Grayston-brug: Ondersoek na 2017 uitgestel

Foto: Netcare 911

Foto: Netcare 911

Die departement van arbeid het Maandag gesê die ondersoek oor die ineenstorting van die tydelike brugstruktuur by die Grayston-afrit op die M1 in Johannesburg, is tot volgende jaar uitgestel.

Twee persone is dood en 19 is beseer toe die voetganger- en fietsrybrug op 14 Oktober 2015 ineengestort het. Die departement het ʼn artikel 32- Kommissie van Ondersoek van stapel gestuur om die oorsaak van die ineenstorting van die steierwerk te ondersoek.

“Die ondersoekspan vergader weer tussen 27 en 31 Maart 2017,” het Mokgadi Pela, woordvoerder vir die departement, gesê.

Lennie Samuel, voorsitter van die kommissie, het Maandag gesê Gary Farrow, ʼn meganiese ingenieur van Australië, is in Melbourne en kon nie betyds bykomende inligting, wat Murray & Roberts op kort kennisgewing versoek het, indien nie.

Murray & Roberts het verlede week ʼn lys van 72 vra aan Farrow, Form-Scaff se kennergetuie, gestuur. Die kommissie was van mening hy is nie genoeg tyd gegun om op die vrae te reageer en gereed te wees voor hy voor die kommissie verskyn nie.

“Ons het nou ʼn uitdaging, want ons kon ook nie ander getuies betyds kontak om voor die kommissie te verskyn nie,” het Samuel bygevoeg. “Ons wou nie die Form-Scaff-getuie bevooroordeel en hom aan intense ondervraging onderwerp sonder genoeg tyd om voor te berei nie.”

Die kommissie sou na verwagting sewe aaneenlopende dae vergader het tot 6 September.

“Die kommissie is nou in ʼn penarie oor die verlore sewe dae, want volgende jaar sal ons ekstra druk hê weens tydsbeperkinge. Ek doen ʼn beroep op alle betrokke partye om by die tydskedule te hou wanneer hulle versoek word om verklarings en verslae in te dien om verdere vertragings te voorkom,” het Samuels bygevoeg.

Die ondersoek het in Februarie 2016 begin en dit sou ses maande voortduur. Vertragings weens verslae en verklarings wat laat ingedien is en regsverteenwoordigers wat nie beskikbaar was nie, het egter daartoe gelei dat die ondersoek gesloer het. Die ondersoek sal na verwagting nou eers volgende jaar afgehandel word.

Pela het gesê alle betrokke partye wat deur die tragedie geraak word, het die kommissie toestemming verleen om verlore tyd in te haal.

Minstens 26 getuies moet voor die kommissie verskyn.

Van die belanghebbendes sluit Murray & Roberts, die Stad Johannesburg, die Johannesburgse padagentskap, Form-Scaff, werknemers en vakbonde.

Lees alle vorige berigte oor die Grayston-brug op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Kortom: Wat daar gebeur het moes nie gebeur het met die vooruitgang van die siviele ingenieurswese. Daar moes voorsiening gewees het om hierdie ongeluk te voorkom maak nie saak die oorsake daarvan. Daar is gewoonlik altyd ‘n veiligheidsfaktor wat bestaan sodat by bereiking van die limiet daar nogtans geen ineenstorting van ‘n struktuur sal wees.
Waarom die vertraging oor ‘n struktuur wat myns insiens nie so ingewikkeld is om nóg verdere maande in beslag te neem vir afhandeling? Help my reg asb.?

Pik ·

Hulle moet gaan kyk hoe die kontrak toegeken was vir miljoene rande ek het my hande saamgeslaan en ontrek

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.