AfriForum gereed om appèlaansoek in taalsaak te steun

court-hammer_thumbDie burgerregte-organisasie AfriForum het sy teleurstelling uitgespreek met die gelykheidshof se uitspraak waarin die taalaktivis Cerneels Lourens se aansoek dat die staat wetgewing in al elf amptelike tale beskikbaar moet stel, van die hand gewys is.

AfriForum het Lourens egter gelukgewens vir die inisiatief om die saak aanhangig te maak en daardeur die belang van taalregte in die kollig te plaas. Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir taalkwessies, sal AfriForum Lourens se aansoek om appèl steun.

“Ons standpunt bly dat burgers die reg het om wetgewing in al elf amptelike tale te kan bestudeer. Tans het 49-miljoen Suid-Afrikaners, insluitend sowat 7-miljoen Afrikaanssprekendes, nie die voorreg met alle wetgewing nie. Hulle moet staatmaak op vertalings wat nie amptelike status het nie. Vertaalfoute in nie-amptelike vertalings kan hulle duur te staan kom en meer as hulle taalregte bedreig,” het sy verduidelik.
“AfriForum loof Lourens vir die aansoek wat bewys het dat die vertaling van wetgewing in elf tale nie onbekostigbaar of onuitvoerbaar is nie. Internasionaal is dit ʼn aanvaarde praktyk. Die EU stel wetgewing selfs in meer as twintig tale beskikbaar.”

Volgens Bailey was die reaksie op die saak en uitspraak oorweldigend. “Nie net uit die Afrikaanse gemeenskap nie, maar ook uit die ander nege Suid-Afrikaanse taalgroepe is steun vir die saak ontvang. Dit het veel vermag om Suid-Afrikaners van hulle taalregte bewus te maak.”

“In ʼn demokrasie waar kultuur- en taalverskille ʼn integrale deel van die sosiale orde vorm, kan die erkenning van taalregte en gelyke behandeling van alle amptelike tale juis wedersydse respek en stabiliteit bevorder. Die feit dat Engels tans die enigste taal is waarin alle wetgewing verskyn, kan die gevoel van legitimiteit en deelname aan die staat onder die sprekers van die ander tien tale verskraal. Ons hoop ʼn appèlsaak sal slaag en die onverkwiklike situasie omkeer,” het Bailey gesê.

Lees ook:
Nuuskommentaar: Elf amptelike tale ’n werklikheid of klug?
Taalsaak: Wetgewing hoef nie in 11 tale te wees nie
Uitspraak in taalhofsaak vandag verwag
Video: Taalaktivis hof toe vir wetgewing in al elf landstale

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.