Afrikaanse skole bly baken van hoop

hugo-vermeulen-hh-sos

Hugo Vermeulen, die hoof van Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum. Foto: Verskaf.

Indien die probleme rondom wiskunde-onderrig voortduur, sal net twee gr. 1-leerders uit elke klas van 35 kinders, wat môre hul skoolloopbaan afskop, daarin slaag om meer as 40% in dié vak in matriek te behaal.

Solidariteit Helpende Hand se skole-ondersteuningsentrum het Dinsdag sy verslag bekendgestel waarin die sentrum die uitslae van wiskunde, Afrikaans moedertaal, fisiese wetenskap en rekeningkunde in Afrikaanse skole ontleed het.

Hugo Vermeulen, hoof van die sentrum, het weereens sy kommer oor die stand van nasionale wiskunde-onderrig uitgespreek. “Net 51% van ons matrieks het wiskunde geslaag en dit beteken 49% van die leerders kon nie slaag om eens 30% vir die vak te behaal nie.

“Boonop kon 66,5% van die leerders nie daarin slaag om meer as 40% vir die vak te behaal nie, terwyl dit een van die vakke is wat opwaarts aangepas is. Verder het leerlinge, wie se moedertaal nie Engels of Afrikaans is nie, outomaties ʼn verder 3% gekry omdat hulle die vraestel in hul tweede of derde taal moes aflê. Net 1,3% van alle leerders wat wiskunde in matriek geslaag het, het ʼn onderskeiding behaal.”

Vermeulen het ook die groot fokus op ʼn vak soos wiskunde verklaar. “Wiskunde bly ʼn belangrike vak, want dit is noodsaaklik vir probleemoplossing. Hoe beter jy in wiskunde vaar en hoe meer blootstelling jy aan die vak kry, hoe beter is jou probleemoplossingsvaardighede. Meer kinders moet wiskunde neem en slaag terwille van die toekoms van hierdie land.”

Die gehalte van onderrig by Afrikaanse skole bly egter ʼn baken van hoop. Die 721 Afrikaanse skole het vir nie minder as 31,9% van die onderskeidings in wiskunde gesorg nie. Die groep verteenwoordig slegs 10,6% van al die skole wat verlede jaar se matriekeksamen afgelê het.

“In Afrikaanse skole sal 20 leerders in ʼn klas van 35 in gr. 1 die kans staan om meer as 40% in wiskunde te behaal as hulle die matriekeksamen skryf,” het Vermeulen gesê. Die sentrum beskou ʼn Afrikaanse skool as ʼn skool wat Afrikaans op moedertaalvlak aanbied.

Volgens die verslag het die Hoërskool Menlopark in Pretoria die beste gevaar in wiskunde, rekeningkunde en fisiese wetenskap. In die tweede plek is Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch, gevolg deur Westville Boys High in KwaZulu Natal. Die Afrikaanse Hoër Meisieskool, Hoër Meisieskool Bloemhof en Afrikaanse Hoër Seunskool was die ander Afrikaanse skole uit die top sewe skole wat die meeste onderskeidings in die vakke behaal het.

Vermeulen meen egter hoewel die meeste van die presterende skole in stedelike gebiede is, beteken dit nie landelike skole kan nie ook in hierdie vakke presteer nie.

“Thengwe Secondary School en Mbilwe Secondary School, beide Venda-skole in Limpopo, slaag nou al verskeie jare daarin om onderskeidelik die 14de en 15de meeste onderskeidings in fisiese wetenskap op te lewer. Hierdie skole is kwintiel 2-skole. Hulle het nie geld nie, maar die skoolhoofde het leierskap geneem en die onderwysers is gedissiplineerd. Die leerders kry elke naweek en vakansie ekstra klasse.”

Vermeulen sê die prestasie van Afrikaanse skole moet die nodige erkenning kry. “Die skole lewer uitstaande prestasies ongeag uitdagings. Hul suksesse moet die bloudruk vir die res van die land wees.

“Hul prestasie is opnuut net weer ʼn bewys dat moedertaalonderrig die antwoord is vir beter matriekuitslae. Sotho- en Zulu-kinders het ook die reg om onderrig in hul moedertaal te ontvang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

John ·

Die probleem is: Hulle wil net die skoolgebou he. Hulle sal self die leerlinge en onderwysers verskaf. En steeds bly hoop dat ‘n skatkis vol skoolfonds iewers onder die vorige wit skoolhoof se kantoor begrawe le. Hulle bly ook woedend omdat veral die Wiskunde-onderwysers hul towerstaffies vir kits-prestasie saamgevat het (eintlik gesteel het) toe hulle uitgewerk is.
En na 12+ jaar verander die frustrasie in ‘n mite, genaamd wit-rassisme…

Johanna Botha ·

Nou hoekom wil Lasufi aan dit verander as dit soveel beter werk …hoekom iets regmaak wat nie gebreek is nie ? Is hy dan dom ?

Hehehe ·

Hehehe Helpende HANS? Hansie en Grietjie? lol . dit was nou snaaks.

Wirrim ·

Skerp Gerhard! Maar naas die Hans, die ander woord moet ook 2 woorde wees….

