Besonderse foto’s kan borskankerstryd help

Charles en Louisa Donald saam met hul kinders (Foto: Louisafundraisinginitiative.com)

Die prentjiemooifoto’s van ’n Kaapstadse egpaar skets verskillende tonele: Proteas en orgideë in hul blomtydperk, die bont huisies langs die kus op St. James en vissersbote in die Struisbaai-hawe. Wat die foto’s egter nié sê nie, is dat die koper van só foto kan bydra tot ʼn vrou se stryd teen borskanker.

Charles en Louisa Donald, beroepsfotograwe van die Wes-Kaap, het onlangs ’n reeks van hul mooiste foto’s te koop beskikbaar gestel om sodoende geld te help insamel vir Louisa se stryd teen borskanker.

Charles het aan Maroela Media vertel sy vrou is in 2014 met borskanker gediagnoseer. Sedert haar diagnose het sy al reeds twee keer chemoterapie behandelings, bestraling en hormoonbehandeling ontvang, en moes sy ook ’n dubbele mastektomie ondergaan.

Ten spyte van dié aggressiewe behandeling, het die kanker ook intussen na haar organe versprei.

Charles sê die egpaar het nou besluit op alternatiewe behandelings om die kankerstryd finaal te oorwin.

“Dit gaan rof hier by ons,” vertel hy. “Ons is nou in ’n kritieke stadium. Haar lyf vat baie houe op die oomblik, en ons wil alles doen wat ons kan om die stryd finaal te oorwin. Ons is egter baie positief oor die toekoms en die alternatiewe behandelings.”

Die egpaar moes intussen saam met hul twee kinders (sewe en vier jaar oud) na Louisa se ouers verhuis omdat hulle baie hulp met die kinders benodig.

Louisa Donald (Foto: Charles en Louisa Donald)

Charles sê hy en Louisa het intensiewe navorsing oor verskeie behandelingsmetodes gedoen, maar het in dié stadium nog nie op ’n spesifieke behandeling besluit nie. Hy sê hulle was vandeesweek weer by die dokter, en die uitslae van dié toetse is nou ’n aanduiding dat Louisa gereed is vir die alternatiewe behandeling.

“Sy is Donderdag weer getoets, en die dokters het bevestig die kanker het in die laaste twee maande nie verder versprei nie. Dit is juis nou ’n goeie idee om met die behandeling te begin.”

Volgens dokters gaan dié behandeling die egpaar bykans R600 000 uit die sak jaag. Charles sê die mediese fondse betaal nie vir alternatiewe behandelings nie, maar dat dié behandeling hul enigste hoop is.

Die egpaar het daarom intussen ’n reeks van hul eie foto’s op ’n webwerf geplaas. Al die geld wat deur middel van dié foto’s gemaak word, gaan vir Louisa se kankerbehandeling.

“Louisa is ’n vegter en maak staat op God se genade. Sy sal hierdeur kom, maar ons het hulp daarmee nodig. Die foto’s het net ’n minimumskenkingsbedrag by omdat dit reeds duur is om dit te druk en na die koper te koerier. Maar ons waardeer enige hulp om dié stryd vir ons makliker te maak,” sê hy.

Kyk hier na die Donald-egpaar se foto’s. Besoek ook Louisafundraisinginitiative.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Alet ·

Ai, ek weet nie van alternatiewe behandeling wat kanker genees het nie. Ek kan verstaan dat mense sal gryp na enige iets wat moontlik kan help. Daar is baie mense wat adverteer en praat, en belowe …..Maar word mense nie juis so uitgebuit nie?

Ingrid ·

Ek stem saam, maar chemo kos geweldig baie, gee n misrabele lewens kwaliteit en is langtermyn ook maar onsuksesvol…..jy verloor meer as wat jy wen voel dit vir my…..maar tot ons self kanker het en moet besluite maak kan mens definitief nie vir iemand se wat die regte besluit is nie….baie sterkte vir die gesin

Middelburger ·

My hart gaan uit na die gesin. Net iemand of ‘n gesin wat dit al self ervaar het weet watse hel die siek persoon en die gesinslede deurgaan. Sterkte met jul pad vorentoe.

Sê maar net. ·

Mense julle moet die foto’s sien. Dit is ongelooflik mooi. Ek persoonlik dink God verwag dit van ons om alles in ons vermoë te doen om na ons liggame te kyk. Ons liggaam is immers ‘n tempel van God.
Kom ons help hulle ook soos wat ons soveel ander al gehelp het.

Peet ·

Ek jet een van die perspex fotos vestel en ontvang. Ongelooflike hoë kwaliteit vir korporatiewe kantoor gebruik.

JB ·

Baie baie sterkte! Alet ek is een van “daai” mense wat op alternatiewe behandeling doen en glo my dit werk. Ons het die Here gevra wat ons moet doen en volg Sy wil. 2 van my knoppe is weg en ander het geweldig gekrimp. Hulle het net daai woord gevat en dit vreesaanjaend gemaak. Gaan gerus You tube toe en kyk na Dr Loraine Day(sy was n trauma surgeon in Chicago en nou afgetree) en sy het alternatiewe metodes gevolg, 20 jaar al skoon, hare het letterlik soos n toring uit haar bors gestaan. Venus De Marco (venusdemarco.org) sy was stage 3 en hare was 10 x 9 cm en sy is al 8 jaar lank genees, ek het haar persoonlik ontmoet. Chris beat cancer is n ander webwerf, jou liggaam is n tempel van God en jy moet dit gesond hou. Dagga olie wat lyk soos swart teer werk fantasies asook CBD olie , groen groentes wat jy sap van maak ens ens. Op die einde van die dag is dit n besluit wat net jy en God kan neem en tot jy daar staan is dit maklik om te praat. Hulle het vir my gese die chemo se newe effekte is permanente skade aan jou hart spiere, jou binnegoed ens, jy gaan nie dood vd kanker nie maar van die newe effekte.

SARIE VAN HEERDEN ·

Kanker was ook die einde van my man nadat hy ook chemo sonder sukses gekry het. Borskankerbehandeling lewer goeie resultate, maar dis ook maar al. As ek weer ‘n kans sou kry sou ek my man altenatiewe behandeling gegee het maar die daggaolie was sover by almal wat ek geken het ‘n totale mislukking. Miskien moet ons maar getrou wees in dit wat ons eet en die eerste wat uitgeskakel moet word is SUIKER. Kanker groei op suiker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.