaar wat op die waarhede konsentreer en positiewe samestellings maak. Sterkte.

Francie ·

Niemand sal hom afdank nie. Ek vermoed dat die wat hom Nkandla toe kan stuur, dit nie sal waag nie, hy weet heelwaarskynlik van heelwat geraamtes in hulle kaste. Intussen wag hy vir sy vorige vrou om terug te kom sodat hy sy buurman en goeie vriend Robert se voorbeeld kan volg en deur haar steeds die septer swaai. Net jammer (!!) hy is besig om die ANC so te verswak dat hy sy kanse om deur hulle sy droom van diktator word in die proses te verspeel.

Lance ·

Jammer dit het so lank geneem tot by die punt …die skade wat aangerig is , is verbysterend … die verval en agteruitgang sowel as die kultuur van korrupsie ….dis n diep seer van verroting ….n pitsweer …hoe kry mens dit ooit weer reg

Sally ·

Ek dink die mense wat dink dat ons vir zuma moet amnestie toestaan om van hom onslae te raak moet weer dink….as ons dit dien gaan die volgende en weer volgende presidente dieselfde verwag. Hy MOET vervolg word en daar MOET n voorbeeld gemaak word van hom om toekomstige presidente te waarsku om in hul spoor te trap. Die land se mense is nie “paloekas” nie!!!!

Rynhardt ·

Ja, die drukkoker kook oor vir Zuma en Anc asook vir die DA en EFF.Almal ruik bloed, mag en geld!! Die Here is besig om SA se politieke leuens en geknoeiery te laat uitborrel soos warm vulkaniese water! Dinge gaan nog baie chaoties raak, so chaoties dat SA in die nabye toekoms sonder n president gaan wees.Net een laaste ding.Moenie DA prys oor kostes wat hy aangegaan het nie, want Brittanje ondersteun hom.

GES ·

Zuma het waarskynlik al sy brûe gebrand. Dit impakteer sleg op die ANC maar dit is juis ons redding. Ek kan nie sien hoe hy uit hierdie verknorsing gaan kom nie. Wat my bekommerd maak is dat die ANC dalk ‘n staatsgreep sal moet oorweeg om in die kussings te bly.

Armando ·

Ges, hierdie ding van ‘n staatsgreep, met of sonder hulp van die weermag (wat dit ookal deesdae is), is vir my ‘n bekommernis. Dit is ‘n baie erge toestand om aan te dink, hoewel ook ‘n kans om ‘n eie ding te doen. Dink daaroorna, asb.

Piet Boer ·

Hy moet net bly waar hy is tot ná die verkiesing. As hulle hom nou vervang gaan hulle goed lyk; bly Zuma dan maak jy seker dat die ANC se slegte reputasie bly waar hy is.

Dirk Breytenbach ·

Draai die hitte aan sodat die druk nog meer word! Laat hom sweet. Wie die laaste lag lag die lekkerste!! Die anc is soos die bekende vergelyking van ‘n padda wat stadig gekook word, wanneer hulle agterkom hulle is nou eintlik dood gekook, dan is dit te laat!!!

Pieta ·

So van laaste lag gepraat: Wie gaan uiteindelik so lekker lag?

Andre K ·

Zuma en sy volgelinge het geen ontsag vir enige reels nie. Hulle sien reels as rasisties. Sodra hulle vasgevat word is dit rasisties of hulle klim op die apartheid holruggeryde perd.

Johann ·

Oor 10 of 15 jaar sal ons terugkyk en sê: Jacob die bedrieër was die beste ding wat ons land kon tref. Hy het eiehandig sy party afgetrek na rommelstatus.

Rina Kotze ·

Ek hoop van harte dat die ANC goed pakslae sal kry in die munisiapale verkiesings en van daar af ‘n NOG groter loesing by die stembus in 2019. Of dat daar moontlik ‘n vroeë verkiesing uitgeroep gaan word.

Ek hoop dit mense se politieke oë sal oopgaan en besef die ANC kan hulle niks anders bied as leë beloftes nie. Want hulle soek net stemme en daarna …..?

Dan gee hulle niks om vir die wat vir hulle gestem het nie.

KOMAAN SA, skrik asb Wakker!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.