Gasbottel ontplof in man se gesig

Faan Schutte. Foto: Facebook

Faan Schutte. Foto: Facebook

ʼn Man van Vanderbijlpark is in ʼn ernstige toestand in die waakeenheid van die Mediclinic Emfuleni-hospitaal nadat ʼn gasbottel in sy gesig ontplof het.

Faan Schutte (63) het erge brandwonde in sy gesig, bolyf, bene, arms en hande opgedoen en moet deurentyd morfien kry om sy pyn te beheer.

Carla, Faan se vrou, het aan Maroela Media gesê haar man het Maandagaand by ʼn goeie familievriend gekuier toe die ongeluk gebeur het. “Hulle het voor die gasverwarmer gesit en televisie kyk en so teen 22:00 het Faan opgestaan om huis toe te gaan,” het sy gesê.

“Hy het aan sy vriend, Jan van der Merwe, gesê die gasbottel maak ʼn snaakse geluid en Jan het gesê hy moet die gas sommer net toedraai. Jan het solank vooruit gestap om al die hekke en deure oop te sluit, toe Faan die gasbottel toedraai. Die bottel het net skielik in sy gesig ontplof.”

Volgens Carla het die reuse ontploffing veroorsaak dat ʼn ander gasbottel elders in die huis ook ontplof het en die huis het byna heeltemal afgebrand. Van der Merwe, wat ten tyde van die ontploffing reeds buite die huis gestaan het, het ongedeerd daarvan afgekom.

Faan Schutte in die hospitaal. Foto: Facebook

Faan Schutte in die hospitaal. Foto: Facebook

“Faan het verskriklike pyn en hulle moet hom elke twee ure morfien gee. Hy was gister in die teater waar al die velle afgeskrop is en sy gesig is nou omtrent tot twee keer die normale grootte geswel. Hy is ook heeltemal in verbande toegedraai.” Carla het gesê Faan is egter by sy volle bewussyn en kan die ongeluk duidelik onthou. “Hy praat so bietjie met die mense wat kom kuier en hy kan vertel wat gebeur het. Maar hy sal nog weke, dalk maande in die hospitaal wees.”

Carla het gesê dit is vir dokters moeilik om nou al te bepaal of Faan veloorplantings sal nodig hê, maar dit is ʼn sterk moontlikheid.

“Dit was ʼn fratsongeluk en iets wat niemand kon voorsien het nie. En vir iemand soos hy wat so aktief en ʼn sportfanatikus is, is dit ʼn verskriklike ding om deur te gaan.” Faan het deeltyds as ʼn rugbyafrigter gewerk en rig nou voltyds skool- en universiteitspanne af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

neelsie ·

Gastoerusting -toets::
Draai vlam toe.
Sproei alle lasplekke en pype met sproeibottel gevul met water en paar druppels skottelgoedseep.
Daar sal borrels ontstaan as gas lek.
Laat toerusting toets en herstel deur kundige.
Indien moontlik doen toets buite of met goeie lugvloei in vertrek.
Gastoerusting moet aangekoop word van betroubare handelaars en fabrikate.
Pasop vir “made in China”

PIXIE ·

JA, WEES ASB. VERSIGTIG WAAR JY JOU GASBOTTELS KOOP. DAAR IS LANGS DIE PAD IN VEREENIGING UITBR 1 – LANGS DIE ASHOPE – MENSE WAT OU GASBOTTELS AS “BARGAINS” VERKOOP WAT HULLE BY DIE ASHOPE OPTEL – ASSEBLIEF MENSE DIT IS LEWENSGEVAARLIK. HULLE VERKOOP OOK OU OPGEVOETERDE BANDE WAT HULLE HERGROEF – EN SWART VERF – MAAR MET DIE EERSTE KLIPPIE WAT JY TREF SIEN JY JOU ALIE. MOOI DAG EN LIEFDE.

Francois ·

Baie erg!!! Gas het nie ‘n vlam nodig om te ontsteek nie. Statiese elektrisiteit van jou liggaam is genoegsaam om gas aan die brand te steek. Pasop om ‘n gasbottel wat lek, hoe min ookal, in jou kattebak te sit. Indien jy die kattebak daarna sou oopmaak, is die elektrisiteit wat deur die kattebak se liggie gaan, genoegsaam om ‘n ontploffing te veroorsaak, indien die gasbottel sou gelek het.

Elaine Roos ·

Carla, ek bid dat die Here julle in die moeilike tyd sal bystaan. Ek bid dat sy pyn weggevat word. My hart gaan uit na jou en Faan. Ek bid vir julle.

Henk ·

Wel, ek het laasweek twee gasbottels aangekoop. Ek moes beide weg wys en ander eis weens die haglike toestand waarin die eerste twee was. Dit is skrikwekkend en duidelik dat die goed glad nie meer instand gehou word nie en dat daar geen instansie verantwoordelik is of neem vir die inpseksie van die bottels nie!

PIXIE ·

Henk, ek is enkel lopend (67 jaar oud en baie bang vir gas) en gebruik al 30 jaar ‘n gasbottel met ‘n BURNER. Ek het nie ‘n elektriese stoof nie. Ek maak my gasbottel vol by Vaal Gas en wanneer ek daar kom skud hulle die bottel en as hulle roes onder in die bottel hoor SCRAP hulle dit dadelik, Hulle is baie veiligheids bewus en ek waardeer dit. Ek het nog nooit probleme gehad nie. Lekker dag vir jou.

Eliza-beth ·

Jinnie Pixie ek wens alle plekke wil so werk. Ons het ‘n gasstoof juis omdat Esihkom so onbetroubaar is en mens darem wil kan kook, maar ek ken nie een plek hier rond wat so veiligheidsbewus is nie! dis ientlik sekerlik hoe dit gedoen meot word, maar ja…so gaan dit met meeste dinge ne!

CHRISTA ·

Sterkte!! Ek bid dat die liewe HERE jou volkome sal laat herstel!!!

Martha Nortjé ·

Sterkte aan Frans en familie, ons Bid dat hy volkome sal herstel. ….

LADYBUG ·

Is tot die dood toe bang vir gas … gebruik dit gladnie in my huis nie … sit maar in die winter met ‘n kombers om die bene.

neelsie ·

Alle gasbottels het n beperkte gebruikslewe.
n Betoubare handelaar sal weet waar om te kyk vir die vervaldatum.
Laat dit asb inspekteer.

Ansie Geldenhuys ·

Bitter jammer oor hierdie ongeluk. Ons is deurentyd versigtig , maar altyd onrustig. Sterkte en heling bid ons hierdie pasient toe.

Hoppie ·

Ai tog . Ek sit hier in New Zealand en lees die sad berig. Lank saam met Faan gewerk. Baie sterkte aan Faan en die familie.
Baie streng regulasies hier in NZ met gasbottels. Mag nie eers my splinternuwe gasbottels van SA oorgebring het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.