Departement betaal toelaes aan NRO’s

geestesgesondheid

Foto: About.itriagehealth.com

Die Gautengse departement van gesondheid het toelaes van R34 miljoen aan 132 NRO’s betaal.

Gwen Ramokgopa, LUR vir gesondheid, het die aankondiging Woensdag tydens ʼn vergadering gemaak waar meer as 100 NRO-bestuurders en administrateurs teenwoordig was.

Vuyo Sabani, woordvoerder van die departement, het gesê die betaling is Dinsdagaand gemaak en sal op die laatste Vrydag in die NRO’s se bankrekeninge beskikbaar wees. Ramokgopa het tydens die vergadering om verskoning gevra vir die vertraging in die betaling van die toelaes en die NRO’s gemaan om aan die nuwe lisensievoorwaardes te voldoen.

“Uit die 132 NRO’s wat vir ernstige psigiatriese pasiënte sorg en ook dagsorggeriewe bestuur, het 60 al ten volle aan die nuwe, strenger lisensieuitreikingvoorwaardes voldoen en is daar amptelike lisensies aan hulle uitgereik,” het Sabani gesê.

Volgens hom sal daar in die oorgangsfase tydelike lisensies aan die NRO’s met uitstaande lisensievoorwaardes uitgereik word totdat al die nodige dokumente ingehandig is.

“Ek het julle almal genooi om na julle bekommernisse te luister en dit te verstaan. Die vertroue tussen die departement en die NRO’s is geskend, kom ons bou dit weer. Ons moet in ʼn bedeling kom waar daar sekerheid is, dat julle nie bekommerd is oor betalings nie en kan fokus op die pasiënte se sorg,” het Ramokgopa gesê.

Sy het bygevoeg sy heg waarde aan die verhouding wat die departement met die NRO’s het. “Ons gaan nie die verhouding verbreek nie. Ons wil die verhouding versterk ten bate van die pasiënte – die kwesbaarstes in die samelewing. As ons saamwerk, kan ons met goeie idees vorendag kom,” het Ramokgopa gesê.

Sy het bevestig daar is Dinsdagaand R2 128 842 aan die San Michelle NRO [wat regstappe gedoen het vir betaling ná hulle dit nie ontvang het nie] betaal. “Ons het met hulle gepraat en die redes vir die vertraging verduidelik.”

Sabani het verduidelik die nuwe lisensieuitreikingvoorwaardes is meer omvattend en verreikend en daar word afskrifte van lisensies en ander tersaaklike dokumente benodig.

Daar is ook op die vergadering ooreengekom dat daar ʼn werkswinkel gehou moet word juis vir die riglyne vir die lisensiëring van residensiële en dagsorggeriewe vir mense met verstandelike en intellektuele gestremdhede. Dié werkswinkel sal op 5 Julie in Johannesburg aangebied word.

Dit volg ná die DA vroeër gewaarsku het die heil van duisende psigiatriese en ander pasiënte in 160 NRO’s is onseker ná die Gautengse departement van gesondheid geld onttrek het oor “onredelike kennisgewing om streng nuwe lisensievoorwaardes” na te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marous ·

Twee disprins en een pakkie pleisters later dan is die geld weer op….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.