Breytenbach wis inhoud ‘op regsadvies’

Advokaat Glynnis Breytenbach. Foto: Werner Beukes/Sapa

Glynnis Breytenbach, voormalige staatsaanklaer en DA-LP, se regsverteenwoordiger het Woensdag aan die Pretoria-Noord-landdroshof gesê hy het op regsinligting staatgemaak toe hy sy kliënt aanbeveel het om dokumente op haar Nasionale Vervolgingsgesag- (NVG) skootrekenaar uit te wis.

Breytenbach en haar voormalige prokureur, Gerhard Wagenaar, staan tereg op aanklagte van oortreding van die NVG-wet en dwarsboming van die gereg nadat hulle na bewering werksverwante dokumente versnipper en private dokumente van haar werksrekenaar afgevee het.

Wagenaar was Woensdag in die getuiebank en het gesê dat hy vroeër advies aan Breytenbach gegee het omdat hy geglo het dit is haar grondwetlike reg om haar privaatheid te beskerm. Wagenaar het ʼn gedeelte uit ʼn regsboek genaamd Discipline Discharge and Human Rights voorgelees waarin daar verduidelik word oor ʼn hofuitspraak wat gemaak is rakende werknemers se privaatheid. Wagenaar het gesê hy het dié stuk gebruik om sy kliënt te adviseer.

“Werknemers het ʼn reg op privaatheid wat rekenaars wat deur hul werkgewer verskaf is betref, en in daardie saak is bevind as ʼn werkgewer deur private inligting op ʼn werknemer se rekenaar gaan, is dit ʼn oortreding van die grondwetlike reg tot privaatheid van die werknemer.”

Behalwe vir die dokumente wat Breytenbach glo versnipper het omdat sy dit as privaat geag het, het sy ook ʼn kopie van die inhoud van haar rekenaar laat maak in geval van manipulasie nadat sy rekenaar teruggegee het.

Wagenaar het, soos Breytenbach, beklemtoon dat die NVG in kennis gestel is van die uitwissing en kloning van inligting en hulle het nie ʼn probleem daarmee gehad nie.

Adv. Raymond Mathenjwa, die staatsaanklaer, het gesê die bewyse voor die hof dui daarop dat Wagenaar vir die NVG gesê het wat hulle moet doen en hulle was net toeskouers.

“Hulle was in ʼn posisie om te weier, maar hulle het saamgestem met wat gebeur. Sou hulle geweier het, sou ek die hooggeregshof met ʼn aansoek genader het,” het Wagenaar in reaksie hierop gesê.

Wagenaar het aan die hof gesê hy weet nie watter lêers Breytenbach uitgewis het nie en dat hy ook geen van die inhoud op die rekenaar onder oë gehad het nie. “Ek het Breytenbach advies gegee en sy het die besluit geneem oor wat uitgewis moes word,” het hy aan die hof gesê.

Mathenjwa het gesê volgens bewyse wat vroeër aan die hof voorgelê is, was daar meer as 41 lêers op die skootrekenaar, maar Breytenbach het ʼn kenner aangestel om 13 lêers permanent uit te wis. Die dokumente hou verband met ʼn saak oor mynregte waarby Imperial Crown Trading (ICT) en Kumba Iron Ore-filiaal, Sishen Iron Ore, betrokke is.

Breytenbach het herhaaldelik verduidelik sy het nie enige kriteria gebruik toe sy die lêers uitgewis het nie. Sy beweer sy het net dit uitgewis wat sy geglo het haar privaatheid skade sou berokken. Sy het ook gesê sy was versigtig vir die NVG in geval hulle met die inhoud op haar rekenaar sou peuter of dit sou manipuleer nadat sy die rekenaar ingehandig het.

“Dit is al voorheen gedoen,” het Breytenbach Dinsdag in die hof gesê.

Breytenbach is in 2012 uit die NVG geskors. Sy is onskuldig bevind op verskeie dissiplinêre aanklagte teen haar, maar het in 2014 uit die NVG bedank. Sy glo haar skorsing in April 2012 was ʼn poging om haar te verhoed om lt.genl. Richard Mdluli, voormalige hoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, te midde van politieke inmenging te vervolg.

Landdros Brian Nemavhidi het in Junie vir Breytenbach en Wagenaar vrygespreek op twee aanklagte van dwarsboming van die gereg in verband met die uitwissing van inligting op haar NVG-rekenaar terwyl sy in 2012 geskors was.

Die twee staan egter steeds tereg op vier oorblywende aanklagte van ʼn gedeelte van die NVG-wet, wat ongemagtigde toegang tot en wysiging van amptelike rekenaarinhoud verbied.

Die saak is tot 8 Desember uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.