Dullstroom-plaasmoord: Verdagtes dán in hof

Foto: AfriForum

Foto: AfriForum

Die mans wat in hegtenis geneem is in verband met die gru-plaasaanval verlede naweek in Dullstroom, Mpumalanga, verskyn Maandag in die hof.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê vyf verdagtes is aanvanklik vir ondervraging ingeneem waarna drie mans, tussen 23 en 32 jaar oud, in hegtenis geneem is. Volgens Hlathi sal die verdagtes Maandag in die Belfast-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, huisroof, poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen. “Ons probeer ook tans vasstel of die verdagtes moontlik ook by ander misdade betrokke was.”

Maroela Media het vroeër berig die egpaar Sue Howarth en Robert Lynn is Sondag omstreeks 02:00 oorval op die plaas Marchlands, ongeveer 10 minute buite Dullstroom. Alan en Claire Taylor woon ook op die plaas.

David Spohr, Belfast se AfriForum-takvoorsitter, het vroeër gesê die egpare is albei in hul 60’s en oorspronklik van die Verenigde Koninkryk. “Hulle woon al minstens 30 jaar lank in Suid-Afrika. Hulle het nie kinders nie.”

Howarth is Dinsdagoggend in die Life Midmed-hospitaal in Middelburg dood.

Volgens Spohr het Howarth vermoedelik eerste wakker geword want sy was nie in die kamer toe Lynn wakker geword het nie. “Die aanvallers het geld geëis en toe Robert vir hulle sê daar is moontlik geld in ʼn ander vertrek, was Sue reeds erg aangerand in daardie vertrek.”

Spohr het gesê die aanvallers het met die egpaar weggery in hul Nissan Hi-Rider-bakkie. “Hulle het Robert geblinddoek in die bos afgelaai. Hy kon eers toe die son opkom homself loswikkel en na die pad stap, waar hy Sue langs die pad aangetref het.”

Volgens Spohr het motors verby die beseerde egpaar gery, maar nie stilgehou nie. ʼn Verbyganger het uiteindelik in Belfast hulp ontbied. “Personeel van ʼn veiligheidsmaatskappy het hulle na die toneel gehaas en die egpaar gevind. Daar was ʼn plastieksak in Sue se mond en sy het begin versmoor. Hulle is in ʼn ambulans na die Belfast-hospitaal geneem voordat hulle na die Life MidMed-hospitaal oorgeplaas is.”

Lynn het verskeie steekwonde aan sy rug en bene opgedoen en is vermoedelik ook met ʼn blaasvlam gebrand. Die Middelburg Observer het intussen berig Lynn en Howarth is albei ook tydens die aanval geskiet.

Volgens Spohr is die egpaar se skootrekenaars nie gesteel nie en ʼn goue borsspeld en ring was steeds langs die bad.

Spohr het gesê Lynn was ʼn ingenieur by Eskom en hy vermoed Howarth het by ʼn beleggingsmaatskappy gewerk voordat hulle afgetree en na Dullstroom verhuis het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Ek is net bly om te sien dat die klagstaat nou ‘n meer wyer verskyndenheid klagtes bevat, meer vollediger as die algemene tedens van so min as moontlik

snoefie ·

hopelik gaan die Boers ook opruk na die landroshof. swart poppe op die rug om solidariteit te betoon en te vra dat borgtog geweier word.

Leendert ·

Hoe hartseer dat sulke dinge met reëlmaat aan die orde van die dag in hierdie pap land van ons plaasvind. Maar, dan waarom, as hulle ‘n baie beter lewe in die tronk gaan ervaar as daarbuite, daaglikse kos, TV, ‘n dak oor hul koppe, sal tronkstraf hulle afskrik. Tronkstraf is vir baie ‘n uitkoms.

Theuns ·

Alle boere behoort sekuriteits wagte te he wat inwoon op die plase en wagstaan – veral gedurende die nag. Dit sal geld kos, maar dit is a dringende projek wat ontwikkel moet word. Ek is seker mense sal donasies maak vir dit. Daar sal moontlik selfs maatskappeie wees wat dit sal wil borg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.