Hartroerende brief van Jayde in hof voorgelees

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

ʼn Hartroerende brief wat Jayde Panayiotou enkele maande voor haar dood geskryf het, is Vrydag in die Port Elizabeth-landdroshof voorgelees.

Staatsaanklaer Marius Stander het die brief wat Jayde agt maande voor haar dood geskryf het, voorgelees. Jayde het onder meer geskryf hoe sy gehunker het na liefde van haar man, Christopher Panayiotou, wat daarvan beskuldig word dat hy haar ontvoering en moord gereël het.

“Al wat ek nog altyd wou gehad het, was dat iemand my ten volle sal liefhê. Dat wanneer ons in ʼn besige vertrek is, ek die enigste persoon is wat hy sien. Om na my te kyk of ek die lopende voorbeeld van perfeksie is,” het Jayde geskryf.

Jayde se ma, Michelle, het styf teen haar man gesit en onbedaarlik begin huil toe die woorde hardop voorgelees is. Jayde se suster, Toni, het ook baie emosioneel geraak.

Volgens die brief was Jayde “jaloers” om te sien dat ander die lewe leef wat sy “begeer” het. “Ek soek ʼn normale lewe, ʼn man wat op ʼn normale tyd huis toe kom, ʼn normale werk het en tyd vir sy vrou en gesin het, iemand wat nie wegsteek of toesmeer nie. Iemand wat altyd sy vrou respekteer en eerste stel. Wat kan verstaan en sien hoe al die geld in die wêreld nie so belangrik is as om ʼn lewe te bou saam met sy vrou nie.”

Jayde se brief dui ook daarop dat sy moes “meeding” vir Christopher se aandag. Sy het daarna gehunker om ʼn gelukkige en normale lewe te lei en “die appel van haar man se oog te wees”.

“Hoekom steek hy soveel van my weg en hoekom is dit nie moontlik om met hom te kommunikeer nie? Hoekom voel dit of ek altyd moet meeding om saam met hom te wees of raakgesien te word? Hoekom wil hy nooit jammer sê as hy verkeerd is nie? Hoekom het hy sy belofte aan my verbreek? Hoekom leef ek die lewe wat ek nog altyd beloof het ek sal nie? Hoekom voel ek soos ek altyd gedink het ek sal nie? Dit voel of ek nie meer ʼn hart het nie, dit is geskeur en stukkend.”

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy die moord op Jayde in April verlede jaar georkestreer het. Hy het na bewering Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy nagklub, betaal om ʼn huurmoordenaar te kry om Jayde te vermoor. Sizwezakhe Vumazonke, die beweerde huurmoordenaar, het Jayde glo met Sinethemba Nenembe se hulp ontvoer en haar vermoor.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

johann cb ·

Dit is sowaar hartverskeurend! Hoekom moes sy vermoor word? Hulle kon maar eerder geskei het! Sterkte aan haar familie.

Laura ·

Haai dit is so hartseer….. Ek wil nie weet hoe voel daardie ouers… So jammer vir jul.

Stoney ·

Ek dink hy moet maar met die waarheid uit kom. Nog ‘n vrou wat moes boet met haar lewe vir ‘n hartelose skurk! Sluit hom toe. Hulle sal sy gal vir hom werk. Gee hom ‘n dubbel-dosis.

Lee-anne ·

Is dit nie hoe alle vroue voel nie? Is dit nie normaal nie? Dis hoe ek ook maar voel en aanvaar het as ‘die lewe’.

Frederik ·

Lee-anne, ek weet my oorlede moeder het gevoel soos jy, en dit is nie normaal nie. Daarom maak ek altyd seker dat my vrou voel soos Jade graag wou voel.

jurie blanche ·

hierdie veralgemeening van mans moet end kry daar is sulke vrouens ook.

CHRISTA ·

Waarom moet ‘n vrou so voel? Wat DWING haar om by so ‘n man te bly?

Francois ·

Baie hartseer.Sy het so grusame dood nie verdien nie .Wat n lafaard ! Sluit die vark toe en gooi die sleutel weg !!

Duitswes ·

Ek Stem…erg hartverskeurend.
Hoekom nie geskei? Ek is meer as seker dat hier het geld, ego en mag swaarder geweeg as integriteit, liefde en vergifnis. Ons kan nie twee gode dien nie; slegs die LEWENDE GOD.
Haar wense is nou vervul waar sy Jesus-Liefde in die hemel as engel ervaar…RIV.

CHRISTA ·

Leon, kyk na ons binnelanders ook!! Selfs groot sportshelde doen dieselfde en dit was nie eers sy VROU nie!

Sommerso ·

Nie alle mans laat vrouens so voel nie, dit kan ek getuig en ek is `n dame.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.