Groen lig vir SABMiller en AB InBev om saam te smelt

Argieffoto

Argieffoto

Die Mededingingskommissie het Dinsdag sy goedkeuring gegee aan die wêreld se grootste brouery, Anheuser-Busch InBev om SABMiller vir $100 miljard aan te skaf.

Daar is egter streng voorwaardes aan die ooreenkoms gekoppel, waaronder dat geen Suid-Afrikaanse werknemer afgedank mag word as gevolg van die samesmelting nie.

Itumeleng Lesofe, woordvoerder van die kommissie, het in ʼn verklaring bevestig ʼn aanbeveling is aan die Mededingingstribunaal gemaak dat die ooreenkoms “met voorwaardes” goedgekeur moet word. Die aanbevelings word gewoonlik deur die tribunaal aanvaar.

Ander voorwaardes sluit in dat die nuwe saamgestelde entiteit SAB se aandeel in Distell binne drie jaar moet verkoop en ʼn belegging van R1 miljard in Suid-Afrika se landbou moet doen.

Die maatskappye het ook ingestem dat hulle binne twee jaar van die samesmelting “swart ekonomiese bemagtigingsplanne” sal indien.

AB InBev het ook onderneem om seker te maak dat kunsbiere en biere van kleiner handelaars voldoende spasie in tavernes en handelaars se yskaste sal hê. Daar is tans meer as 100 verskillende soorte kunsbiere in Suid-Afrika. Die Mededingingskommissie was besorg dat daar nie genoeg spasie in yskaste sou wees om aan hulle ʼn regverdige kans te bied om doeltreffend te kompeteer nie.

AB InBev verskaf tans in Suid-Afrika slegs ingevoerde bierprodukte en die handelsmerke sluit Corona Extra, Stella Artois, Beck’s Blue en Budweiser in.

SABMiller is die grootste vervaardiger van bierprodukte en sy hoofhandelsmerke sluit Carling Black Label, Castle Large, Hansa, Castle Light en Peroni in.

Lees al die voorwaardes hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.