[Foto’s] Waar die bylmoorde plaasgevind het

Die huis in die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch waar lede van die Van Breda-gesin op 26 Januarie 2015 met ‘n byl vermoor is (Foto: Maroela Media)

ʼn Ondersoek ter plaatse het Dinsdag by die dubbelverdiepinghuis in die De Zalze-landgoed net buite Stellenbosch plaasgevind waar lede van die Van Breda-gesin met ʼn byl vermoor is.

Regter Siraj Desai, staatsaanklaer Susan Galloway en die beskuldigde, Henri van Breda en sy regspan, was by die huis.

Van Breda het Maandag in die Kaapstadse hooggeregshof ontken dat hy sy pa Martin van Breda (54), ma Theresa (55) en broer Rudi (22) op 26 Januarie 2015 met ʼn byl vermoor het. Sy sussie Marli (toe 16 jaar oud) het die aanval oorleef.

Van Breda het in sy pleitverduideliking aangevoer daar was vermoedelik minstens twee aanvallers in die huis.

Toegangsbeheer by die landgoed is baie streng en veiligheidspersoneel en polisiebeamptes het verslaggewers tydens die besoek ten alle tye vergesel. Die huis is diep in die landgoed, waar daar ongeveer 420 huise is, geleë. Die strate is nou en daar is slegs ʼn enkelbaanpad wat die laaste paar meter na die huis lei.

Die huise in die betrokke deel van die landgoed is baie naby aan mekaar geleë.

Die staatsaanklaer en adv. Pieter Botha, vir Van Breda, het aanvanklik buite die huis verskeie punte aan Desai uitgewys, waarna daar later in die hof verwys sal word.

Desai, die staatsaanklaer en Van Breda en sy regspan het daarna die huis binnegegaan. Die media was nie in die huis toegelaat nie. Die huis is intussen verkoop en die nuwe intrekkers woon reeds in die huis.

Maroela Media verneem die vierslaapkamerhuis is vir R6,2 miljoen verkoop.

Lees alle vorige berigte oor die bylmoorde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Grietha ·

Bure in die Landgoed en die nuwe intrekkings is rustig en niks is daar moord nie. Hoekom met Breda familie gebeur? Henri alleen sal dit weet en Marli nog geheurvlies? Oorledenes sal nie kan praat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.