Baatjies vas vir moord op vrou  

Carmellia Baatjies (Foto: Verskaf)

Die man wat gesoek is in verband met die moord op die 36-jarige Carmellia Baatjies van Breidbach buite King William’s Town is Saterdag in hegtenis geneem nadat hy homself aan die polisie oorgegee het.

Kapt. Siphokazi Mawisa, woordvoerder van die polisie, het gesê dié oorgawe kom nadat mense van die gemeenskap gedreig het om sy ma se huis af te brand. “Die verdagte is na die polisiestasie vergesel en in hegtenis geneem vir moord,” het Mawisa gesê.

Maroela Media het vroeër berig inwoners van dié Oos-Kaapse gemeenskap het glo aan die polisie gesê dat Iverno Baatjies verbind kan word met die spoorlose verdwyning van sy vrou, Carmellia. Sy is op 5 September as vermis aangemeld.

Volgens dié wenk is Baatjies na bewering deur haar man vermoor voordat hy dae later haar motor wou smous.

Mawisa sê Baatjies het glo Donderdag tydens ondervraging van die polisie weggehardloop, enkele oomblikke voordat die polisie op Carmellia se liggaam afgekom het.

“Die polisie het tydens die ondervraging grond onder die bed sien lê,” sê Mawisa. “Ons het daarna oor die grond uitgevra en versoek dat die man die bed oplig. Toe die polisie hom vra om in die grond te grawe, het hy weggehardloop.”

Sy sê Carmellia se liggaam is glo onder die bed in ʼn vlak graf gevind. “Dit is nog nie seker hoe sy vermoor is nie. Daar was geen bloed op die vrou se liggaam nie. ʼn Saak van moord is geopen en die ondersoek duur voort,” sê sy.

Mawisa het gesê Iverno Verino Baartjies en Brecht Victor (albei 33) se aansoeke om borgtog is Maandag in die King William’s Town-landdroshof uitgestel.

Die twee sal op 18 September weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.