Hengeluitstappie eindig tragies

Argieffoto

Argieffoto

Twee mans is Sondag dood tydens ʼn hengeluitstappie by Virginia-strand in Durban.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Marshall Security, het gesê die mans, vermoedelik 24 en 35 jaar oud, het op die pier by die strand gestaan en visvang toe ʼn golf met die stygende gety die jonger man van die pier afgeslaan het.

“Die man is deur ʼn stroom in die see meegesleur en die ouer man het ingespring om hom te probeer red,” het Van Reenen gesê.

Veiligheidsbeamptes van Marshall Security is omstreeks 14:00 deur omstanders na die strand ontbied.

“Toe die beamptes daar aankom het hulle die ouer man sowat 1 km dieper die see in gesien. Hy was duidelik in die moeilikheid. Twee beamptes het na hom geswem en hom na die strand gebring,” het Van Reenen gesê.

Die veiligheidsbeamptes het dadelik begin om noodhulp toe te pas, waarna paramedici van Netcare 911 by hulle oorgeneem het. Paramedici het nagenoeg 40 minute gepoog om die man by te bring, maar dit was tevergeefs en hy is op die toneel dood verklaar.

Die jonger man se liggaam het later op die strand uitgespoel. Niks kon vir hom gedoen word nie en hy is ook op die toneel dood verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wonderlike heldedaad ·

Wat n fantastiese heldedaad. So jammer jy kon nie in jou poging slaag nie! Sterkte aan beide families.

Landrot ·

Werklik tragies, gebeure wat al vir jare der jare herhaal word by die see. Meer as 65 jaar gelede het die kruisies op die rotse in die omgewing van Gordonsbaai as kind ‘n geweldige indruk op my gemaak. Op ‘n vraag aan my pa was die antwoord dat hengelaars deur fratsbranders van die rotse afgeslaan is en die kruise dan so opgerig is. Die see is niemand se maat.
‘n Groot waarheid wat ek jare gelede gelees het as ‘n plakker agterop ‘n voertuig was: “You won’t be the first one but you could be the next one”.

Magda ·

Ek weet van daai kruisie. Ek is nou 65 dit my as kind ook baie hartseer gemaak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.