Gesin se lewe verander handomkeer ná voorval by kleuterskool

Wessel Hamman. Foto: Verskaf.

Die lewe van ʼn Bloemfonteinse ouerpaar het oornag verander toe hul kind byna dood is ná ʼn voorval net meer as ʼn jaar gelede by ʼn kleuterskool.

Mariska Hamman het aan Maroela Media gesê haar seuntjie Wessel, oftewel Wessie soos hulle hom noem, was byna vier maande oud toe hy na ʼn kleuterskool begin gaan het. “Dit was die vyfde dag by die kleuterskool. Hy het in sy eie wieg gelê en slaap en het net ophou asemhaal.

“Die dagmoeder se assistent het gesien hy lê vir haar snaaks en sy het gedink hy het miskien verstik. Die dagmoeder het gesien hy reageer glad nie – sy was besig om skottelgoed te was en het toe skottelgoedwater oor hom gegooi om te kyk of hy nie reageer nie, niks het gebeur nie.”

Volgens Mariska het die dagmoeder noodhulpopleiding en het sy onmiddellik met hartmassering begin voordat daar met hom na die Mediclinic Bloemfontein gejaag is.

“Hulle was bang hulle sou hom nie betyds daar kry nie en het by ER24 se kantoor op pad daarna stilgehou. Hulle het ook lank gespook; hulle kon nie eers ʼn spuit in sy keel af kry nie. Hy het toe by die Mediclinic opgedaag en hulle het gedink hy het dalk ʼn wiegiedood gesterf.”

Dokters kon nie onmiddellik vasstel wat die omvang van sy beserings was nie. “Die dokters het vir my gesê die dagmoeder het sy lewe gered.”

Wessie is nou 22 maande oud en is serebraal gestremd. Hy gaan een keer per week na ʼn arbeids- en fisioterapeut vir behandeling. “Hy kan nie loop, sit, eet of praat nie. Hy word met ʼn voedingsbuisie gevoed en word baie maklik siek,” het Mariska gesê. Wessie is een van ʼn tweeling.

Volgens Philip Hamman, Wessie se pa, het Wessie se ouer boetie (6) leerprobleme begin ontwikkel as gevolg van die geweldige stres en ontwrigting wat die gesin ervaar.

JC Strauss, Mariska en Philip se prokureur, administreer tans ʼn fonds, die Wessie Hamman-fonds, om die ouers by te staan met huidige en toekomstige mediese uitgawes.

Strauss verduidelik dat Wessie binnekort ʼn spesiale rolstoel sal benodig. “Die huis sal uiteraard ook rolstoelvriendelik gemaak moet word. Soos hy ouer en moeiliker hanteerbaar word sal daar ook ander hulpmiddels soos ʼn spesiale bed met ʼn spesiale matras nodig wees.”

Wessie is tans terug by die kleuterskool waar die voorval plaasgevind het. Volgens Mariska het die dagmoeder nog nie ʼn aanduiding gegee oor hoe lank Wessel nog daar sal kan bly nie. “Die ideaal is om iemand te hê om by die huis na hom om te sien terwyl ek en Philip werk, maar dit moet ook ʼn opgeleide mediese persoon wees.”

Die gesin het ʼn mediese fonds, maar dié fonds dek nie al die uitgawes nie. “Ons het kollegas en vriende en familie wat ons help om van die skuld te delg maar dit tel op, daar is net heeltyd nog ʼn rekening en nog ʼn rekening. Ek het hom [Wessie] in Februarie vanjaar ook na ʼn ander hospitaal wat nie op die mediese fonds se netwerk is nie geneem vir ʼn tweede opinie en ons moes ʼn deposito van R20 000 betaal.”

Enigiemand wat ʼn bydra wil maak tot die fonds kan die prokureursfirma Bezuidenhouts ING kontak by 051 448 9755 en vra om met Carika Koen of JC Strauss te praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Basjan ·

Die prokureursfirma administreer die fonds wat gestig is om die ouers te help met onkostes wat aangegaan is.

MissDemeanor ·

Dis gewoonlik beter as n prokereurs firma die geld bestuur want hul moet seker maak alles is in orde. Dat familielede nie die geld misbruik nie, of ‘n fout maak met hoe dit bestuur word nie, dat belasting reg betaal word. So moenie dat dit jou afsit om ‘n skenking te maak nie. As die prokereursfirma ieys verkeerds doen dan kan hulle in baie groot moeilikheid kom, so hul moet juis dit reg bestuur.

Genieve ·

Dankie vir dai dagmoeder,ai dit kon so anders gewees het.Hoop van beste julle gaan enige hulp kry vir jul seen en sterkte vir julle as familie.

Ramkat ·

Sterkte aan die ouers met serebraal verlamde kind.
Ek weet alles daarvan.
My broker was so

Neilia ·

Ja Cherokee 20 000 ranc vis watn privaat hospitaal vra indien iets sou verkeerd gaan hulle die geld gebruik vir n bed .l.w net vir hospitaal ek glo daar gaan nog n rekening kom. Geld eerste hulp laaste. Dis die werklikheid van vandag se dienste

$ ·

Maroela, waarom impliseer julle die kleuterskool in jul berigopskrif – is dit vir sensasie en om die berig onder die “meeste gelees”-kategorie te kry? Die kind het wel by die kleuterskool ophou asemhaal, in sy bed – die “voorval” kan nie aan die kleuterskool toegeskryf word nie en na my mening is julle opskrif onsensitief teenoor die kleuterskooleienares wat alles in haar vermoë gedoen het om daardie kindjie by te staan – dis jammer dat mens eers deur die hele berig moet lees voordat mens kan agterkom dat julle nie vingerwys na die kleuterskool nie . Die opskrif is nie gepas nie.

Liewe $ ·

Ek dink nie MM “impliseer” dat dir kleuterskool skuld het aand die voorval nie…. maar eerder dat sommige kleuterskole / Dagmoeders baie liefde en moeite doen met kindertjies.
Dis meer “Te Danke Aan” n wakker Dagmoeder en assistent is hierdie seuntjie nog lewend.
3 Hooras vir die Dagmoeder!

Wonder ·

Mense wat die pad nie stp nie sal rerig nie verstaan nie. As ouer doen jy alles in jou vermoë om jou kind te help. R20 000 is niks nie, daar plekker wat R80 000 vra vir twee dae se behandeling en dan werk hulle vir jou n program uit vir 6 maande dan is dit weer R80 000. Baie sterkte aan die familie. Mag die Here dit op die regte mense se harte lê om bytedra.

Dankbaar ·

Ai my liefste mamma, my hart breek vir julle. Die dagmoeder het ook my seuntjie se lewe gered. Hy het twee keer ophou asemhaal, bloeding op die brein gekry en konvulsies. Ons was talle kere meegedeel dat hy nie die voorval sal oorleef nie. Maar, God het besluit om ons klein seuntjie te red en het hom weer lewe gegee. Ek bid vir julle en vir daai klein lyfie. Met God is niks onmoontlik nie. Moet nooit ophou glo en bid nie! Dink vreeslik baie aan julle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.