DG se skorsing onseker ná kabinetskommeling

Mkuseli Apleni, direkteur-generaal van binnelandse sake (Foto: ANA)

Mkuseli Apleni, die geskorste direkteur-generaal van binnelandse sake, se aansoek om sy skorsing te betwis het Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria voortgegaan ondanks pres. Jacob Zuma se onverwagse kabinetskommeling.

Zuma het Hlengiwe Mkhize met Ayanda Dlodlo as minister van binnelandse sake vervang. Ondanks die verandering veg Apleni steeds teen sy skorsing. Die hofverrigtinge was aan die gang toe Zuma die kabinetskommeling aangekondig het.

Apleni was skynbaar in ʼn positiewe luim ná die aankondiging, maar het dit duidelik gemaak dat hy nie kommentaar wil lewer voordat die hofverrigtinge nie voltooi is nie. Terwyl mense in die openbare galery oor Apleni se toekoms bespiegel het in die lig van Dlodlo se aanstelling, het regsargumente normaalweg voortgegaan.

Ná middagete het regter Hans Fabricius die stilte oor die kabinetskommeling verbreek en die partye gevra of die saak steeds relevant is in die lig van Mkhize se vervanging. “Sal dit enige verskil aan die aansoek maak? Sal die vertroue en ander kwessies nie nou wegval nie?” het Fabricius gevra.

Sy vraag is gestel nadat die grootste deel van die oggend in beslag geneem is deur Apleni se regspan wat die vertrouensbreuk tussen Mkhize en Apleni aan die hof uitgewys het. Daar is aangevoer hierdie vertrouensbreuk is die hoofrede vir sy skorsing.

Adv. William Mokhare SC het aan die hof gesê in die lig daarvan dat Mkhize nie meer die minister van binnelandse sake is nie, is sommige kwessies, veral die vertrouensprobleme, nie meer relevant nie.

Die regter het gesê die nuwe minister kan besluit om Apleni se skorsing ter syde te stel of sy kan ʼn ander siening van die saak hê as haar voorganger. “Die kwessies kan debatteerbaar raak. Ek wil nie tyd bestee aan ʼn uitspraak en dan val al hierdie kwessies in elk geval weg nie.”

Hy het die hof verdaag om Apleni se regspan die geleentheid te gee om te besluit of die aansoek moet voortgaan of nie. Mokhare was binne vyf minute terug en het gesê die regspan van die departement van binnelandse sake kon geen lig op die saak werp nie omdat hulle nog nie die nuwe minister gesien of met haar gepraat het nie. Hy het gesê hulle kan dus nie dadelik ʼn besluit oor die saak neem nie.

Mokhare het gesê daar is regskwessies waaroor daar in elk geval besluit moet word, maar hy het belowe om die regter in te lig indien die nuwe minister besluit om Apleni se skorsing op te hef.

Apleni het hom tot die hof gewend nadat Mkhize hom op 18 September voorlopig geskors het. Hy wil hê die hof moet sy skorsing omkeer en beveel dat hy weer aangestel word.

Uitspraak is voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.