Boer sterf in noodlottige Pta-botsing

Martin van Eeden. Foto: Verskaf

Martin van Eeden. Foto: Verskaf

Martin van Eeden (42), ʼn mielieboer van die Zusterstroom-omgewing, noordoos van Bronkhorstspruit, is Dinsdagoggend dood toe ʼn bussie vol leerders van ʼn skool met spesiale behoeftes teen sy bakkie gebots het.

Die botsing het omstreeks 07:10 op die R25 buite Bronkhorstspruit plaasgevind. Die bussie, ʼn minibustaxi, het 24 gestremde leerders na hul skool geneem toe die botsing plaasgevind het.

Dirk Kitching, Van Eeden se vriend wat saam met hom boer, het Woensdag aan Maroela Media gesê hy was kort ná die ongeluk op die toneel nadat hy sy en Van Eeden se kinders by hul skool in Bronkhorstspruit afgelaai het.

Die bestuurder van die minibustaxi het Van Eeden se bakkie vermoedelik op ʼn blinde hoogte, net ná ʼn opdraande verbygesteek en Van Eeden se bakkie op sy regterdeur getref toe die taxi vermoedelik vir ʼn aankomende voertuig uitgeswaai het.

Van Eeden se bakkie en die taxi het ná die botsing gerol. Hy is op die toneel dood verklaar saam met ʼn meisie wat in die bussie was. Twee van die leerlinge was in ʼn kritieke toestand en een van hulle moes met ʼn Netcare 911-helikopter na ʼn hospitaal in Johannesburg geneem word.

Die res van die kinders het geringe tot matige beserings opgedoen. Die taxibestuurder is ook beseer en is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir behandeling.

Die meisie se naam en die naam van die skool is nog nie bekend gemaak nie.

Kapt. Marissa van der Merwe, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Van Eeden laat sy vrou, drie kinders, ouers en twee broers agter. Sy begrafnisreëlings is nog nie getref nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hannelie ·

Steek verby op ‘n blinde hoogte. Hoe onnosel en onverantwoordelik kan jy wees en dan vervoer jy nog kinders ook. Sterkte aan die twee families.

Santjie stoof ·

Ja…..
Ek moet liewer my mond hou anders oortree ek die nuwe wetgewing…. maar wragtag!!! ….

Uvonka ·

Santjie STOOF ek kan sommer hoor jy kook en wil ‘n hele string vonkwoorde uiter! My gevoelens presies!!!! Hoe uiters onnosel kan die bestuurder van die taxi wees!

Leonie ·

Ai dis verskriklik. Dit is so ‘n gevaarlike pad daai. Sterkte aan albei families en Rus in Vrede. So tragies….

T A Strydom ·

Nog ‘n voedselproduseerder daarmee heen, dit deur die ongeduld van ‘n motorbestuurder.

Buitestander ·

Waarom nie die taxi bestuurders nieop ‘n jaarlikse bassis vir gesondheid getoets word nie. Gesig en ander toestande nie?
Daar sterf jaarlik duisende een die hand van taxibestuurders.

Asjas ·

Geen toetse gaan help nie, nie eers bestuurslesensie jaarliks nie. Ek ry ook daai pad om elke oggend my kinders by Bronkhorstspruit skool af te laai. Hulle gaan net eenvoudig verby waar en wanneer hulle wil en as jy in die aankomende baan is, gooi hulle vir jou ligte om te se “gee pad”.

janneman ·

Dit gebeur daagliks op alle paaie, soliede sperstrepe dien geen doel meer nie. Mense kry nie meer behoorloke bestuursopleiding nie, net dit wat in die vraestelle gevra word, word aandag aan gegee, en elke leerling bestuurs besigheid het die vraestelle. Die res koop hulle lisensies eenvoudig, die pryse is al vasgestel R2500 vir B tot R5000 vir EC. Maar al wat aktief polisieering ontvang, is spoed, veiligheidsgordels en praat op selfone. Dis ook Engeland se fokus punte, toevallig gister gesien op BBC.

Asjas ·

In Bronkhorstspruit is verkeersbeamptes volop maar ons weet nou al presies waar hulle staan en wanneer. Plaas konsentreer hulle op probleem areas waar die Taxis net eenvoudig oor Rooi ligte en Stop strate jaag omdat hulle laat is, om nie te praat van die sirkel waar almal gou regs omskiet ipv links om ry nie!!
Stop by ‘n Stopstraat in die dorp en iemand jaag agter in jou vas.

not in wonderland ·

Dis nie strafbare manslag nie, maar moord – om so blatant die verkeersrëels te verontagsaam.

antoinette ·

Nog n pa wat sy kinders en familie agterlos dood deur nalatige bestuurder sulke drywers moet lewenslank tronk toe gestuur word.

Hendrik ·

dis nie nalatigheid nie. Dis moedswillig. Hulle jaag vir geld. Hulle taxi’s kry n doelwit om te bereik wat hul oë toedruk om geen sperstreep verkeerslik of gevaar raak te sien nie. Hoe meer geld hy kan inbring en hy met sy roekelose kanse die dag kan afsluit hoe meet het hy om mee te ka spog. Maak nie saak hoe streng die reels is om n lisesie te kry nie. Dit beteken niks want dit is by die deur uit sodra hy daardie daardie toets geslaag het Ek het nie n oplossing nie

Angelique ·

Dit is so bitter bitter onregverdig, onskuldige mense wat weg geneem is. Kinders wat sonder ń pa moet grootword. R.I.V swaer Martin. Jou plekkie op aarde is leeg maar nie in ons harte nie.

Theresa B ·

Ek kan nie meer kommentaar lewer nie. As ek dit stuur dan gee dit “error”. Sal maar met diè een weer probeer. Dalk is dit goed want alle berigte ontstel ‘n mens net. Mens kan niks aan onnoselgeit doen van die taxi bestuurders nie, maar wie betaal die prys. Onskuldige padverbruikers………………

Landi Slatter ·

Dagsê Theresa B

Dankie vir jou navraag! Ons het gister verstellings aan die webtuistse gemaak, en dit kon vir ‘n rukkie ‘n paar tegniese probleme veroorsaak het. Ons glo alles is nou weer in orde. Sal jy asseblief weer probeer en ons laat weet indien die probleem voortduur?

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Petro ·

Rus in Vrede swaerie Martin.. Mag Onse Vader jou vrou Elrika en kinders styf vas hou in die droewige tyd.. Sterkte vir die familie skoon familie vriende kollegas..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.