Nuuskommentaar: Zuma slinger steeds boemerangs

Foto: ANC/Twitter

Foto: ANC/Twitter

Die ANC plaas die voortgesette swak vertoning van die rand vierkant voor die deur van faktore buite sy beheer, maar hoewel daar ’n effense waarheid in steek, stook die onbesonne uitsprake van pres. Jacob Zuma en ander ANC-hooggeplaastes die probleem met mening.

Ná afloop van Nenegate het die ANC hoog probeer opgee oor die “positiewe aspekte” van ’n regering wat luister na die mense en regstel waar nodig.

Baie mense was inderdaad baie verlig dat Pravin Gordhan as uitvloeisel van die debakel weer die minister van finansies geword het.

Maar die rand het oorwegend bly daal … Gister het dit in ’n stadium by die R18 teenoor die dollar gaan draai.

Die ANC gee hoog op dat die rand se sukkelvertoning aan buitelandse gebeure, veral ekonomiese gebeure, gekoppel is. Maar dis net ’n halwe waarheid. Die sterk vermoede dat die ANC (al weer) erg kluitjies rondom die Nenegate-kwessie bak om skadebeheer te probeer toepas dra tot die destabilisasie by.

Op 9 Desember verlede jaar het Maroela in sy nuuskommentaar onder die opskrif, “Trekpas vir Zuma om SA te red”, verwys na die ekonoom, Dawie Roodt, se stelling: Die enigste manier waarop Suid-Afrika rommelstatus kan vryspring, is om van Zuma as president ontslae te raak.

Toe die “geleentheid” hiervoor kort hierna met die Nenegate-kwessie opduik, het die ANC egter besluit om eerder die geledere om Zuma te sluit. Dit het duidelik met ’n strategie verband gehou, en ’n mens kon maar net hoop dat ’n bestendiging van die ekonomie deel hiervan sou wees. Dit sou onder meer moes behels ’n wag voor Zuma se mond en dat veral sy uitsprake met ekonomiese gevolge eers deur werklike kundiges gesanksioneer sou word.

Daar was wel ’n strategie, maar nie een om Suid-Afrika en sy mense eerste te stel nie, maar om die ANC so goed moontlik in vanjaar se munisipale verkiesings te laat vaar. ’n Deel van die strategie was die geykte blaampolitiek waarin almal, van Jan van Riebeeck tot PW Botha, die blaam moes kry vir alles wat die ANC eiehandig verbrou het.

Ook opposisiepartye moes swaar dra aan die blaam, soos Zuma se klag dat die opposisie se hardlopery na die howe die ANC se wetgewende program ontwrig, en dat dit eintlik tot nadeel van ontwikkeling is. Dit laat ’n mens nogal aan die kaptein van ’n baie sterk rugbyspan dink wat die kous oor die kop gekry het. Sy verweer was dat die skeidsregter hulle darem woes vir vuilspel gestraf het, en dat hul wenkans so daarmee heen was. As die ANC nie vuil gespeel het nie, sou die howe immers nie op ’n streep die opposisie gelyk gegee het nie.

’n Tweede, geykte element is om als en almal wat in die ANC se pad staan van rassisme te beskuldig. Selfs mense met ’n besonder skoon rekord van nié rassisties wees nie, soos die joernalis Carien du Plessis, is van rassisme beskuldig en teen opgetree (maar darem later ná ’n biegsessie vergeef). Sy het iets durf verwoord, en nogal heel vindingryk, wat ander joernaliste al lank waargeneem het en nie kans gesien het om die pen aan te waag nie.

Nou is die jong mense van AfriForum Jeug wat praktiese beslag aan ’n hofbevel gegee het om straatnaamborde in Pretoria terug te plaas, van rassisme beskuldig. Dis voorafgegaan deur ’n heel onverkwiklike verwikkeling toe vyf lede in hegtenis geneem en aangehou is “vir wat hulle gedoen het”.

Die Penny Sparrow-saak het soos ’n ryp vrug in die ANC se skoot geval.

Intussen het Zuma weer ’n hele rits omstrede kwessies aangeraak en mites as feite gaan opdis. Hy is onmiddellik as leuenaar afgemaak, iets wat nie bevorderlik is vir ’n beeld van ’n bestendige regering waar beleggers maar kan waag om hul geldjies te belê nie. Hy het ook voortgegaan om die allergrootste snert oor die ekonomie en die markte kwyt te raak, wat uiteraard ook potensiële beleggers die wille weghollens gee.

