Appèl oor Valke-hoof teruggetrek

Fikile Mbalula. Foto: ANA

Fikile Mbalula, die nuwe minister van polisie, het sy voorganger se aansoek om te appelleer teen ‘n beslissing rakende lt.genl. Berning Ntlemeza, hoof van die Valke, teruggetrek.

Vuyo Mhaga, Mbalula se woordvoerder, het in ‘n verklaring gesê Mbalula sal Donderdag met die topbestuur van die Valke vergader om hulle van sy besluit in te lig. “Die minister sal daarna ‘n mediakonferensie hou oor die aangeleentheid.” Volgens Mhaga het Mbalula vir Ntlemeza van sy besluit ingelig.

Nathi Nhleko, die voormalige minister van polisie, het verlede maand hofdokumente ingedien om te appelleer teen die hof se besluit dat sy aanstelling van Ntlemeza ter syde gestel moet word. Hy het die aansoek ingedien nadat die hooggeregshof in Pretoria beslis het Nhleko moet Ntlemeza se aanstelling ter syde stel. Die Helen Suzman-stigting (HSS) en Freedom Under Law (FUL) het die aansoek om Ntlemeza se aanstelling ter syde te laat stel ingedien.

Nhleko het Ntlemeza aangestel ten spyte daarvan dat regter Elias Matojane in Februarie 2015 bevind het Ntlemeza was “bevooroordeeld en oneerlik” en het nie oor “integriteit en eerbaarheid” beskik nie.

“Genl.maj. Ntlemeza is aangestel in die hoogste pos van die republiek se korrupsie-en-misdaadbestrydingseenheid, ondanks verdoemende geregtelike bevindinge wat sy integriteit, eerlikheid en toepaslikheid om hierdie amp te beklee, bevraagteken.

“Sowel die HSS as FUL meen, gegrond op die redes wat die kantoor van die minister [Nhleko] verskaf het, dat die geregtelike bevindinge nie enigsins, of behoorlik oorweeg is nie,” het die organisasies aangevoer.

Ntlemeza is in Desember 2014 deur Nhleko as waarnemende hoof van die Valke aangestel nadat Anwa Dramat as hoof van die Valke geskors is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

cor ·

So gaan hy nou weer een van guptas se lakeie aanstel wat hulle almal terwille sal wees.

Asjas ·

As ek so tussen die lyne lees, klink dit asof hy al die regte kwalifikasies het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.