Landi Slatter ·

Dagsê Gerhard

Dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

JC ·

AFRIKAANS=PRESTASIE: VAN DIE Kaap (LEES: KAAPS/AFRIKAAPS) TOT IN Pietersburg!!

Skim ·

Hulle brand steeds na 22 jaar NA apartheid hulle EIE skole af waar daar nie afrikaans of iets vreemds of koloniaals op hulle afgedwing word nie. Onderwysers kom eers 09:00 skooltoe . en van die leerlinge glad nie, hulle gooi klip of steek bande aan die brand of rand onderwysers aan, verder is die DEPARTEMENT altyd laat met skoolboeke so teen September het die meeste bloedjies nog nie hulle handboeke nie . . so ja .. jy kan die perd tot by die water bring maar hom nie LAAT drink nie.

Adoons ·

Sou graag wou weet hoe word bepaal watter skool het die beste gevaar. Uit die berig lyk dit of dit bloot op grond van aantal onderskeidings bepaal word, maar dit sou tog gek wees (veral terwyl ons van wiskunde praat!) ‘n Skool (A) met 100 matrieks wat 95 wiskunde onderkeidings behaal, presteer tog sekerlik beter as ‘n skool (B) met 200 matrieks wat slegs tussen hulle 110 onderskeidings behaal. Is ek reg as ek sê volgens mnr Vermeulen se berekening het skool B beter gevaar as skool A omdat 110 meer is as 95?

Basson ·

Korrek Adoons. Relatief tot aantal ingeskrewe gr12 leerlinge het Meisieshoër Pretoria absoluut die meeste onderskeidings.

Alida ·

Die dwase verafsku ons taal en kan dit nie vat dat die afrikaanse kinders so goed presteer nie. Daar is nie-blanke leerders ook wat presteer. Kyk maar uit watter skole kom hulle.

Geliefd ·

My kinders in ‘n staatskool in Gauteng. Die skool is puik…admin puik…onderwysers puik….maar my kinders werk regtig hard….hulle is 11 maar word toe gegooi onder die werk….ek help hulle v gr 1 af …… 99 present v d ouers in ons skool. Ons kweek ‘n kultuur v huiswerk doen….hard leer…netjies werk……klaswerk is belangrik. My kinders presteer goed…maar hulle het aanmoediging en ondersteuning nodig. My huishulp se kleinseun is in gr 8 in ‘n skool in Gauteng….hy leer nooit…doen nooit take….kry nooit huiswerk….hy loop rond elke middag na skool…hulle het geen idee wat hy maak nie…

My kinders sit party aande tot 20:00 nig met leerwerk of huiswerk…

My kinders sal hopelik goeie matriekuitslae kry…tersiêre onderrig kry….suksesvol wees in ‘n loopbaan….agv die kultuur van pligsgetrou en hardwerkend wees…..nie omdat hulle blank is of in ‘n blanke skool is nie.

Onderrig vandag kom van twee kante af die skool en die huis…die druk is ongelooflik….

Anoniem ·

My ma het ons huishulp se dogter geskuif toe sy graad 8 toe gaan van haar staatskool (in Delft) tot die staat skool waar ek skool toe was . Syt ook v paar dae n week soms by ons kom bly sodat sy nie 04:00 hoef optestaan om betyds by skool tewees nie. Dan het my ma gesit en huiswerk en take met haar doen. Ek dink as elkeen wat in n bietjie meer bevoorregte posisie is kan uitreik om een ander kind te probeer aanmoedig of tewys dat iemand gee om oor sy toekoms…kan dit wonders verrig vir ‘n kind.

André Groenewald ·

As ek na die Afrikaans taalgebruik en spelling op Maroela Media Kommentaar kyk, (om nie eers van die redenasiestandaard te praat nie) is daar nog ‘n vak in Nasionale krisis: Afrikaans Huistaal. Is hierdie produkte van ‘n swak wordende standaard? Die verslag is eensydig en gaan mank aan veralgemenings. Van hoeveel propvol Afrikaansmediumskole wat gedwing is om ook Engels as onderrigtaal te implementeer, weet jy? Ek weet wel van halfvol skole wat vasklou aan enkelmediumonderrig en alle truuks in die boek en uit die boks probeer om dit so te hou. Die gevolge hiervan is vir almal duidelik om te sien: ‘n Afrikaansmediumskool wat verengels omdat besluitnemers te laat wakker word en die regte ding (probeer) doen. Afrikaansmediumskole oop vir alle bevolkingsgroepe – ekskuus? Sosio ekonomiese omstandighede se rol in onderwys word oorskat. Ekskuus?

Afrikaanse ouer ·

Hier aan die Suid kus is net een afrikaanse hoërskool, en die skool is pateties danksy die hoof wat geen benul het wat sy doen nie. Ons as ouers het nou ingespring om die skool se standaard weer te kry waar dit was voor sy as skoolhoof aangestel is. Dis n skande hoe die skool agteruit gegaan het. Ons as ouer moet probeer n verskil maak met soveel teenkanting van die skool. Met n wiskunde graad gem van 31% staan ons afrikaanse kinders nie n kans nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.