Bloem-handelaar helder oordag beroof

gauteng-rooftogte

Argieffoto.

Vyf voertuie is Maandag helder oordag tydens ʼn gewapende rooftog by ʼn motorhandelaar in Bloemfontein gebuit.

Brig. Sam Makhele, polisiewoordvoerder, het gesê die rooftog het teen 11:15 by ʼn handelaar in Oliver Tambostraat plaasgevind.

“Die bestuurder van die handelaar beweer hulle is deur sowat nege mans oorval. Hy is aanvanklik deur ʼn man genader wat gemaak het of hy ʼn voertuig wil koop,” het Makhele gesê. “Die ‘koper’ het skielik ʼn vuurwapen uitgepluk, dit op die bestuurder gerig en hom gedwing om op die grond te lê. Die res van die groep het van buite af in die gebou ingestorm en twee vroulike werkers in ʼn kantoor ingedwing.”

Die rowers het die vroue se hande en voete met kabelbinders vasgemaak. Die bestuurder is ook vasgebind. ʼn Vierde werker het tydens die voorval by die perseel opgedaag en is ook vasgebind.

“Die verdagtes het die inloopkluis se sleutels gevat, waarna hulle al die voertuie se sleutels en registrasiedokumente uit die kluis gevat het.”

Die verdagtes het in vyf voertuie, ʼn silwer BMW X3, ʼn wit Toyota Hilux, ʼn Toyota Fortuner, ʼn maroen Ford Ranger en ʼn silwer Kia, van die toneel gevlug. Hulle het ook twee beursies, drie selfone, ʼn rekenaar en die kringtelevisiestelsel se hardeskyf gesteel.

“Die bestuurder kon daarna daarin slaag om homself te bevry, waarna hy die ander werkers los gemaak en die polisie ontbied het.”

Die Parkweg-polisie het ʼn spesiale taakspan, onder leiding van genl.maj. Piet de Wet, saamgestel om die saak te ondersoek. Drie van die voertuie, die Fortuner, Hilux en Ranger, is later die dag verlate in Longstraat in Navalsig gevind.

Lt.genl. Lebeoana Tsumane, provinsiale polisiekommissaris, het gesê alhoewel niemand nog in verband met die rooftog in hegtenis geneem is nie, is die taakspan warm op die verdagtes se spoor.

“Ons sal onverpoosd werk om die ander twee voertuie op te spoor en te sorg dat die rowers agter tralies beland,” het Tsumane gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Leahim ·

Tipies polisie en hulle prioriteits bestuur ,taakmag onder leiding van n luit generaal om kar diewe te vang maar moord en erstige misdade kan jy maar lees kontak konst of ao met inligting daar is net geen strategiese bestuurs leiding in die polisie meer nie.

Boet Fasie ·

Die manne is baie goed ge-organiseerd en het gewoonlik al die inligting voor hulle die job doen. Gewoonlik is daar maar iemand wat vir hulle al die inligting gee van waar alles is en wanneer die beste tyd is vir hulle oefen lopie- Bly niemand het seer gekry.

Helen ·

Ai maar dis lekker in SA. Kom ons gaan shop vandag vie 4 nuwe voertuie sonder n sent. En sommer selfone ook! Asb Maroela hou ons op hoogte of hulle toe regtig gevang is?

Schalk van der Merwe ·

Geen taakspanne onder leiding van Generaals, wanneer ou weerlose mense op plase aangeval, gemartel en vermoor word nie. Dan moet die konstabel maar die job doen op sy eie. Duidelik is lewens minder werd as voertuie.

André ·

Dis nou waar dit sou help as die cctv deur ‘n derde party buite die perseel behartig was. Die opnemer is nie op die perseel nie. Dan sou die opname kon gebruik word om die misdadigers te identifiseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.