Aanstelling van tweede Valke-hoof in KZN goedgekeur

Johan Booysen

Johan Booysen

Die sage van die geskorste hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Johan Booysen, het Donderdag ʼn wending geneem toe die nasionale kabinet aangekondig het dat hy die aanstelling van genl.maj. Isaiah Jabulani Zikhali in dieselfde pos goedgekeur het.

Zikhali is vroeër vanjaar deur Mthando Berning Ntlemeza, die omstrede hoof van die nasionale direktoraat vir prioriteitsondersoeke (die Valke) in die pos aangestel, alhoewel Booysen nie afgedank of na ʼn ander pos geskuif is nie.

Zikhali se aanstelling is nooit as ʼn waarnemende aanstelling beskryf nie, en die verklaring wat die kabinet Donderdag uitgereik het, beskryf ook nie die pos as ʼn waarnemende posisie nie.

Booysen is nie afgedank nie, maar is geskors na bewerings van korrupsie en rampokkery en dat hy ʼn groep bedryf het, bestaande uit lede van die Cato Manor- eenheid vir ernstige en gewelddadige misdaad, wat glo mense, veral taxi-base, doodgemaak het om finansiële belonings, medaljes en bevorderings te kry.

Die aanklagte, wat deur die voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Nomgcoba Jiba aanhangig gemaak is, is egter reeds in Februarie 2014 in die Durbanse hooggeregshof deur regter Trevor Gorven uit die hof gegooi.

Ntlemeza het daarna, ʼn paar dae nadat hy as die nasionale hoof van die Valke aangestel is, Booysen geskors.

Ntlemeza beweer Booysen en die mans, wat ʼn polisiebeampte se sluipmoord moes ondersoek, het ʼn geldelike beloning ontvang dat hulle ses onskuldige mans doodgeskiet het.

Dit is óók uit die Durbanse hooggeregshof gegooi, en regter Anton van Zyl het gesê daar is nie ʼn greintjie bewys dat dit die waarheid is nie, en het Ntlemeza se gedrag veroordeel.

Shaun Abrahams, huidige hoof van die nasionale vervolgingsgesag, het in Februarie vanjaar dieselfde aanklagte ingestel wat regter Gorven uitgegooi het.

Pogings om met Musa Zondi, woordvoerder vir polisieminister Nathi Nhleko kontak te maak, was nie suksesvol nie.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het op die vraag, of die Valke nou twee persone in dieselfde pos aangestel het, gesê Booysen is nooit in die pos aangestel nie. “Hy was die waarnemende hoof van die Valke, Daar was nooit so ʼn struktuur nie. Hy is nooit aangestel nie.”

Booysen bevraagteken egter Mulaudzi se uitlatings. “Die pos is geadverteer as die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal. Ek het aansoek gedoen vir die pos. Ek was op ʼn kortlys en is daarna aangestel,” het Booysen gesê.

Lees alle vorige berigte oor Johan Booysen op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ashlee ·

Die Valke. Wat n grap. Waarom nie die bokke nie, renosters of dalk aardvarke!! Hoe ookal, Trompie en die boksom bende het ook drome gedroom. Belaglik. Voortaan rooies, hier kom Suid- Afrika se FBI!!

jaco ·

So Booysen is eintlik maar net geskors en met iemand anders vervang NET omdat sy velkleur wit is

My opinie ·

Ek wil nie die raskaart februik nie, maar dit wil vir my voorkom asof dit presies is wat hier gebeur. Van wanneer af is enige instansie of persoon bó die hooggeregshof beslissings verhewe? Dom vraag…..solank zuma en kie in die belangrike stoele sit.

Carol ·

Sterkte Johan Die wiel begin nou spin. Een van die dae gaan jy net velle sien waai. Die toesmeerdery van hulle sal naderhand soos n groot sweer oopbars.

Lucas ·

Ja watter grap en skande is die genoemde narre nie vir die land nie. Sterkte vorentoe Generaal Booysen. Mag daar ‘n rustige aftrede eendag op jou wag want nou gee die onbevoegdes jou net probleme!

Max Berg ·

U moet ook in gedagte hou die polisie en die Valke het n ernstige tekort aan menslike hulpbronne en fondse. So byvoorbeeld is die aanklagte kantoor sersant van dag n kolonel ens. Daar om stel hulle twee generaals in een pos aan. As die damvlakke te laag is bou ons kleiner damme .

Pieter Ellis ·

Die rampokery van ANCircus kry nie einde nie. meer as ses hof uitsprake was in die guns van Booysen, maar weereens word die hofuitspraak as n aanduiding in plaas van n bevel deur die gespuis gesien. Dit is verstommend om te sien dat een man n hele stelsel in duie kan laat stort. En daar is net een rede daarvoor – omdat wandade nie onmiddelik vervolg en gestraf word nie, hou mense eenvoudig aan om verkeerd te doen – Hooglied 8:11.

callie ·

Die valke pos is nou ook waar Zuma dit wil he. Die openbare beskermer is ook nou in sy sak. Dit is nog net Pravin Gordon. Wie gaan Zuma nou probeer stop om soos Mugabe nog vir jare die Staatsprisedent te wees. Slegs met geweld sal Zuma uit sy pos gehaal word. Onthou hy het die SAP en die Weermag ook in sy sak. Hy het 2 keuses, bly as staatspresident aan en uit die tronk of kry amnestie deur regte persone in kritieke posisies. Watch this space

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.