E-tol: Waarheen nou met omstrede stelsel?

e-tol

Argieffoto.

Dit blyk dat Gautengse motoriste steeds met die ongewilde e-tolstelsel opgeskeep sal bly sit, al het die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) nou ook erken hy is in ʼn geldelike verknorsing.

Die agentskap het verlede week weer opnuut benadruk daar is geen planne om die e-tolstelsel in dié provinsie te skrap nie.

Sanral het tydens ʼn onderhoud met The Citizen in Augustus erken sy finansiële posisie is uiters benard aangesien miljoene motoriste steeds versuim om hulle e-tolrekeninge betaal. Die agentskap het gesê hy sal ten gunste wees van ʼn brandstofheffing om die skuld te delg.

Vusi Mona, woordvoerder van Sanral, het aan Fin24 gesê ʼn brandstofheffing was nog altyd ʼn oorweging, maar die agentskap voel steeds dit is nie die beste manier om die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) te befonds nie.

Sanral beskou ʼn brandstofheffing as ʼn regressiewe soort belasting, wat veral die armes die swaarste sal tref. Taxi’s en busse is tans van e-tol vrygestel, maar met ʼn brandstofheffing sal hulle nie wees nie. Mona meen die implementering van ʼn provinsiale brandstofheffing sal moeilik en duur wees om te administreer, terwyl dit boonop motoriste van ander provinsies sal straf wat brandstof in Gauteng koop.

Mona het ook gesê net die regering kan besluit om e-tol te skrap omdat hulle besluit het dit is die mees bekostigbare, gelykmatige en regverdige manier om die GFIP te befonds.

Ben Theron, die bedryfshoof van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), meen egter Sanral stuur gemengde boodskappe uit, terwyl die agentskap ʼn hernude veldtog van stapel gestuur het om uitstaande e-tolgeld in te samel.

“Sanral het die regering oortuig om dié swak nagevorste en irrasionele skema te aanvaar en nou wend die agentskap hom tot die regering vir geld om hom uit die gemors te kry wat hy self geskep het.”

e-tolwinkel

Argieffoto.

Miljarde rande se uitstaande tolgeld

Net sowat 30% van die e-tolrekeninge wat Sanral aan Gautengse motoriste gestuur het, is die afgelope jaar betaal. Dit blyk uit antwoord op David Ross van die DA se vraag in Junie aan die departement van vervoer in die parlement oor hoeveel van die rekeninge tussen 2015 en 2017 betaal is.

Van die 1,8 miljoen rekeninge wat in die laaste vier maande uitgereik is, is meer as 1,3 miljoen nie betaal nie. Sanral het ook gesê die nakomingskoers vir Februarie 2017 was net sowat 29%.

Wanbetalers het Sanral teen die einde van Maart reeds sowat R7,2 miljard geskuld, maar Outa beweer dit kan soveel as R9,2 miljard wees, wat uitstaande is.

Volgens Mona sou die GFIP ʼn driefaseprojek wees, maar die toekoms daarvan is nou in gedrang.

Alex van Niekerk, projekbestuurder vir die GFIP, het gesê Sanral het ʼn mandaat om hoofweë te ontwikkel, maar is onder druk om toekomstige padprojekte te befonds omdat die gelde opdroog. Dit kan die minister van vervoer noop om die tesourie te nader vir geld uit die staatskas omdat Sanral ʼn staatsbeheerde onderneming is.

“Dit is interessant dat Sanral voel sy geldelike oplossing lê in die hande van die regering. Ongelukkig vir dié agentskap is die staatskas van die tesourie amper reeds leeg gestroop deur misdadige regeringsleiers en dit gaan Sanral se taak net verder bemoeilik.

“Dit laat my net wonder hoe Sanral in een asem kan sê die skema stort feitlik in duie en ʼn nuwe finansiële oplossing moet gevind word, maar terselfdertyd ʼn duur litigasieproses kan dryf en mense dan dagvaar omdat hulle nie die skema gesteun het wat van die eerste dag doodgebore is nie?” het Duvenage gevra.

