Twee treine is Donderdagaand omstreeks 22:00 naby Pretoria aan die brand gesteek.
Lillian Mofokeng, Metrorail se woordvoerder, sê vyf passasierswaens is by die Kopanong-stasie aan die brand gesteek. ʼn Ander treintrok is in Akasia aan die brand gesteek. Albei treine was na Mabopane, noord van Pretoria, onderweg.
Mofokeng sê die oorsaak van die brande is nog nie bekend nie en dat verskeie ander treintrokke deur vandale beskadig is. Niemand is in die voorvalle beseer nie. Die polisie ondersoek die saak. Treindienste in die Mabopane-gebied is tot verdere kennisgewing opgeskort en pendelaars word aangeraai om alternatiewe vervoerplanne te maak.