Geen wonder nie dat die joernalis Hanlie Stadler, in haar artikel “4 faktore wat die rand afdruk” op Netwerk 24, die Zuma-faktor as een lys. Die ander is ’n verdamping van ’n lus om risiko’s te waag weens faktore soos die Chinese ekonomie en Noord-Korea se kerntoets wat as ’n waterstofbom opgedis is.

Die stand van die Chinese ekonomie en die feit dat dit nou beter in die VSA gaan (waar werkloosheid onder meer krimp) speel ook ’n rol.

Zuma self, met stellings soos dat “die grond” by swart mense gesteel is, sorg dat hy die teiken bly van die bykans deurlopende en gewilde tydverdryf van Zuma-bashing. Hy woon in ’n glashuis, maar gooi met klippe. Hoe dink hy byvoorbeeld het die Zoeloes die grond bekom wat eens deur die Khoi-San bewoon is?

Al kon die Zuma-ramp nie in Polokwane voorsien gewees het nie, het hierdie spook die ANC (en ongelukkig veral die land) nou al soveel keer tot vervelens toe besoek dat die ANC nie meer anders kan nie as om self pa te staan vir die voortsleep daarvan.

En so ’n party verdien om by die stembus, in die media, in die howe en op elke speelveld strafskoppe teen hom te kry. #ZumaMustFall.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Henk ·

Mnr Toerien, u skryf die Rand het ‘n draai gaan maak teen R18 ten opsigte van die USD. Dit moet egter die Euro wees. Vanoggend was die koers €1 = R 18,46. Toe ek in op 12 juli 2012 – presies drie en ‘n half jaar gelede – in Suid-Afrika gekom het om daar te studeer, was die wisselkoers €1 = R9,8.

Ek wonder hoekom toe die markte in Desember geprotesteer het na Zuma se besluit om Nene met Van Rooyen te vervang, gewys het. Noudat Zuma omstrede uitlatings oor landbougrond gedoen het, daal die Zuid-Afrikaanse Rand weer skerp. Ek verstaan nie hoekom boere-organisasies dié situasie nie uitbuit nie. Die markte reageer in hierdie geval dalk nie op Zuma se omstrede uitsprake nie, maar die boere kan dit tog betoog, sodat hulle Zuma daarmee in die media kan slaan?

Albert ·

Henk, die Rand het gisteroggend teen n rekord laagtepunt van R17.9950 verhandel vs die USD.

Miah Cola ·

As die VSA, China, Japan (wie ookal) hik of proes dan is dit die se skuld vir die slegte Rand, maar dit is net n verskoning om almal daar buite te blameer vir DIE regering se BELEIDS rigting wat die Rand laat val. In 2008 toe die wereld markte induie gestort het, het die Rand nie eers beweeg nie !

Knersie D ·

Ai Henkie…..Nou is Mnr Toerien ‘n leuenaar oor R0.005?

Rynhardt ·

Zuma kan met alle flou verskonings navore kom, maar hy en Anc kon nie 6% of meer ekonomies groei in 22jaar behaal nie Hulle het liederlik misluk! Ek is bevrees dat n mens kan orals sien hoe die opswepery aan die toeneem teen blankes is! Zuma en Anc gaan blankes vir alles blameer, terwyl hul agter hul mislukkings wegkruip! Hul weet dit is nie te moeilik om die massas op te sweep nie.

DEE ·

Word hierdie en ander berigte met feite gepubliseer in media wat ANC en EFF lede ook lees?

Maddox ·

Die swak Rand het net een oorsaak, dit is inkompetensie van die ANC en sy hoof nar Zuma.
Die ander goed in die wereld is klein in vergelyking met die skade wat hulle aangerig het aan die geldeenheid. Enige iemand wat hiermee stry moet sy kop laat lees of is ‘n ANC apollogeet. Daar klaar gepraat.

Ockert ·

As die ANC dan roem daarop dat hulle na die volk luister waarom herroep hulle dan nie vir Zuma nie. Dit is tog wat die volk onder #ZumaMustFall aksie versoek en op aandring. Kom nou ANC!! Luister na die volk.

Liewe lulu ·

Hulle sal zuma nie herroep nie want dan moet hulle erken hulle het n fout gemaak. Onthou volgens die anc maak hulle nie foute

Kitkliek ·

En die stelling dat die ANC belangriker is as die land, en zuma sy sakke volpak gaan ons nog duur te staan kom. Reeds is witmielies 2 keer duurder as laas jaar. Ek weet nie waar ons land se agtergeblewenis hulle pap vandaan gaan kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.