Mona het aangevoer die agentskap het ʼn verpligting teenoor motoriste wat wel vir e-tol betaal om wanbetalers te vervolg. “Daar is ʼn deurlopende proses van skuldinvordering en regsprosedures is tans aan die gang om die uitstaande tolgeld in te samel. Duisende dagvaardings is reeds hiervoor bedien,” het hy gesê.

ʼn Selfoonfoto van ʼn vliegtuig wat in Desember 2013 met ʼn banier in Johannesburg vlieg as deel van ʼn nuwe DA-protes teen die omstrede e-tolstelsel in Gauteng. Foto: Sapa/Argieffoto.

DA se voorstelle oor e-tol

Die DA het ook in Augustus opnuut tot die stryd rondom die bestuur van toekomstige e-tolstelsels toegetree en ʼn eie private ledewetsontwerp oor tolpaaie voorgestel.

Manny de Freitas, die DA se parlementêre woordvoerder vir vervoer, het voorgestel daar word aan provinsiale en plaaslike owerhede meer magte gegee oor die inwerkingstelling van e-tolstelsels.

Dit sluit ook in dat ʼn referendum uitgeroep mag word indien daar ʼn teenkanting van 51% of meer teen voorgestelde tolpaaie is.

David Makhura, premier van Gauteng, het in Februarie vanjaar in sy provinsiale rede erken die e-tolstelsel was ʼn fout. Makhura het toe gesê geen nuwe tolpaaie sal in die provinsie ingestel word nie.

Sanral word deurlopend daarvan beskuldig dat hy nie vooraf genoeg met die publiek gekonsulteer het nie en intussen beloop die skuld van tolpadgebruikers reeds etlike miljarde rande.

De Freitas het onder meer voorgestel dat die proses van konsultasie en openbare deelname verstek moet word. Alternatiewe roetes moet ook geïdentifiseer word voordat paaie tot tolpaaie verklaar word.

Sy voorstelle moet nog deur die betrokke parlementêre komitee bespreek word.

Beide die DA en VF Plus meen indien die besluitnemingsprosesse in die hande van die provinsiale en plaaslike owerhede is, sal tolpaaie afgekeur word soos wat dit reeds in 2015 in die Wes-Kaap gedoen is, nadat Sanral gepoog het om die N1- en N2-hoofweë in die Kaapse Wynlande te tol.

e-toll

Argieffoto.

VF Plus se vrae oor die onwettige meetinstrumente

Sanral se e-tol-meetinstrumente is ook nie gesertifiseer nie nadat die VF Plus die agentskap byna twee jaar gelede hieroor aangevat het.

Die hoof van die Nasionale Reguleerder oor Verpligte Spesifikasies (NRVS) het dit verlede week aan adv. Anton Alberts, voorsitter van die party, bevestig met die terugvoering oor die liggaam se jaarverslag aan die parlementêre portefeuljekomitee van handel en nywerheid.

“Hy het geantwoord dat daar nog geen standaarde vir die e-tolstelsel bestaan nie en dat dit nog ontwikkel moet word.

“Die antwoord is verstommend, aangesien dit beteken die e-tolstelsel, benewens al die ander onwettige aspekte soos deur Outa uitgewys, tegnies nie verantwoordbaar is in terme van die Regsmetrologiewet nie. Sanral kan daarom nie bewys dat enige rekening, wat deur hom uitgereik is, wel korrek is as dit as bewysmateriaal in ʼn hof moet dien nie.

“Nou dat Sanral self onseker raak oor die volhoubaarheid van die stelsel, is die tyd ryp vir die regering om die e-tolstelsel finaal af te skaf en deur ʼn tydelike brandstofheffing die skuld te delg vir die opgradering van Gauteng se paaie,” het Alberts gesê.

e-tol 2

Argieffoto.

Sal padgebruikers kan en wil betaal?

Volgens Mona was die idee met die GFIP nog altyd dat padgebruikers vir paaie se ontwikkeling moet betaal.

