Hof sê vandag oor Grace Mugabe

Grace Mugabe. Foto: (AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi, File)

Die Noord-Gautengse hooggeregshof gaan na verwagting Vrydag uitspraak lewer in AfriForum en Gabriella Engels se aansoek om die diplomatieke immuniteit wat aan Grace Mugabe, Zimbabwe se presidentsvrou, toegestaan is, te heroorweeg.

AfriForum, wat Engels verteenwoordig, het die hooggeregshof in Pretoria op 19 September genader om Mugabe as party te voeg tot die aansoek om hersiening rakende die besluit om diplomatieke immuniteit aan haar toe te staan nadat sy van aanranding op Engels aangekla is.

Mugabe het Engels, ʼn 20-jarige model, na bewering op 13 Augustus in ʼn hotelkamer in Sandton met ʼn kragkabel aangerand. Engels het ʼn saak van aanranding teen Mugabe aanhangig gemaak, maar Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge, het diplomatieke immuniteit aan haar toegestaan waarna Mugabe na Zimbabwe terug is.

Mugabe het daarna glo in ʼn verklaring ontken sy het Engels aangerand en daarenteen beweer dat ʼn “dronk en versteurde” Engels haar met ʼn mes aangeval het en dat Mugabe oorweeg om ʼn aanklag van poging tot moord aanhangig te maak.

“Dit is ʼn patetiese poging om haarself los te wikkel. Ek kan nie sien hoe daar ʼn punt bereik kon word waar my dogter haar met ʼn mes kon aanval as sy so baie lyfwagte het wat haar heeltyd vergesel nie,” het Debbie Engels, Gabriella se ma, tydens die aansoek op 19 September buite die hooggeregshof aan verslaggewers gesê.

Lees alle vorige berigte oor Grace Mugabe op Maroela Media.

Gabriella (links) en Debbie Engels buite die hof. Foto: Brenda Masilela / ANA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frikkie (Nie pienk) ·

Nou-ja. Vandag sal ons vir Gerrie Nel in al sy glorie sien.

Eish ·

Die land is uitgehonger vir reg en geregtigheid.
Sy psige is vuisvoos en sy kinders rigtingloos. Die toekoms is n dik, donker, hoë, geslote staahek. Hoop se uitbundige vlam geblus en die die pit rook krullend, lui-lui die stilte in, om in die niet te verdwyn.
Die flenterbagasie wat verpligtend saamgedra moet word, het ons skouers afgerem tot n gespanne boog. Ons sirkel doelloos tussen die een voertsek en die ander. Ons aanbiddelikke Vader huil oor ons smeking, maar miljoene gebede bly rondom verwagtings rondhang en die Wes Kaap is gereduseer tot n skiferkors. Groothandel godsdienswinkels verminder personeel en verkoop nie meer leer gebinde, goudbeslag, rigtingwysers nie. Die verteerdes se skelette word gadegeslaan in hul hokkies van hout en sink, met oë donker van selfsug. Die wagters op die stad se mure hou nie meer wag nie en ploeter heel uit hul diepte rond. Swaard, spies en skild verruil vir n paar pond. Die keiser loop kaalgat rond, doof gelag, vir die gepeupel se spot.

marous ·

Eish – selfs die grootste filisoof sou dit nie beter kon stel nie!

Yolandi ·

Ek is mal oor dit. So uit ‘n Afrikaner Hart. So waar, diep en mooi. Lekker afrikaanse woorde.

willem ·

volgens grace se verslag was Engels versteured volgens die woorde boek is dit
‘disturbed’ en dit beteken ‘having or resulting from emotional and mental problems’ so ver ek verstaan is daar n sekere mate van geleerdheid wat n persoon moet he om so “diagnose” tekan maak mag ek vra of grace die nodige kwalifikasies besit om so n stelling tekan maak in die nie mag Englels mos n karrakter skending saak ook teen haar maak of sit ek die pot nou mis of in die geval snap ek nou die kragkabel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.