Byna R1 miljard verlies vir SAUK in 2016/17

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die SAUK het Donderdag sy jaarverslag vir die 2016/2017 finansiële jaar bekend gemaak en bevestig dat die openbare uitsaaier ʼn netto verlies ná belasting van R977 miljoen gely het.

Die organisasie het gesê hy het finansiële beperkings beleef weens ʼn inkomstestroom wat verminder het teen ʼn koers van 6% hoër as die kostevermindering. Kontant en kontantekwivalente teen die einde van die 2016/17 finansiële jaar was R82 miljoen, in vergelyking met die vorige jaar se R881 miljoen. Die uitsaaier het gesê sy beduidende afname in kontantreserwes het gelei daartoe dat die SAUK nie sy skulde betyds kon betaal nie.

Inkomste vir die betrokke periode was R7,6 miljard, in vergelyking met R8,1 miljard in 2016, ʼn 6% afname jaar-op-jaar.

Die SAUK se primêre inkomstebron is advertensies wat met 5% gedaal het tot R5,6 miljard, en borgskapinkomste het ook met 18% gedaal tot R384 miljoen. Inkomste uit TV-lisensies het met 7% gedaal tot R915 miljoen.

Die uitsaaier het ʼn negatiewe ouditmening vir die betrokke periode ontvang. Onreëlmatige uitgawes is een van die faktore wat tot die negatiewe mening gelei het.

“Ons is natuurlik teleurgesteld met die finansiële prestasie vir die 2016/17 finansiële jaar,” het Nomsa Philiso, waarnemende uitvoerende groepshoof, gesê. “Ons word egter bemoedig deur die vordering wat gemaak is in die eerste kwartaal van die huidige finansiële jaar.”

Die openbare uitsaaier het tydens die betrokke finansiële jaar weggestap met verskeie pryse. Die SAUK het altesaam 31 radio-toekennings ontvang en SABC TV het ook met verskeie toekennings weggestap.

Die volledige jaarverslag is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jacques venter ·

Talle jong mense gebruik nie meer die SABC se dienste nie. Sosiale media soos Maroela en twitter verskaf al die nodige inligting.

Flieks en sport word ook sommer gestream. Iemand sê vir my jy kan selfs Springbok rugby wedstryde lewendig op jou rekenaar stream. Of selfs op jou Tv as dit internet kan ontvang.

Dit sal interessant wees as iemand stap vir stap hierdie proses kan verduidelik

Adam ·

Jacques, jy kan livetv.sx gebruik vir “live streaming” vir letterlik enige sport.

Chris Ws ·

Ek betaal my tv lisensie getrou al kyk ek al meer as 10 jaar na GEEN kanale van die SABC nie.Na regte hoord ‘n groot gedeelte van die R915miljoen aan DSTV /Multichoice oor betaal te word.
Dan die duisende informele nedersettings in die land waar geen tv lisensies betaal word nie en ook geen inspeksies gedoen word nie kan die inkomste uit lisensiegeld verdriedubbel word.

Jacques venter ·

Baie mense gebruik nie meer SABC se dienste nie.

Sport kan gestream word

Ander Annie ·

SAUK moet maar vir Mnr Cloudy ‘n rekening stuur vir die verlies. Hy pronk mos oor al sy goeie dade by die SAUK.

Riaan ·

Wel, hulle maak nog R915M uit lisensies so sal dit nie gou skrap nie. Persoonlik dink ek die konsep van n tv lisensie is lankal uitgedien. Ek kan mos nie help ek kan hulle kanale opvang nie? Hoekom my dwing om te betaal?

Eugene ·

Gee vir Nomsa n bonus en laat KPMG die syfers regruk vir 2018 met bq pensioengeld

Vryheid ·

Staatsinstansies sal nooit winsgewend wees nie. Die ou ou storie van korrupsie, selfveryking en zero produktiwiteit.

John ·

Die SAUK prys jaarliks sy eie stert met groot bravado op groot funksies en RSG se ouetehuis doen lekker saam en wen telkens die toekennings. Dit is ‘n inkrimpende ou suurlemoen met karakters wat glo hul name pryk in die jongste SA Who is Who? Om net na die nuus te luister is ‘n pynlike ervaring. Die programme is oud, die musiek van die swakste en die omroepers kaaps-teatraal.. Geen klassieke musiek of ten minste wereldklas ligte musiek nie; daarvoor wag mens tot voor middernag so gevaarlik is dit vir die jeug. Waar leer hulle meer oor klassieke musiek of simfoniee? Niemand sal stres as die RSG & kie van die eter verdwyn nie, behalwe die lepeldraers.

bgj van der westhuizen ·

wel hulle kan begin om hulle bestuurslede minde te betaal en die meeste mense in die land het dstv kyk maar net s jy by plakkers hutte verby ry hoeveel skottels is daar die sauk / saa / transnet en Eskom is almal staat eiendom wat swak bestuur word en wat in die rooi is almal mors net belasting betaler geld en almal van hulle bestuurslede moet gevra word is hulle bevoeg om die werk te doen

Alida ·

Hulle weet mos waar om die tekorte te gaan soek. Hoekom dit nog op die voorblaaie verkondig. SKANDE op SKANDE.

pieter ·

EK WIL GRAAG KOMMENTAAR LEWER,MAAR KAN NIE AAN IETS DOM GENOEG DINK OM TE SE NIE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.