Sanral sê nou swaar verkeersopeenhopings is die toekoms vir Gautengse padgebruikers omdat nuwe ontwikkelings nie gedoen kan word nie, omdat motoriste versuim om tolgeld te betaal en die staatskas se befondsing al skaarser word. Die agentskap het gesê dit kos tans tussen R100 miljoen en R150 miljoen om ʼn kilometer se pad te bou.

Fred Nel, die DA in Gauteng se skaduminister vir paaie en vervoer, het in Junie vanjaar gesê indien ʼn brandstofheffing van 10c destyds gehef is, sou die lening vir die ontwikkeling vir die paaie nou reeds afbetaal gewees het. Duvenage meen ʼn brandstofheffing van net 9c sou dit ook kon doen, maar Sanral het die betaalmetode 10 jaar gelede reeds van die hand gewys.

Motoriste hou nou egter vol hulle sal nie twee keer vir paaie betaal nie en hulle sal ook nie vir Sanral se dreigemente hieroor val nie.

Hulle wil ook gereeld weet hoekom word die bestaande brandstofheffing, wat deel uitmaak van die prys wat hulle vir petrol of diesel betaal, nie gebruik om paaie te verbeter nie.

Volgens die Outomobiel Assosiasie (AA) beloop die algemene brandstofheffing tans R3,15 per liter vir petrol en R3 vir diesel. Dié geld word egter nie spesifiek opsy gesit vir paaie nie, maar beland in die staatskas en kan vir enige doel aangewend word.

Motoriste betaal ook ʼn verdere R1,63 per liter aan die Padongelukkefonds en die geld word vir eise ná motorongelukke aangewend.

Volgens die AA beteken dit dat motoriste tans vir elke liter petrol R4,78, of 35%, indirekte belasting betaal. Op ʼn 50 liter-tenk brandstof beloop dit R239. Dit terwyl Suid-Afrikaanse motoriste reeds steier onder ʼn swak ekonomie en byna daagliks meer vrae oor staatsbesteding het.

Korrupsie en wanbesteding steek motoriste al meer dwars in die krop en maak hulle net meer huiwerig om vir nog ontwikkeling en onderhoud aan paaie te betaal.

Verder is talle motoriste boonop ook nog omgekrap omdat soveel as 74% van e-tolgeld wat van Desember 2013 tot Maart 2017 ingesamel is, aan ʼn buitelandse maatskappy oorbetaal is vir die administrasie van die stelsel.

Outa het bereken R2,2 miljard van R2,9 miljard se tolgeld wat in die tydperk ingesamel is, is aan Electronic Toll Collection (ETC) uitbetaal. ETC is ʼn Suid-Afrikaanse maatskappy, maar dit word glo deur die Oostenrykse konglomeraat Kapsch besit.

e-tol vpc

Voorbeeld van ‘n VPC-aanmaningsbrief. Foto: Argief.

Sanral en die SMS’e aan motoriste

Outa het gesê die organisasie is reeds besig om die eerste groep siviele eise te verdedig, wat deur Sanral ingestel is teen motoriste wat weier om te betaal.

“Die enigste manier waarop Sanral uitstaande e-tolgelde kan insamel, is deur ‘n dagvaarding uit te reik, dit wil sê om regstappe te neem.

“Motoriste moet onthou Sanral kan nie per SMS of telefoonoproep geld insamel nie. Die saak word slegs ʼn regskwessie wanneer ʼn motoris ʼn dagvaarding ontvang. Motoriste kan ook nie op ʼn swartlys geplaas word omdat hulle nie e-tol betaal het voordat die saak in die hof aangehoor word nie,” het adv. Stefanie Fick, Outa se hoof van regsake, gesê.

