Hof sê nee vir UV se appèl oor taalbeleid

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Evert Kleynhans (RooistoelTV) via UV Facebook

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Evert Kleynhans (RooistoelTV) via UV Facebook

Die konstitusionele hof het Woensdag ʼn aansoek van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se bestuur dat die appèl oor die universiteit se taalbeleid direk deur hierdie hof aangehoor moet word, met koste van die hand gewys.

Volgens die hofuitspraak is dit nie in die belang van geregtigheid dat die appèl in hierdie stadium deur dié hof aangehoor word nie.

Die UV het hom tot die konstitusionele hof gewend nadat die Bloemfonteinse hooggeregshof in Julie vanjaar beslis het dat die universiteit se raad en senaat se besluit op ʼn taalbeleid wat Afrikaans as primêre onderrigmedium uitfaseer, tersyde gestel word. Die UV-bestuur het gepoog om direk tot die konstitusionele hof teen dié uitspraak te appelleer.

 Die burgerregte-organisasie AfriForum en die vakbond Solidariteit het die konstitusionele hof se uitspraak verwelkom. Volgens Johan Kruger, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, sal die UV hom nou tot die hoogste hof van appèl moet wend. “Die saak is van geweldige groot belang wat taalregte betref en dit is dus belangrik dat dit op alle vlakke in die laer howe geargumenteer word,” het Kruger gesê.

Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het bevestig dat die organisasies se regspan gereed is vir die appèlsaak. “Tog is dit tragies dat UV se bestuur hardnekkig voortgaan met die saak, ten spyte van die hof se duidelike beslissing dat die nuwe taalbeleid diskriminerend is en studente van toegang tot studie by die instelling gaan weerhou,” het sy gesê.

Sy het die uitspraak beskryf as die derde oorwinning vir AfriForum en Solidariteit in die stryd teen die bestuur se keuse vir ʼn ongrondwetlike taalbeleid.

“Solidariteit en AfriForum doen ʼn dringende beroep op alle voornemende Afrikaanse studente aan die UV om in hul aansoeke duidelik te meld dat hulle in Afrikaans wil studeer. Die universiteit moet van die behoefte aan Afrikaanse onderrig kennis neem en studente kan met dié keuse bewys hoe sterk hulle oor hul reg op moedertaalonderrig voel,” het Bailey gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Dup du Plessis ·

…want as Afrikaans hier uitfasseer word moet daar op ‘n ander kampus 100% vir Afrikaans voorsiening gemaak word …op hierdie stadium is PUK die enigste moontlikheid om daaraan te voldoen. Daar kan nie van betalende ouers en studente verwag word om nog van hul taal ook ontneem te word nie….belasting betalende mense het die reg volgens ons grondwet om in hul moedertaal onderrig te word, dis immers ook ons land van geboorte…..en dit behoort dan 1 funksionerende universiteit in SA te wees (buiten Akademia en ‘n klompie privaat instansies)

Jeanne ·

My redenasie bly as volg. As jy in ENGELS wil studeer, kan jy steeds in Engels studeer. Die feit dat Afrikaanse mense in Afrikaans mag studeer het NIKS met jou uit te waai nie. Wanneer jy inskryf by die universiteit moet jy op jou aansoekvorm invul in watter TAAL wil jy onderrig ontvang, so as jy Engels daar getiek het en jy kry in Engels jou onderrig, WAAROOR gaan jy aan oor Afrikaans? Niemand dwing jou om die Afrikaanse klasse by te woon nie, die dosente praat nie Afrikaans met jou nie so wat is die jaloesie oor Afrikaans nou eintlik? Jy het hou keuse as Engels opgesit, jy kry alles in Engels, los Afrikaans uit. As daar bv ‘n klas in Portugees aangebied word by die Universiteit, wat het dit met my te doen? Dis ‘n massa-histerie, meer vir politieke gewin as om regtig vir ‘n taal te baklei.

Ella ·

Jeanne, jy het dit maklik verstaanbaar geskryf, dat hopelik sal alle belangegroepe jou kommentaar kan lees, en kennis neem! Hoekom word geboue afgebrand om aandag te trek? Daar is reeds nie geld vir studente nie, waarmee moet hierdie geboue herbou word en die inhoud vervang word? Eish!

Knapie ·

Jansen en bestuur verskil niks van SAUK en Hlaudi nie….arrogansie aan die orde van die dag.

Maria van Dieweeck ·

Goed gestel Jean, stem saam. n Groot deel van ons probleme spruit uit jaloesie van ander nasies!

JC ·

Geluk Afriforum!!
Ek stem saam met Jeanne, haar kommentaar is in die haak!
Maria en Hoffman, julle slaan ook die spyker op die kop.
Die Grondwet SAL NOOIT buig voor politiekery, anargie, jaloesie en diewery nie!!

humor ·

Jeanne jy is baie duidelik Afrikaans. Jy stel en beredeneer dit so duidelik dat selfs die man met die pappot gesig dit ook sal verstaan. Wanneer wil hy dan koers kry.?

Loeis ·

Baie geluk en baie dankie vir wat julle doen, AfriForum!

Is daar dalk ‘n manier dat lede van die universiteit se raad in hul persoonlike hoedanigheid vir die regskoste verbonde aan hul optrede verantwoordelik gehou kan word?

Sê net ·

Hulke sien hul bly hofsake verloor, maar hul leer nie – nes hul studente – Hul arrogansie ken geen perke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.