Duisende wag nog vir plek in Gauteng-skole

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys. Foto: Lindi Masinga/ANA

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys. Foto: Lindi Masinga/ANA

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, het Donderdag gesê die lys van 58 000 leerders, wat aan die begin van die jaar nog gewag het om in skole in die provinsie geplaas te word, is intussen na 7 092 verminder.

Lesufi het tydens ʼn mediakonferensie, by die departement se kantoor in Johannesburg, gesê behalwe vir die leerders wat die aanlynaansoekstelsel gebruik het en nie dadelik geplaas kon word nie, was daar intussen ook 12 821 nuwe aansoeke.

“Ons is verlig dat ons die aantal leerders, wat steeds wag om geplaas te word, na 7 092 verminder het,” het hy gesê. Teen die tyd wat die skole vroeër vandeesmaand geopen het, was meer as 40 000 leerders op die waglys.

Lesufi het gesê hoewel hy tevrede is met die vordering wat gemaak is om die waglys te verkort, is dit jammer dat meer as 12 000 splinternuwe aansoeke in Januarie ontvang is. Hy het gesê die aansoeke is laat ingedien weens “maatskaplike kwessies”, aangesien ouers vroegtydig in kennis gestel is dat hulle betyds aanlyn moet aansoek doen, maar dit nie gedoen het nie.

“Hoekom los ons hierdie goed tot op die nippertjie? Die onderwysstelsel in Gauteng is onder druk.” Hy het gesê altesaam 3 930 gr. 1-leerders en 3 162 gr. 8-leerders uit die aanlynaansoeke is nog nie geplaas nie.

“Weens hierdie syfers moes ons skole oortuig om bykomende leerders in te neem. Oorbevolking in skole kan die onderrig raak, [maar] ons sal eerder die leerders binne die skoolperseel wil hê as buite.”

Twee hoërskole in Pretoria het vroeër vir ʼn hofinterdik aansoek gedoen om Lesufi te verhoed om meer leerders in hul skole te plaas. “Ek het met die Montana- en Overkruin-skole vergader en beide het ingestem om die leerders, wat aan hulle toegewys word, in te skryf en hulle het gesê hulle sal die nodige hulpbronne verskaf,” het Lesufi gesê. “Bykomende ondersteuning sal gegee word om die situasie in daardie gebied te hanteer.”

Lesufi het gesê as deel van die departement se ingryping sal 12 nuwe skole, wat in ʼn baie kort tyd gebou kan word, verskaf word. “ʼn Reuse aantal mense kom van ander provinsies na Gauteng en geen leerder sal weggewys word nie. Ons het empatie met ouers en wil hulle verseker ons sal alles in ons vermoë doen om vir die leerders plek te kry. Ons sal met al die betrokke regeringsdepartemente vergader om te verseker die situasie word opgelos.”

Hy het bygevoeg indien die aanlynaansoekstelsel nie op die been gebring is nie, sou die situasie nog erger gewees het. “Dit sou moeilik gewees het om die probleem vinnig te hanteer as ons papier gebruik het. Deur die aanlynstelsel was dit moontlik om dadelik te weet wie en waar die leerders is wat nog nie geplaas is nie.”

Lesufi het gesê totdat die aanlyn-aansoekproses vervolmaak is, sal dit slegs vir die registrasie van gr. 1- en gr. 8-leerders gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

peanut ·

Wat ek nie verstaan nie is; as hierdie tendens al die afgelope 10jaar+ met die Onderwys Dept. saamkom, HOEKOM????? is daar nie vroegtydig skole gedurende 2015 gebou, om hierdie kinders te akkommodeer nie?

Nou skielik kan dit ‘vinnig’ gedoen word, het Vader Tyd dan sy tempo verslap?

Alida ·

Peanut om by jou aan te sluit net dit: As die Dept so vroeg as 2004 die geboorte syfer nagegaan het moes hulle toe al skole begin bou vir 2010 se gr 1’s. En dit geld vir 2011 vir die oorlading in 2016. Die geld was daar. Waar is dit? Beplanning is nie op hulle prioriteitslys nie. Wat op aarde doen mens met sulke onbekwame mense? Dit gaan so in al die departemente.

Oud-leerling ·

Peanut en Alida, ek stem volkome saam. Beplanning en ‘n finansiële begroting is nie van belang. Daar word gewag totdat die ‘fan’ en die ‘paw paw’ bymekaar uitkom. Die bruin goete moet eers spat voordat daar reaksie kom, gewoonlik met ‘n ‘EISH!!’ Dit is ‘n werklike tragedie in Afrika. En gesinsbeplanning? EISH!!

Alida ·

Hoe bou mens 12 skole “vinnig”? Kan iemand my antwoord asb. Eerstens sal die tenders na die verkeerde mense toe gaan. Bou die skool halfpad en verdwyn met die geld. Dit is mos nie meer snaaks nie, is dit?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.