Die Aardklop-toekennings, wat die beste skrywers en akteurs by dié jaar se Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom vereer, is Vrydagaand uitgedeel.
Alexa Strachan, Aardklop-feesbestuurder, is tydens dié geleentheid vir ʼn tweede agtereenvolgende jaar luidkeels toegejuig vir die besonderse sukses wat dié fees behaal het nadat die fees se oorlewing in 2016 as ʼn “wonderwerk” beskryf is – soos Strachan self daarna verwys.
Twee ekstra kategorieë is by vanjaar se toekennings gevoeg; die “Hartsvriende beste produksie” en die beste uitstalling.
Die verhoogproduksie Melk & Vleis, die eerste resultaat uit die teksmark wat verlede jaar in Kaapstad aangebied is, het volgens die Aardklop-paneel bo meeste ander produksies uitgetroon. Illse Roos, Paul du Toit, Nomkhita Bavuma en Sesethu Zamxaka is in dié produksie te sien wat met altesaam vyf van die sewe toekennings weggestap het.
Melk & vleis is nog op 8 Oktober op Aardklop te sien in die Weet-en-Sweet-lokaal op die NWU se Potchefstroom-kampus. Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Lees ook Maroela Media se resensie oor dié produksie.
Hier is die wenners:
Beste aktrise
Illse Roos (Melk & Vleis)
Beste akteur
Paul du Toit (Melk & Vleis)
Aardklop beste regisseur
Marthinus Basson (Melk & Vleis)
Aardklop beste algehele aanbieding
Melk & Vleis
ATKV – Aardklop-toekenning vir grensverskuiwende werk</strong
Marina Albertyn (Teks: Melk & Vleis)
Visuele kuns: Beste uitstalling
SNAKE EYES 2.0 van The Found Collective
Hartsvriende – Beste produksie
Weerkaats met Milan Murray
Baie geluk en voorspoed met volgende jaar se skou.