10-jarige pak ‘Everest’ van swem vir liefdadigheid

(Foto: Facebook via Abriella Bredell)

Abriella Indigo Bredell, ʼn 10-jarige meisie van Jeffreysbaai, beoog om in Desember die jongste mens ter wêreld te word om die sowat 8 km tussen Robbeneiland en Bloubergstrand te swem.

Abriella is ʼn leerder aan die Victory Christian School in Jeffreysbaai en swem al vandat sy twee jaar oud is. Sy wou graag iets besonders doen vir haarself en vir die kinders van die Rooikruis Kinderhospitaal.

“Ek het die idee gehad om hierdie swem te doen omdat ek geld wou insamel vir die hospitaal. Ek het toe met my swemafrigter gepraat en hy het gesê hy dink ek sal dit kan doen en ook die rekord verbeter vir die jongste mens ter wêreld om dié swem te voltooi,” sê sy.

Dié swem in die yskoue oopsee word beskou as die ‘Everest’ van oopsee-swem. Abriella sal yskoue water, gevaarlike seediere, ʼn besige skeepsroete, groot golwe en sterk wind tydens haar rekordpoging moet oorkom.

Presies wanneer in Desember Abriella dié swemroete sal aanpak, is nog nie bevestig nie, omdat dit afhang van die weer en getye.

Abriella sê hoewel daar al baie uitdagings was, is die watertemperatuur vir haar die grootste aanpassing. “Dit was aan die begin baie moeilik om gewoond te raak aan die koue water, maar dit is darem nou al ʼn bietjie beter. Ek oefen nou gereeld in Bloubergstrand, so dit help my om aan die water gewoond te raak.”

Abriella se oefenprogram behels dat sy ses dae per week swem. “Ek doen nou drie oopwater-swemoefeninge per week in die Marina Martinique in Jeffreysbaai, en dan ook drie swembadoefeninge saam met Maria Holms. Voordat ek vir die uitdaging begin oefen het, het ek slegs drie keer per week geswem.”

Abriella se ma, Lauryn Bredell, sê sy was nie verbaas toe sy hoor Abriella wil dié swem aanpak nie, maar eerder bekommerd oor die gevare wat dit inhou.

“Ek het vir haar al die haai-flieks laat kyk en was bekommerd oor die haaie rondom Robbeneiland. Maar dit is asof Abriella net nie bang is vir hulle nie. Sy ry gereeld branderplank hier in Jeffreysbaai, en dan is sy ook nie bang nie,” sê sy.

Abriella beoog om R2 miljoen in te samel vir die Rooikruis Kinderhospitaal omdat dit haar gunstelingorganisasie is. Sy het reeds meer as R38 000 ingesamel.

“Ek wil die geld spesifiek vir dié organisasie insamel omdat ek wéét die geld gaan direk na die kinders toe. Kinders wat in hierdie hospitaal inkom, is altyd gelukkiger en gesonder as hulle daar uitkom. Die geld sal help om die waakeenheid van die hospitaal te voltooi.

“Wanneer ek groot is, sal ek graag ook by dié hospitaal wil werk. Ek weet nog nie watter werk nie, maar ek wil net help om die kinders gelukkig te maak.”

 

Besoek Abriella se webtuiste: http://abriellabredell.co.za/, of Facebookblad: https://www.facebook.com/abriellabredell/, of gaan na https://www.backabuddy.co.za/champion/project/abriella-bredell om by te dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

E ·

Mooi idee. Ons hou duimvas alles verloop volgens plan. Sterkte!!

Tarina ·

You go Girl…. mag alles baie goed afloop – hoop om n opvolg te kry dat jy die rekort verbreek het en al daardie ander kleine mensies se lewe verhelder het. Baie dierbaar van jou Abriella

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.