ʼn Gedenkdiens word vandag [Sondag] in Pretoria gehou vir die Brink-egpaar se twee kinders, André (13) en Rachel (8).
Dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het vroeër aangedui sy vrou, Lise, gaan vanuit die hospitaal, waar sy steeds behandeling ontvang, gebring word om die gedenkdiens self by te woon.
Lise het die afgelope Sondag vir die eerste keer gehoor van André en Rachel se afsterwe sedert die noodlottige ongeluk op 16 Desember.
Maroela Media het vroeër berig Danie, Lise en hul vyf kinders was in ʼn ernstige motorongeluk betrokke. André en Rachel is in die ongeluk dood terwyl Lise kritieke beserings opgedoen het. ʼn Deel van haar linkerbeen is geamputeer en sy was lank onder verdowing.
Intussen het Ernst Vorster, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, die publiek uitgenooi om ook die gedenkdiens by te woon. “Ons ontvang talle versoeke vanuit die publiek om die gedenkdiens vir André en Rachel by te woon,” het hy gesê. “Ons bevestig dan graag hiermee dat Danie sy wens uitgespreek het om deur die gedenkdiens troos te bied aan almal wat hul gebede en gedagtes in die moeilike tyd aan die familie gewy het en dat u welkom is om die diens by te woon.”
Vorster het die publiek versoek om die volgende skakel te besoek om hul bywoning te bevestig: klik hier om jou bywoning te bevestig .
“Die kerk se geriewe kan ongeveer 3 500 mense huisves en daar is genoegsame parkering,” het hy bygevoeg.
Dr. Jacobus de Koning van Danie se gemeente, die Antipas Gereformeerde Baptiste Kerk, neem die diens waar en sal preek uit Efesiërs 1.
Die diens sal ook regstreeks gebeeldsend word vanaf Solidariteit Helpende Hand se YouTube-kanaal en Facebook-blad, sowel as op ʼn spesiale Facebook-groep wat vir die gesin opgestel is en van Maroela Media se Facebook-blad af.
Besonderhede van die gedenkdiens:
Plek: Ouditorium van die Hatfield Christian Church (HCC)
Adres: January Masilelarylaan (voorheen Generaal Louis Botha) 551, Pretoria
Datum: Sondag, 22 Januarie 2017
Tyd: 14:30
RSVP: Klik hier om jou teenwoordigheid en getalle te bevestig
Lees alle vorige berigte oor die Brink-gesin op Maroela Media.
Sterkte aan Brink familie jul is in ons gebede
Ons by Jeffreysbaai-tak dra dr Brink en sy familie aan ons Hemelse Vader op en bid dat Hy julle die krag en vetroosting sal gee in hierdie tyd.
Alle Sterkte vir vandag! Aan die Brink gesin. Ek hoop Jesus hou julle en die kinders baie styf vas vandag.
Mag Jesus julle styf vashou vandag en elke dag vorentoe. Mag julle Krag en Kalmte ervaar wat net HY vir mens kan gee. Ons sal aanhou bid vir julle…julle al5.