Onnies pak mekaar in hof

ʼn Uitgerekte vete tussen twee Oos-Randse hoërskoolonderwysers het Maandag in die hof gaan draai.

Aletta Pretorius, ʼn Afrikaanse onderwyser aan Hoërskool Jeugland in Kempton Park, eis R100 000 van die minster van polisie nadat sy op 14 Februarie 2012 by die skool in hegtenis geneem is, het Beeld Dinsdag berig.

ʼn Bitter verhouding tussen Pretorius en Rika Papenfuss, ʼn voormalige lewensoriënteringsonderwyseres by die skool, het omstreeks 07:00 die oggend sy breekpunt voor die skool se personeelkamer bereik.

Pretorius het glo aspris Papenfuss hard met haar skouer gestamp dat Papenfuss teen ʼn muur beland het.

Papenfuss het Maandag voor die staat in die siviele hof in Kempton Park getuig in Pretorius se saak teen die polisie. “Sy het my gestamp. Ek het teen ʼn muur geval. Sy het nie om verskoning gevra nie. Sy het gesê ‘as jy voor my wil instap, moet jy vat wat jy kry’,” het Papenfuss getuig.

Papenfuss het toe ʼn saak van aanranding by die polisie aanhangig gemaak en vir ʼn beskermingsbevel teen Pretorius aansoek gedoen. Pretorius is later die dag in hegtenis geneem.

Die aanrandingsaak is die volgende dag van die hofrol geskrap, wat tot Pretorius se eis teen die staat gelei het.

Onder kruisverhoor deur Adel van Niekerk, Pretorius se prokureur, het Papenfus getuig dat sy en Pretorius mekaar “van die rookkamer” af ken. Hul verhouding het mettertyd versuur.

Die verhoor is tot 2 Augustus uitgestel.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wanda Olivier ·

Dis pateties. Die opvoeders van ‘n nasie. En ken mekaar van die rookkamer af. Tienermeisies tree nie eers so op nie.

Amandie van der Merwe ·

Is hierdie die mense wat kinders help opvoed? Rook? ‘n Gestamp aan mekaar? Ek dink hulle hoort self nog op skool !

piet ·

Maar nou ja, normale mense wat net uiting gee aan hulle frustasies, gelukkig die 1 werk nie meer daar nie. dink wat sy met jou brat gaan doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.