Garsfontein-moorde: Polisie maak deurbraak

‘n Nagwaak vir die slagoffers ná die aanval. Foto: Yusuf Abramjee @Abramee / Twitter

Die polisie het ʼn deurbraak in hul ondersoek gemaak nadat ʼn gesin twee weke gelede by hul huis in Garsfontein in die ooste van Pretoria aangeval en twee susters vermoor is.

Kapt. Ilze Jones, woordvoerder van die Garsfontein-polisie, het gesê die deurbraak het gekom met die inhegtenisneming van ʼn 37-jarige man Donderdag in Vosloorus aan die Oos-Rand.

“Die polisie is warm op die spoor van nog twee verdagtes wat in verband met die moord- en huisroofsaak gesoek word,” het sy gesê.

Sy het gesê meer inligting oor die verdagtes kan nie in die stadium bekend gemaak word nie aangesien dit die ondersoek, wat in ʼn sensitiewe stadium is, kan belemmer.

Maroela Media het vroeër berig die gesin is die aand van 14 Maart in hul huis in Miasstraat deur drie mans aangehou, vasgebind en met skerp voorwerpe gesteek en sny.

Dr. Anna Moloto (43) en haar suster Mahlodi Moloto (39) is tydens die aanval vermoor. Dr. Moloto se lewensmaat, Albert Mafanele (59), Mafanele se 30-jarige dogter en hul huiswerker is tydens die aanval beseer en moes in die hospitaal opgeneem word. Al drie is intussen ontslaan. Mafanele is ʼn senior beampte van die departement van toerisme. Die Moloto-susters is Saterdag in Polokwane begrawe.

Die aanvallers het met twee televisiestelle en die een slagoffer se voertuig op die vlug geslaan. Die dogter kon kort daarna, die Woensdag omstreeks 00:30, daarin slaag om te ontsnap en het hulp by die bure ontbied. Die gesteelde voertuig is later verlate in Yeoville in Johannesburg opgespoor.

Die verdagte het Maandag in die Pretoria-landdroshof verskyn. Die saak is uitgestel vir nadere ondersoek. Hy bly in aanhouding.

Lees meer oor die Garsfontein-moorde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JJ ·

Welgedoen, maar wat van die 100’de wit mense wat gemoor word en nie een word gevang nie.

Denise ·

Ek stem JJ !!!! Geen moord haal selfs die nuus nie wat se dit vir jou?????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.