Bekende sakevrou in Upington vermoor

Judith Redelinghuys (Foto: Facebook)

Inwoners van die Noord-Kaapse dorp Upington is in skok oor die moord op die bekende sakevrou Judith Redelinghuys.

Redelinghuys se dogter het Dinsdag op haar liggaam in die swembad by haar huis afgekom.

Sers. Omphile Masegela, woordvoerder van die polisie, sê die 71-jarige Redelinghuys se liggaam is Dinsdagmiddag omstreeks 13:00 in die swembad by haar huis in ’n woonkompleks langs die rivier op die dorp aangetref. Haar hande was agter haar rug vasgemaak.

“Sy kon nie haar ma in die hande kry nie en is toe na Redelinghuys se huis om ondersoek in te stel, waar sy haar ma toe in die swembad sien dryf het,” sê Masegela.

Sy het dadelik die polisie na die huis ontbied.

Masegela sê daar is geen tekens van gedwonge toegang tot die huis nie. Dit lyk of slegs Redelinghuys se selfoon en handsak in dié stadium vermis word.

Redelinghuys se man is jare gelede dood. Sy het die laaste paar jaar alleen in haar huis in dié woonkompleks langs die rivier gewoon.

Redelinghuys was van 1993 tot 2012 eienaar van die Woolworths-franchise op Upington. Van 1972 tot 1989 was sy die mede-eienaar van die Coca-Cola-botteleringsaanleg op die dorp.

Sy was ook betrokke by die ontwikkeling van die woonkompleks waar sy tot en met haar dood gewoon het.

Van die inwoners van Upington het Woensdagoggend aan Maroela Media gesê Redelinghuys se skielike dood laat ’n groot leemte op die dorp. Redelinghuys se dogter en haar man woon ook op die dorp, en Redelinghuys was die ouma van vier kleindogters.

’n Inwoner, wat anoniem wil bly, sê Redelinghuys het ook jaarliks gehelp om die balletkostuums vir haar kleindogters se konserte te maak.

“Sy was ’n liewe, vriendelike mens. Jy kon haar altyd deur ’n ring trek,” vertel dié inwoner. Sy is as ’n dinamiese vrou beskryf.

Masegela sê enigeen met inligting wat tot die inhegtenisneming van die skuldiges kan lei, kan konst. Vanessa van der Westhuizen by 082 495 4615 of 054 337 3400 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.