*Betaal jy jou e-tolgeld? Laat weet ons gerus in die kommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

speedguard ·

Ja Ek ketaal vir my en my twee dogters wat studente is en kos dit my ‘n fortuin, somtyds kom jy by die hekke dan lees die sensor nie, dit het die gevolg dat almal wat agter jou is jou vloek en padwoede uitlok, dit plaas my en my kinders in ‘n baie gevaarlike situasie, sou daar ‘n botsing plaas vind(Die wet bepaal DUIDELIK) dat jy nie op ‘n deurpad mag “Reverse” nie) so hoe nou gemaak, die mense by die hekke ignoreer jou soos ‘n stopstraat, ek wil graag wetsgehoorsaam wees en ‘n voorbeeld vir my kinders , ek het alle honderde e-posse gestuur maar puur verniet, kontak my en gebruik my in enige saak met e-Toll en sal ek met graagte getuig !! Die e-toll mense het ook blou en rooi ligte op hul dakke , is hulle dan nie nood voertuie (SAPS, wetstoepassers & Ambulanse ) ek glo dit is totaal teen die wet !! ek sal ‘n antwoord waardeer!

Zak ·

Jammer Sanral, julle syfers klop nie! As ek na internationale skatings kyk kos dit sowat R65 tot R75 Miljoen per kilometer om n nuwe 6 laan pad te bou. Die uitbreiding van n bestaande pad kos veel minder. Die “nuwe” e-toll paaie wat julle gesteel het was reeds daar. Waar kom julle met R100 tot R150 Miljoen per kilometer??

Jacques ·

Ek wil net graag weet hoeveel keer moet n mens betaal om een keer op n pad te ry ?
Vir elke lt brandstof wat jy ingooi betaal jy vir die pad . As jy n voertuiglisensie uitneem betaal jy . Mens betaal belasting vir dieselfde pad , so wat nou ?? As die regering eers hulle huiswerk gaan doen het sou hulle van die begin af geweet het dit sal nie werk nie , want dit is nie Europa nie en die meerderheid mense in ons land is nie Europiers nie , daai mense is baie meer beskaaft . Die kort en lank is – die regering moet vir hulle kry .

JJ ·

Ek betaal glad nie e-tol geld nie. EK WEIER!

Soos die artikel hierbo uitwys, volgens die AA betaal “motoriste (ALREEDS) tans vir elke liter petrol R4,78, of 35%, indirekte belasting …. Op ʼn 50 liter-tenk brandstof beloop dit R239.”

Met ander woorde R239 van ELKE tenk-brandstof van JOU geld gaan na die Staat toe, waarvan die Staat van die geld vir enige iets kan aanwend!!

Is dit die geld wat Zuma dan gebruik het vir Nkandla, of is dit waar die R200 biljoen vandaan gekom het, wat Zuma , die Guptas en ander Staatsamptenare gesteel het?

As die Staat nie kan verantwoording doen vir waarnatoe elke motoris se petrolgeld heengegaan het nie, en bewyse daarvoor kan gee nie, hoekom vra hulle vir nog vir paaie. Moes daai geld dan nie in die eerste plek juis uitgesit geword het vir paaie doeleindes nie.

DIE LAND IS GRAP!

Susan ·

Dit is die waarheid en juis omdat ek vir elke liter brandstof alreeds betaal om die paaie in stand te hou, sal ek bly weier om e-tol te betaal. Ek gooi elke 6 dae brandstof in en betaal net soos die res van die land vir elke liewe bestaande teerpad se instandhouding. So om nou my nog meer te wil belas is bietjie baie gevra en dan voel die res vd land hulle betaal vir my om op Gauteng se paaie te ry. Ek stem nie saam nie. Ons betaal al klaar by Stormvoël en Zambezi tolgeld vir wat weet ek nie, want huidiglik teen R20 per dag maak hulle sakke vol geld om hulle eie sakke vol te maak. Daardie tolgeld word nie vir ons paaie aangewend nie.

Ek ·

Asseblief, asseblief, asseblief!!! Is daar nie ‘n manier om die tolgelde by Zambesi en Stormvoël te skrap nie?

