Helikopter-ongeluk: Twee steeds in waakeenheid

Veranda en Douw sr. Wentzel. Foto: Facebook

Louw Deale (49) en Douw Wentzel jr. (14), die man en seun wat die helikopter-ongeluk oorleef het waarin twee ander mense Vrydag gesterf het, word albei steeds in die waakeenheid van ʼn hospitaal in Alberton behandel.

Maroela Media het vroeër berig Louw, sy seun Andre (14), Douw Wentzel sr. (47) en sy seun, Douw jr., was op pad terug vanaf die Nampo-oesdag in Bothaville in die Vrystaat toe hul helikopter naby Heilbron neergestort het. Louw en Douw sr. is bekende boere van die Vrede-distrik.

Andre en Douw sr. is tydens die ongeluk dood, terwyl Louw en Douw jr. in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal gehaas is.

Cronjé Deale, Louw se broer, het Donderdag aan Maroela Media gesê Louw het al baie verbeter sedert die ongeluk. “Hy is heeltemal van die asemhalingstoestel af en by sy volle bewussyn. ʼn Skandering het ook getoon hy het nie ernstige beserings aan sy rug opgedoen nie, so hy kan dalk vandag vir die eerste keer opstaan,” het hy gesê.

Hy het gesê Louw kommunikeer goed en onthou toe die enjin van die helikopter uitgesny het, maar kan niks verder van die ongeluk onthou nie.

Volgens Deale sal Douw jr. vandag geopereer word om skade aan sy been te herstel. Hy is reeds Maandag geopereer om sy rugwerwels te herstel wat in die ongeluk beseer is. “Maandag se operasie was suksesvol en hy kon ná die tyd sy voete en tone beweeg, wat ʼn baie goeie teken is.” Hy het gesê Douw jr. is ook by sy volle bewussyn, maar dit is nie duidelik wanneer hy sterk genoeg sal wees om na ʼn gewone saal geskuif te word nie.

Intussen het Veranda Wentzel, Douw sr. se vrou, in ʼn roerende inskrywing op Facebook aan haar man hulde gebring. “My liefling, eggenoot, vriend en anker rus vandag saggies by Jesus,” het sy geskryf. “Ek salueer jou Douw, my man, en ek sit vir die laaste keer ʼn groot kroon op jou kop. Jy was die beste man vir my en die beste pa vir ons kinders. Ek het jou elke dag lief gehad met my hele hart. Ek gaan jou elke dag mis. Rus sag my Lief by Jesus. Vir altyd lief.”

Lees alle vorige berigte oor die Heilbron-helikopterongeluk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kowie Mare ·

Baie sterkte vir die famielie ons dink in die tyd van nood aan jul van Namibia

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.