10111-staking opgeskort

Argieffoto: https://pixabay.com

Die staking deur personeel by die polisie se 10111-inbelsentrums is opgeskort.

Oscar Skommere, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (Sapu), het Vrydag aan Maroela Media bevestig die staking is verby en dat die vakbond opnuut planne gaan beraam sodat die polisiebestuur aan die eise van sy lede voldoen.

Sapu se lede het in Augustus voltyds begin staak onder meer om hoër salarisse te eis. Skommere het gesê al is die staking verby sal hulle steeds beter salarisse by die bedingingsraad eis.

Die arbeidshof in Johannesburg het Donderdag uitspraak gelewer in ʼn aansoek van Sapu om die polisiebestuur te verhoed om tugstappe te doen teen sy stakende lede.

Die hof het bevestig die ooreenkoms wat in September tussen die Veiligheidsektorbedingingsraad (SSSBC), waarvan Popcru die meerderheidsvakbond is, en die polisie onderteken is, geldig is. Hoewel Sapu nie die ooreenkoms onderteken het nie, is die ooreenkoms afdwingbaar en die staking onbeskermd verklaar. Die hof het ook bevind dat die polisie wel die reg het om tugstappe te doen teen werkers wat nie op 29 September teruggekeer het na hul werk nie.

Die arbeidshof het Sapu se dringende aansoek vir dié interdik met koste van die hand gewys.

Die polisie het ná die uitspraak die hof se besluit verwelkom. Die polisiebestuur het ʼn beroep op oorblywende stakers landwyd gedoen om terug te keer werk toe. Die oorblywende werkers sal na verwagting Maandag terugkeer werk toe.

Maroela Media het vroeër berig operateurs beweer dat hulle R100 000 per jaar verdien en erg oorwerk is. Sentrums is volgens hulle ook onderbeman. Dit beteken dat sommige noodoproepe nie opgevolg word nie omdat werkers skofte van tien tot 12 uur moet werk. Die vakbond eis dat die SAPD-werkers se salarisse met twee vlakke verhoog word, ʼn geraamde verhoging van R50 000 per jaar. Geskille ten opsigte van betaling en werksomstandighede sloer sedert 2013.

Lees die vorige berigte oor die 10111-staking op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

RC ·

Daar is ongelooflik baie mense wat nie meer 10111 skakel want hulle skree op mense. As jy Afrikaans praat weier hulle om met jou te praat en skree dat jy Engels moet praat. Hulle is onbeskof en nie baie behulpsaam nie. Ek skakel eerder my sekuriteits maatskappy.

Zach Coetzee ·

My ondervinding s dat die oproepsentrum aggressief selektief diens lewer. Veral as dit deurskemer dat jy Afrikaans is. 3 maal bloutjies in nood-omstandighede geloop. Die graad van onbegrip is asemrowend (aspris?) met onbenullige ontoepaslike aandrang op insette sonder enige erkenning van die feite reeds aangebied. Al werk hulle staak hulle effektief!

Anelle ·

Hulle is al lankal op ‘n “slow go”. ‘N mens bel 10111 in ‘n noodgeval. Dit neem ‘n mens ten minste 30 min om net die adres deur te gee. “As jy nie wil werk nie, bedank, maak plek vir die wat wil. Ek hoor al meer van gevalle waar mense probeer om ‘n saak aan te meld, maar hulle word deur beamptes aangeraai om liefs die saak te los. Daar moet mos gewerk word om sake op te los, en dit is lekkerder om In die middel van die somer met die verwarmer, op sy hoogste gestel, in die kantoor te sit.

Leahim ·

Totale mors van belastinggeld of hulle nou staak of werk niks gebeur in daardie departement

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.