[Foto’s] Sannieshof-plaasaanvalle: Kyk uit vir dié ontsnaptes

Blackie van den Berg in die hospitaal ná die aanval. Foto: Verskaf

ʼn Volskaalse soektog duur voort nadat drie vermeende plaasaanvallers Dinsdag uit die aanhoudingselle van die Sannieshof-polisiestasie ontsnap het.

Kol. Emelda Setlhako, provinsiale polisiewoordvoerder van Noordwes, het Woensdag aan Maroela Media bevestig die soektog duur steeds voort na Knowledge Nyathi (36), Samual Mogomotsi (21) en Zakaria Nyalimathe (34) wat om 05:30 uit aanhouding ontsnap het.

Mogomotsi staan tereg op aanklagte van huisroof en verkragting. Nyathi en Nyalimathe staan albei tereg op aanklagte van huisroof, verkragting en twee afsonderlike aanklagte van moord.

“Die omstandighede rakende hul ontsnapping is nog onbekend en word ondersoek. Die polisie, in samewerking met die gemeenskap, volg alle leidrade op om die verdagtes op te spoor,” het Setlhako gesê.

Maroela Media het Dinsdag berig die drie verdagtes is in hegtenis geneem  in verband met twee onlangse gru-plaasaanvalle in die Sannieshof-omgewing.

Een van die drie ontsnaptes was in aanhouding in verband met die aanval en verkragting van Blackie van den Berg (61). Sy is op 2 Junie op ʼn plaas tussen Sannieshof en Ottosdal oorval, erg aangerand en verkrag. Twee verdagtes, onderskeidelik 21 en 24 jaar oud, is kort daarna in hegtenis geneem en was in aanhouding terwyl borgtogprosedures hangend was.

BC en Marlette Greyling. Foto: Verskaf

Twee van die ontsnaptes, Nyathi en Nyalimathe, was glo betrokke by die moord en aanval op BC Greyling (59), sy vrou, Marlette (57), en BC se ma, Magdaleen Greyling (87). Die gesin het op 16 Mei die aand aan tafel gesit en aandete eet terwyl hulle nuus gekyk het. BC in trompop in die bors geskiet en is op die toneel dood. Marlette is tydens die voorval in haar regterblad geskiet en moes hospitaalsorg ontvang. Magdaleen het na die sitkamer gevlug en onder ʼn tafel weggekruip en was ongedeerd.

Nyathi, Nyalimathe, France Kubone (26), Tebogo Mogolotsane (28), Small Mokgele (29), en Joseph Zakenya (32) is op 18 Mei in Sannieshof en Ottosdal in hegtenis geneem ná ʼn uitgebreide ondersoek. Een van hulle wat glo net gehelp het met vervoer, is op borgtog vrygelaat. Die res was egter nog in aanhouding.

AfriForum-buurtwagte, Agri NW en TLU SA is by die grootskaalse soektog betrokke.

Volgens ʼn beskrywing van die voortvlugtiges dra een ’n grys sweetpak, een het ’n rooi hemp en swart leerbaadjie aan en die derde verdagte dra ’n rooi baadjie.

Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om op die uitkyk te wees vir die verdagtes en hulle as gevaarlik te beskou. Enigiemand wat die ontsnaptes sien of weet waar hulle is, word versoek om ao. Markus Ferreira by 082 373 8250 of hul naaste polisiestasie te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Stefaans ·

Seker dieselfde een “wat net gehelp het met vervoer” wat ook “net gehelp ontsnap” het. Belaglik, hy was deel daarvan.

alida ·

Hoekom moet ons die SAPD se werk vir hulle doen. Hierdie mense moes in die eerste plek nie “ontsnap” het nie. Met die volgende moord of aanval kan hulle dalk gevang word. BELAGLIK !!!

marous ·

Stem saam. “die omstandighede rakende hul ontsnapping is nog onbekend en word ondersoek”
Twak! Die mense was nie onder ‘n boom aangehou nie. Die sel was of oopgebreek of die deur was oopgemaak. Die publiek moet nou help soek. Wie gaan met vergrootglas ondersoek word as daar geskiet of geweld gebruik word?

Liezl ·

Ag dankie, Maroela…ten minste het die polisie nou geluister. Ek het in ‘n vorige artikel gesê hoekom mag ons nie die gesigte sien nie, hulle het ontsnap. Ons het nodig om te weet wie gevaarlik is en op die uitkyk te wees! Hoop hulle word gou gevang.

Theresa B ·

Ek stem saam met julle hierbo! Heng dit maak mens woedend verby hoor!!

alida ·

Hulle moet die fotos op elke lamppaal in elke dorp en op TV wys. Aan die ander kant het ons nie genoeg pale in die land nie !!!!!

Asjas ·

En ook net as jy ‘n gatjie kan kry tussen al die aborsie, lost lover en vergrotings papiere wat ons land so ontsier.

Theresa ·

En die treefelling en paint jobs.
En al die reeds afgesteelde plakkate se binders – pale lyk soos ystervarke.

Lollie ·

Hierdie ontsnapping is gedoen met hulp. Hoop hulle loop hulle rieme styf en kom iemand tee wat eers skiet om dood te skiet en dan vrae te vra. Hoeveel verwoesting moet hulle eers weer saai voordat hulle aangekeer word? Dan het hulle weer nie genoeg teen hulle nie en word hulle vrygelaat!

Anne-marie van Wyk ·

Hoe ontsnap drie mense wat vir sulke ernstige misdade aangehou word so maklik. Iemand het nie sy werk gedoen of n geldjie ontvang vir die glipsie. Swak hoop daar word opgetree teen die skuldiges.

Theresa ·

Klink na ‘n blink plan. Bring ‘n program terug waarop alle misdadigers geplaas word wat ontsnap het – of dringend na gesoek word. Net so voor of na die nuus – op elke kanaal.

Anne-marie van Wyk ·

Dit sal beslis help om misdaad ook makliker op te los en skuldiges vinnig vas te trek. Miskien kan soldariteit help hulle het seker invloed iewers.

Coen Hattingh ·

Hoe gouer “Police File” op TV teruggebring word, soveel BETER. Dit sal help om ontsnaptes/verdagtes makliker op te spoor.

marie ·

Hierdie moordkommandos het blykbaar belangrike vriende wat hulle kan laat ontsnap. Die styging in plaasaanvalle is defnitief n destabilisasieprojek deur die regering. As die land onstabiel is kan daar n “state of emergency” verklaar word, wat Pres. Zuma al die mag gee om te doen net wat hy wil.

Grotman ·

100% verseker n inside job!! Of dalk was die police dalk gou Nandos toe en het deur oop gelos.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.