Hof hoor oor Panayiotou-lokval

Christopher Panayiotou in die hof (19 April 2017) Foto: Raahil-Sain / ANA

Die proses wat deur die polisie gevolg is voor Christopher Panayiotou in ’n lokval gelei is en homself glo geïmpliseer het in die moord op sy vrou, Jayde, het Vrydag in die hooggeregshof in Port Elizabeth ontvou.

Kapt. Kanna Swanepoel, die ondersoekbeampte, het getuig in die verhoor van Panayioutou en sy medebeskuldigdes Luthando Siyoni, Zolani Sibeko en Sinethembe Nemembe wat teregstaan vir die moord op Jayde in April 2015. Panayiotou word as die vermeende baasbrein agter die moord verhoor.

Adv. Terry Price, SC, Panayiotou se regsverteenwoordiger, wou tydens kruisondervraging by Swanepoel hoor hoe hy te werk gegaan het toestemming te gekry het dat Siyoni vir Panayiotou by ’n vulstasie kon ontmoet as deel van die lokval.

Die polisie het op 28 en 29 April 2015 telefoongesprekke tussen Siyoni en Panayiotou gefasiliteer. Swanepoel het getuig die doel van die telefoongesprekke was om Panayiotou te kry om homself by die moord te impliseer. Volgens Swanepoel het die plan egter nie gewerk nie en het hulle tou opgegooi.

Panayiotou het egter teruggebel en dit is toe dat die ontmoeting tussen die twee gereël is. “Het jy die direkteur van openbare vervolging gebel om toestemming te kry?” wou Price van Swanepoel weet.

“Ek dink so, ek sou nooit sonder toestemming voortgegaan het nie,” het hy geantwoord. Swanepoel het gesê hy kan nie onthou of hy die oproep gemaak het en of hy iemand opdrag gegee het om dit te doen nie.

Die hof het later gehoor Siyoni het doodsdreigemente ontvang terwyl hy in aanhouding was. Volgens Price het Swanepoel nie vir Sioyni of Panayiotou hul regte voorgehou nie.

“Christopher wou nie die boek teken nie. Wat moes ek doen, sy hand breek en hom dwing om te teken?” Volgens Price het die polisie nie vir Siyoni aangekla nie aangesien hulle geen bewyse teen Panayiotou het nie.

Volgens Swanpoel was die oproepe tussen Siyoni en Panayiotou nie sy idee nie, maar Siyoni se idee. “Hy wou nie pa staan vir iemand anders se dade nie.”

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor die Panayiotou-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.