Gys ·

Wat word die voertuig se lisensie geld dan voor gebruik. Waar gaan al die geld heen. OOO wag dit is om 20 mense in diens te neem terwyl 2 werk en die res staan en kyk langs die pad.

Tom van Rensburg ·

Nee, ek betaal nie. Waarom word busse en taxis vrygeskeld. Taxis betoog nooit teen verhoging in brandstofpryse nie, betaal hul op ‘n ander manier as gewone verbruikers. Hul gooi net petrol by sekere plekke.

Jordaan ·

Ek het nie ‘n probleem met tolgeld nie, maar wel met ‘n stelsel waar die koste van bedryf ‘n beduidende persentasie uitmaak van wat ek betaal indien daar alternatiewe beskikbaar is teen ‘n fraksie van die koste. Aanvanklike beramings was dat dit omtrent 40-45 sent in die rand sal kos om die stelsel te bedryf. Volgens die artikel is dit nader aan 75 sent per rand van die werklike inkomste, maw bitter min bly oor vir die werklike doel (paaieskuld). Iewers word iemand ryk in die proses en dit is nie die belastingbetaler nie. (Brandstofheffings se koste van insameling is blykbaar minder as 2 sent per rand, dus verstaan ek nie die hewige teenstand daarteen van regeringskant nie).

Vanessa ·

Nee ek betaal glad nie my e-tol nie, dit is hopeloos te duur. Hoe moet ons gewone mense wat nie soveel salaris verdien e-tol en ander tolgelde ook nog betaal asook hoér brandstof pryse, duurder kos, ens., bekostig en nog geld oor hé tot die einde van die maand om van te lewe!

Koos1 ·

Brandstof heffing is die manier om te doen.
Ons moet in ag neem dat Gauteng ongeveer 70% van die land se belasting inbring en sowat net 10% van die Nasionale regering kry in die begroting. Sal dit regtig so onregverdig wees as alle SA burgers aan die paaie betaal met ‘n brandstofheffing van 10 sent? Indirek kry alle SA burgers voordeel uit die paaie (Dink maar aan die 70% belasting.). Dink maar net aan goedere wat per pad vervoer word, of per lug, aangesien OR Thambo ook in Gauteng is. Ek is oortuig dat te minste 90% van die bevolking baat (direk of indirek) by die paaie.

Chevy ·

Ek het altyd my e-tol betaal maar nou dat ek hierdie storie lees het ek baie vinnig van gedagte verander, ek betaal nou ook niks meer nie, dis skande op skande wat alles in hierdie land aangaan.
Waar is al die biljoene rande heen en hoekom word taxis nie belas met e-tol heffing nie?

Ben Prinsloo ·

Ek dink as jy e toll betaal is jy n grensgeval vir onnoselheid.

Will i am ·

Ek is mos ook ń taxi. Ry my vrou en kinders rond. Ek gaan nie betaal nie

Dion ·

Ek betaal uit beginsel nie E-tol nie. Dit is ‘n ripoff. Ek betaal reeds belasting op elke liter brandstof wat ek ingooi

Cherokee ·

Net soos die mense wat hul vuurwapens ingehandig het dit nie gaan terugkry nie, kan die 30% wat e-tol betaal dit op hul pense skryf. En nee Koos1, vergeet dit. Lees ander uitgesproke opinies oor hoeveel keer vir dieselfde paaie betaal word.

Ruby ·

Ek het al klaar betaal, wat is met daardie geld gemaak!

Ek sal NIE betaal nie.

Die briewe wat ek kry, spoeg ek op en skeur dit onoopgemaak op.

snitkeys ·

great stuff jordaan. gaan reel asseblief dat jou inkomste net so na sanral gaan.

Swannie ·

Daar moet eenvoudig teruggekeer word na die vorige stelsel dat voertuiglisensie gelde aangewend moet word vir paaie. ( ook die R47.00 heffing op die transaksie)

Maar nee, dit het slegs `n ekstra bron van inkomste vir munisispaliteite geword waar die geld in `n bodemlose put van korrupsie en/of wanadministrasie slegs verdwyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.