Groot perlemoenvonds in Wes-Kaap gemaak

Arfiefoto: SAPD

Nagenoeg R2 miljoen se perlemoen is vandeesweek in drie gebiede van die Wes-Kaap gevind en op beslag gelê.

Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die suksesse spruit uit die polisie se volgehoue poging om die onwettige handel in perlemoen te bekamp en smokkelsindikate te kniehalter.

“Die eerste sukses is Dinsdag omstreeks 23:00 gemaak. ʼn Verdagte in ʼn wit Nissan het teen ʼn hoë spoed in Sarel Cilliersweg in Napier gery. Polisiebeamptes op aanddiens het die voertuig agtervolg en van die pad af probeer trek, maar die man het probeer wegjaag,” het Van Wyk gesê.

Die verdagte het tydens ʼn hoëspoedjaagtog beheer oor die voertuig verloor en teen ʼn muur gebots. ʼn 29-jarige man is in hegtenis geneem op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur en die besit van perlemoen. Die polisie het op 1 313 stukke perlemoen beslag gelê. Dit het ʼn geskatte straatwaarde van sowat R400 000.

“Woensdagaand om 23:00 het die Kaapstadse mariene-wetstoepassingsowerheid inligting ontvang van persone wat met perlemoen in Melkbosstrand rond ry. Verskeie eenhede het reageer en teen Donderdag om 02:00 is ʼn verdagte Nissan Almera opgemerk, waarna ʼn insittende ses plastieksakke opgelaai het. Die polisie het daarna probeer om die voertuig van die pad af te trek, maar die bestuurder het weggejaag.”

Die polisie het die voertuig agterna gesit, maar die bestuurder kon daarin slaag om hulle te ontduik. Die voertuig is later verlate gevind. Die voertuig is deursoek en ses sakke vol perlemoen is gevind en op beslag gelê. Dit het ʼn geskatte waarde van R650 000. Niemand is nog in verband met dié voorval in hegtenis geneem nie. Die soektog na die verdagte duur voort.

“Donderdag teen 15:00 het beamptes van die honde-eenheid ʼn wenk ontvang en ʼn perseel in Parow-Noord gaan deursoek. Drie bokse met 598 stukke gedroogde perlemoen is in die kattebak van ʼn wit BMW X5 op die perseel gevind. Binne die gebou het die polisie beslag gelê op 6 439 nat stukke perlemoen. Dit het ʼn geraamde waarde van R900 000.”

ʼn 30-jarige verdagte is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van perlemoen.

“Die Wes-Kaapse polisie sal voortgaan in die stryd teen die plundering van ons skaars mariene hulpbronne en oortreders met mag beveg,” het Van Wyk gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

PaulM ·

Ja daai is nogal snaaks :) dan kan ek mar my tazz uithaal vir n wegkom voertuig lol

Tina Buys ·

Helaas, te min te laat, die skade is reeds gedoen. n Vonds is nie n oorwinning nie, proaktiewe polisiëring en strenger toepassing van regulasies wel.

Jos ·

Tina, dit is omdat die visserye inspekteurs te bang en sleg is om die plundelaars by die see aan te keer terwyl die perlemoen nog leef. Dus kan dit nie lewendig terug geplaas word in die see nie.
Hulle spits hulle toe op sagte teikens soos hengel lisensies ens. Nou moet die SAP hul werk vir hulle doen.
Uiters swak departement !!!!

Casper ·

6439 stukke perlemoen? Weet SAPS nie waar dit geplunder word nie? Stop dit VOOR of WANNEER die misdaad plaasvind, of word die gekonfiskeerde perlemoen weer sirkuleer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.