‘Geen omdraaikans vir Hlaudi’

Hlaudi Motsoeneng. Argieffoto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng, die SAUK se voormalige bedryfshoof, se kanse om die hof te ontduik vir die onregmatige afdanking van die SAUK 8-joernaliste is uitgeput, en hy moet weer Woensdag, 6 September, in die hof verskyn.

Dit volg nadat nóg Motsoeneng nóg sy regsverteenwoordigers sonder enige duidelike rede nie vir die hofverrigtinge op 15 Augustus 2017 opgedaag het nie.

Volgens Francois Redelinghuys, Solidariteit se kommunikasiebestuurder, het die regter op 15 Augustus beslis dat die kostebevelsaak rakende die SAUK 8-kwessie aangehoor sal word ongeag of Motsoeneng teenwoordig is of nie. “Hierdie keer is daar geen uitkomkans meer nie. Hlaudi sloer en ontduik al sedert Maart vanjaar die hof en daarom kan die saak hoegenaamd nie verder vertraag word nie,” het Redelinghuys gesê.

Volgens hom argumenteer Solidariteit dat Motsoeneng se omstrede verbod op die uitsaai van protesaksies direk daartoe aanleiding gegee het dat die agt joernaliste destyds onregmatig afgedank is. “Hoewel Solidariteit daarin geslaag het om die heraanstelling van die joernaliste in hul poste te bewerkstellig, moet Motsoeneng steeds aan die hof verduidelik hoekom hy nie in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou moet word vir hul regskoste nie nadat die arbeidshof met hul heraanstelling koste teen die SAUK beveel het,” het Redelinghuys bygevoeg.

“Dit is belangrik dat Motsoeneng in sy persoonlike hoedanigheid verantwoordelik gehou word vir die koste sodat die belastingbetaler nie moet opdok vir die onregmatige hantering van etiese joernaliste nie,” het Redelinghuys aangedui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ruben ·

Lyk my hy het nog nooit van oogdruppels gehoor nie? Op elke foto van hom, is sy oë rooi…..

Toppie ·

Baie lelike infeksie as gevolg van lang ure werk se werk om sy begroting te laat klop

Ex ·

Too many late knights is bad company!! En dan wil hy nog eiertjies le! Deur te se hyt nou maar net eers begin! Hy moet maar eers sy graad 12 gaan klaarmaak. Of hoe?

De Villiers ·

Gepraat daarvan wonder ek of hy ooit aangekla gaan word vir die bedrog met sy kwalifikasies.

Oom Piet ·

As daar onweerlegbare skriftelike bewys is dat Hlaudi, op sy ondertekende skriftelike aansoek vir aanstelling as Senior Bestuurder in die SAUK Hoofkantoor, gelieg het oor sy skool eksamen uitslag punte en kwalifikasie vlak en gevolglik bedrog gebaseerde onregmatige miljoene Rande se salarisse, bonusse en byvoordele ontvang het, en boonop die R33 miljoen fasilitasie fooi deur en aan homself toegeein vir verkwanseling van die eienaarskap van die SAUK Argiewe aan DSTV vir R360 miljoen, moet hy en sy deelers met alle mag en krag vervolg word om alles terug te betaal, met kostes en opgehoopte rente, met vooraf beslaglegging op alle bates.

snoefie ·

hy het sy kans om te motiveer hoekom hy nie die regskoste moet dra nie, laat verbygaan. so laat hy betaal.

Maaik ·

Nee wat, Hlaudi (Hlaudini ) Motsoeneng weet hoe om n “gap” te vat. Ek dink nie hulle gaan dit regkry om hom persoonlik aanspreeklik te hou vir die koste nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.