Goeie nuus: Goedkoper petrol vir die vakansie

Argieffoto.

Argieffoto.

Die prys van petrol sal waarskynlik op 3 Desember met ongeveer 75c per liter daal, terwyl die groothandelprys van diesel met sowat 55c behoort te daal.

Volgens Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die SNI, sal hierdie pryse tot 6 Januarie geldig wees, lank genoeg dat die meeste vakansiegangers reeds weer tuis sal wees.

“Hoewel die rand steeds gemiddeld gedurende November marginaal swakker teenoor die Amerikaanse dollar verhandel as wat dit gemiddeld in Oktober was, het die internasionale pryse van petroleumprodukte tot so ʼn mate gedaal dat noemenswaardige dalings in plaaslike brandstofpryse steeds in Desember sal plaasvind,” het Joubert gesê.

Die prys van 93-oktaan petrol in Gauteng sal na verwagting in Desember sowat R12,23 per liter wees, terwyl 95-oktaan petrol aan die kus ongeveer R12,00 sal kos. Dit sal die laagste pryse sedert die eerste helfte van 2013 wees. Petrol sal in Desember 2014 goedkoper wees as wat dit in Desember 2013 was. Dit sal die eerste keer sedert November 2009 wees dat petrol goedkoper as ʼn jaar tevore is.

“Dit is nog heeltemal te vroeg om met enige sekerheid te kan sê wat in Januarie 2015 met brandstofpryse in Suid-Afrika gaan gebeur, veral in die huidige omgewing waarin groot volatiliteit in oliepryse maklik kan voorkom,” het Joubert bygevoeg. “Tog, selfs al styg die pryse van petrol en diesel in Januarie, sal dit eers op 7 Januarie gebeur. Enige moontlike styging sal dus eers plaasvind nadat die meeste vakansiegangers reeds weer tuis is.”

Die departement van energie sal die finale aankondiging oor die pryse vir Desember op 28 November maak, terwyl Januarie se aankondiging op 2 Januarie gemaak sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish! ·

Goed en ons hoor dit! As die prys van petrol opgaan, is die eerste wat ons gedurig orals hoor dat kospryse opgaan. Die 3de daling en ek hoor, sien, voel en ruik niks! Die kospryse ens wat agv petrolprys gestyg het, kom net eenvoudig nooit ooit weer af nie! Hoe werk dit????? Kan enige geleerde mens dit vir my verduidelik………….. Tog is die rakke altyd ewe skielik leeg voor ‘n petrolstyging en 2 dae voordat dit styg……………….is alles duurder op die rakke en die petrolprys kry die skuld. Al is dit voorraad wat vir eers net van die rakke verwyder is. Ou voorraad wat al verrot en vol stof is op die rakke word afgestof en kry ‘n hergeboorte op die rakke as nuwe voorraad.

Drieks ·

Ek stem, hoe verklaar mens dit. En die vleispryse wat elke kersfees te hemele styg. Dis hoekom ek geen respek het vir al die Super Ryk ouens wat die kos ketting winkels besit nie, hul STEEEEEEL van ons.

Paul ·

Waar het jy gehoor kospryse styg omdat petrolpryse styg? Hoekom sou mens so dink?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.