Afrikaans 90: Jongmense getuig oor liefde vir die taal

afrikaans 90Terwyl doemprofete meen dat die voortbestaan van Afrikaans aan ’n draadjie hang, het meer as 100 jongmense in video- en stemboodskappe hul liefde vir Afrikaans betuig en daardeur die teendeel bewys. Dié boodskappe is ingesamel deur Kraal Uitgewers, die uitgewersmaatskappy van die Solidariteit Beweging, as deel van die eeufeesviering van Afrikaans as skooltaal (wat in 2014 gedenk is), en die 90ste herdenking van Afrikaans as amptelike taal.

Dié boodskappe sal op 10 Oktober vir bewaring aan die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl oorhandig word. Die oorhandiging val saam met die museum en Taalmonument se 40ste verjaardagvieringe.

Volgens Ilze Nieuwoudt, publikasiebestuurder van Kraal Uitgewers, is jongmense verlede jaar genooi om hul positiewe boodskappe oor Afrikaans in te stuur. Die projek het saamgeval met die bekendstelling van Kraal Uitgewers se publikasie van die boek Ons gaan ʼn taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare wat geskryf is deur die bekende Afrikaanse skrywer, Jaap Steyn.

“Jongmense van heinde en verre se boodskappe is in hierdie geskiedkundige pakkie ingesluit. Boodskappe wat spreek van ’n liefde vir Afrikaans is ontvang vanuit Nelspruit in die ooste, Makwassie in die weste, Pretoria in die noorde en Swellendam in die suide. Hoërskool-, laerskool- en selfs voorskoolse leerlinge (die jongste is slegs vyf jaar oud) het hul boodskappe ingestuur. Elke boodskap is uniek, maar ’n goue draad is daarin sigbaar en vertel van ’n generasie wat trots is daarop om dié taal te praat, ’n generasie wat droom, dig én grappies maak in Afrikaans,” verduidelik Nieuwoudt.

Die insameling van die boodskappe is op ’n vars en moderne wyse gedoen, deurdat jongmense boodskappe per e-pos, SMS en deur WhatsApp ingestuur het. Individue en groepe het hul video- en stemboodskappe ingestuur en uiteindelik is die boodskappe van 105 entoesiastiese en passievolle jongmense in 59 afsonderlike video’s en opnames saamgestel.

As deel van die projek het Kraal Uitgewers, met die samewerking van beoordelaars van AfriForum, Akademia en Maroela Media, die wenboodskap aangewys. Die 13-jarige Portia Bonthuys van Makwassie het met haar boodskap ’n R1 000-geskenkbewys van Kraal Uitgewers gewen. In haar boodskap getuig sy onomwonde oor haar passie vir Afrikaans: “Afrikaans is verruklik, verstommend en vol verrassings. Ek is smoorverlief op Afrikaans. Watter ander taal het soveel juweeltjies? Knormoer, kotiljons, makietie en roesemoes. Skitterblink diamante. Onmiskenbaar Afrikaans. Ons kanniedood, lieflike Afrikaans.”

Maroela Media se lesers het ook vir hul gunstelingboodskap gestem en Marialta Potgieter van Laerskool Menlopark is as die lesersgunsteling aangewys. Sy het R500 kontant gewen.

“Afrikaans was 90 jaar gelede net so lewend en dinamies as wat dit vandag is,” sê Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media. “Vandag lyk ons taal heeltemal anders, maar die hart daarvan het dieselfde gebly. Maroela Media was met trots deel van hierdie projek, waarmee Kraal Uitgewers as’t ware 2015-Afrikaans ‘bottel’, om seker te maak dat Afrikaanssprekendes oor 100 jaar van nou af hulself kan herken in dit wat nou gedokumenteer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Interessant hoe daar elke nou en dan artikels soos hierdie verskyn wat enige kommer oor Afrikaans belaglik wil laat lyk. Let op die gebruik van die woord “doemprofete”. Bekommerde Afrikaanssprekendes is intelligent genoeg om te besef hoe belangrik die akademiese gebruik van ‘n moedertaal is, maar word gereeld “doemprofete” of “taalbulle” genoem.

Natuurlik sal Afrikaans nooit heeltemal uitsterf terwyl dit gepraat, gesing en geskryf word nie, net soos al die swart tale ook voortleef sonder skole en universiteite. Maar dis tog nie genoeg nie, of is dit? Hierdie jongmense is “genooi” om positiewe boodskappe te stuur, maar moet dalk spontaan begin boodskappe stuur aan die regering en universiteitsrade as hulle werklik so lief is vir Afrikaans. Op akademiese vlak boer die taal agteruit of die skrywer van die stuk dit nou wil glo of nie.

Sue ·

Kon dit nie beter gestel het nie! Jou kommetaar is 100% in die kol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.