Anika Smit-saak: Sielkundiges se mening oor Smiley verwag

André van Wyk vroeër in die hof. Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk (24), die man wat homself aan die polisie oorgegee het in verband met die opspraakwekkende grumoord op, verkragting asook liggaamskending van Anika Smit (17) in 2010, verskyn Vrydag weer in hof.

Die voortslepende saak is in April in die Pretoria-Noord-landdroshof uitgestel sodat Van Wyk, wat onder sy vriende as Smiley bekend staan, vir sielkundige evaluasie kon gaan.

Adv. Corrie Nieuwenhuys, Van Wyk se regsverteenwoordiger, het destyds aan Maroela Media gesê die staat het ʼn aansoek gebring dat Van Wyk ook deur ʼn sielkundige ondersoek moet word. Hy het die sielkundige evaluasie by die Kgosi Mampuru II-gevangenis ondergaan, anders as die psigiatriese waarneming wat hy in Oktober verlede jaar by die Weskoppies-hospitaal moes ondergaan.

Daar is tydens dié psigiatriese waarneming bevind hy is geskik om verhoor te word.

Nieuwenhuys het gesê op aandrang van Van Wyk se ouers sou hulle ook ʼn private sielkundige aanstel om hom te ondersoek.

Landdros Pierre Wessels het beveel dat albei sielkundiges se verslae teen Vrydag se hofverskyning gereed moet wees.

Van Wyk is in aanhouding nadat sy borgtogaansoek op 3 Februarie geweier is.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor.

Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad.

Haar hande is nooit gevind nie.

Van Wyk het homself op 17 September verlede jaar aan die polisie oorgegee en aanvanklik skuld beken en later aangevoer hy was kort voordat hy homself aan die polisie oorgegee het besope en is gedreig om verantwoordelikheid vir Anika se moord te neem.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Simon ·

Hy’t geweet wat hy gedoen het, hyt homself oorgegee so hy het duidelik geweet, tyd om hom in n pit te gooi en van hom te vergeet daar onder

Catherine ·

Ek stem Simon, saam met jou. Hoekom het sy ouers nie opgetree toe hul merk hul kind is nie lekker by die kop nie? Hul’t gewag tot hy moor nou wil hul hom by sielkundige kry. Altyd net te laat.
Ouers as jul weet daar is iets nie gesond in jou kind, wat jul beter ken as enig iemand anders, se kop nie. Doen iets daaraan. Hoekom wag tot hy moor?

Magda ·

Stem saam – hoop die saak kom nou regtig tot n einde. Baie wrede moord gewees.

Alida ·

Die vent het homself oorgegee. Sluit hom toe en los die die sielkundiges hieruit. Hy weet wat hy gedoen het.

AP ·

Presies , ek wil net weet hoekom dra so vent n pak klere .. wie wil/moet hy beindruk sy gewete .. as hy een het , sal hom inhaal.

donovan ·

Gereg sal geskied… ek hoop net die polisie hou vol met hulle soeke na die regte moordenaar… My gevoel is dat die polisie begin klop het aan die regte deure in Sept laas jaar en die manetjie is onder die trok in gegooi om die speurders van koers te kry…

Gerhard ·

@donovan As jy wel reg is, moet die knaap wat nou in die hof is dieselfde toekoms kry as die werklike moordenaar, want hy steek dan iemand weg wat die dade gedoen het, en hy weet van alles, net so siek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.