[Foto’s] Renosterkalfie ná dae alleen gered

Foto: Facebook via Protrack Anti Poaching Unit

Foto: Facebook via Protrack Anti Poaching Unit

ʼn Ses maande oue renosterkalf was dae lank op ʼn plaas naby Hoedspruit in Limpopo aan haar eie genade oorgelaat nadat haar ma vermoedelik deur stropers doodgeskiet is.

ʼn Taakspan van die Protrack-teenstropingseenheid en Provet Wildlife Services is Saterdagoggend na die plaas ontbied waar die kalfie gesien is wat bloedbesmeerd rondhardloop. Volgens Protrack was die kalf erg gedehidreer en was sy vermoedelik twee of drie dae alleen naby haar ma se karkas.

Die kalf het merke op haar vel gehad wat daarop dui dat sy moontlik in ʼn roofdier se kloue beland het, maar gelukkig het sy nie veel seergekry nie. ʼn Luiperd en hiëna se spore is in die gebied gewaar.

Die ma se karkas is met behulp van ʼn helikopter gevind. Sy is geskiet, maar haar horing was nie gestroop nie. Volgens Shane Tintinger, ʼn bestuurder by die Protrack-teenstropingseenheid, is dit moontlik omdat die renoster in haar maag geskiet is en dit nie ʼn doodskoot sou wees nie.

Tintinger het gesê die kalfie, wat intussen Khulula gedoop is, is na ʼn renosterskuiling geneem waar sy nou aansterk. Hy het gesê aangesien renosters eers vanaf twee jaar selfversorgend is, sal Khulula vir ʼn hele ruk daar moet bly voordat daar oor haar toekoms besluit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Irene ·

Hoe mense hul wil verryk aan geld het geen gewete nie maar die Vader slaap nie dit is hoe dit in hierdie land gaan

Magda Prinsloo ·

Ek wil net sê baie dankie vir die ongelooflike werk wat hierdie reddingspanne doen. Dis mense soos julle wat mens weer in jou medemens laat glo! Hou so aan! Trots op julle!

M ·

gelukkig is hierdie diertjie gekry en kan versorg word. Kan nie dink dat jy so gevoelloos kan wees nie. Sal sulke mense nooit verstaan nie.

Willie ·

Wat die siel siek sensasie soekers nie besef.. dat daai dinge waarvoor die Renoster horing gebruik word, eindelik in jou kop is….

johann cb ·

Wetgewing magtig mos nou handel in renosters! Sulke voorvalle kan nou ‘n algemene gesig word. Tog baie jammer. Ek hoop Khulula word gou sterk en herstel van die trauma. Dankie aan die reddingspan.

Paul ·

Handel in renosters is nog altyd wettig. Daar was net voorheen ‘n bisarre verbod op handel in die afgesnyde horings. Die verbod op die handel in horings binne die grense van Suid-Afrika is nou opgehef.
Verduidelik bietjie hoekom “sulke voorvalle nou ‘n algemene gesig” gaan word? Verduidelik logies, asseblief, nie emosioneel nie.

Dis die verbod op internasionale handel in renosterhoring wat stropery so lonend maak. Dieselfde geld vir dwelmhandel – dis die verbod daarop wat dit so lonend maak.

Susan ·

Regtig Paul?
Dalk moet jy weer lees én dink oor dit wat jy kwyt raak.

Paul ·

Ek vra, nes ek vir Johann gevra het en geen antwoord gekry het nie, verduidelik asseblief vir my logies, nie emosioneel nie, hoekom vrye handel in renosterhorings “sulke voorvalle ‘n algemene gesig” gaan maak?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.