Bejaarde kort veloorplanting ná honde hom verskeur

Tom Chapman. Foto: Verskaf

Oudsupt. Tom Chapman (74) gaan ʼn veloorplanting moet kry nadat twee van sy buurman se honde hom verlede Maandag buite sy huis in Pretoria se Moot-gebied aangeval en verskeur het.

“Dit gaan goed in die omstandighede. Hy moet weer binnekort na die operasiesaal gaan sodat sy wonde mooi skoongemaak kan word en hy sal ook ʼn veloorplanting moet kry. Sy ergste wond is op sy linkerbeen waar die weefsel van die been afgeruk is. Sy dokters sal vel van sy bobeen op die groot gat moet sit in ʼn poging om die wond gesond te kry,” het Lana Odendaal, Chapman se dogter, aan Maroela Media gesê.

Volgens Odendaal is daar steeds geen aanduiding hoe lank Chapman in die waakeenheid van die Eugene Marais-hospitaal behandel sal moet word nie. “Die heel belangrikste is om te keer dat daar infeksie in sy wonde kom. Sover kan ons nog net met lof van die hospitaal en die personeel daar praat. My pa is regtig in baie goeie hande en in die week wat hy reeds daar behandel word, het daar gelukkig nog nie infeksie ingetree nie.”

Maroela Media het verlede week berig Chapman, wat jare lank verbonde was aan die Pretoria-stadsraad se elektriese afdeling en wat nou saam met sy vrou, Francis (72), in Parktown Estate woon, moes Maandagoggend, half verlam, verwoed veg om die honde met sy werkende hand van sy gesig af weg te hou.

Die honde, van gemengde rasse, het vermoedelik uit ʼn omliggende buurman se erf ontsnap deur op bourommel te klouter en toe oor ʼn muur te spring.

Die honde is uiteindelik met ʼn tuingraaf verjaag, nadat die honde twee omstanders ook gebyt het. Die polisie moes die honde skiet nadat hulle verwilderd deur die buurt gehardloop het.

Dit is nog te vroeg om te bepaal of Chapman permanente skade opgedoen het, hoewel sy vrou vermoed dat, veral ná die beroerte, hy nou permanent van ʼn rolstoel afhanklik gaan wees.

Chapman word in die hospitaal deur sy vrou, vier kinders, hul eggenote en nege kleinkinders bygestaan.

Intussen het die honde se eienaar, ʼn dokter van Nigerië, met Francis in verbinding getree. “Hy het my ma gebel en verskoning gevra en gesê hy is regtig jammer oor wat gebeur het. Hy het ook onderneem om te help met enige onkoste. Hy het regtig opreg voorgekom en ook die bourommel op sy erf verwyder,” het Odendaal vroeër gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ronel ·

Die eienaar van die honde IS veronderstel om die mediese kostes te dek, maak nie saak hoe jammer hy is nie. My kind is deur honde gebyt terwyl hy fiets gery het en daai man moes ook al die mediese kostes dra. Sterkte Oom. Ek hoop oom herstel vinnig na die nare ondervinding

Cherokee ·

‘Hy sal help met enige onkoste’ …..hy is verantwoordelik vir àlle onkoste plus vergoeding vir pyn en leiding. Dit moet reg hanteer word.

Theresa ·

Was die wreedaardige diere dalk vir honde gevegte aangehou???

Theresa ·

Sjoe! Baie bly die man is nie dood gebyt nie! Klink na monsters! Was hierdie honde dalk vir honde gevegte gebruik?? Hul klink te wreedaardig om net bloot troeteldiere te wees.
Natuurlik moet die buurman alle onkoste dek. EN beslis trauma-, herstel-, en hulpmiddele, asook enige medikasie vir die nagevolge van die persoon. Jammer maak party goed net eenvoudig nie reg nie. Dis verblydend dat daar om verkoning gevra is. Maar staan asb. op jul regte vir die regte hantering van hierdie heeltemal onnodige gebeurtenis. Baie sterkte.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek is deur soiets en dit is WET dat jy die koste dra van die beseerde wat veroorsaak is deur jou hond of honde. Kan iemand nie vir die mense vertel wat hul wetlike voorregte is nie. En kyk jy na jou huispolis kan jy dit duidelik sien dat daar ‘n baie hoe versekeringsbedrag daarvoor is. My versekering is by Outsurance en hulle het sonder enige hoehaai alles betaal. Mense hou diere aan, is onverantwoordelik met hul diere-opleiding en versorging en dan moet ander daarvoor pa staan. Iemand moet die oom help.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.