Hulp stroom in ná hospitaalbrand

Foto: Twitter via @_ArriveAlive

Foto: Twitter via @_ArriveAlive

Bonginkosi Madikizela, die DA se waarnemende leier in die Wes-Kaap, het Sondag almal bedank wat hulp verleen het nadat ʼn brand die grootste deel van die Swartland-hospitaal in Malmesbury verwoes het.

Maroela Media het vroeër berig die brand het ontstaan in Saal A, waar bouwerk gedoen is, voordat dit na die noodgevalsentrum en teaters versprei het. Dit is nog nie bekend wat die oorsaak van die brand was en of dit met die opknappingswerk by die hospitaal verband hou nie.

Ongeveer 90 pasiënte moes na nabygeleë hospitale in Atlantis, Stellenbosch en die Paarl oorgeplaas word.

Burgemeesters van die Swartland-munisipaliteit en die Weskus-distriksmunisipaliteit, asook die Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, Nomafrench Mbombo, was Sondag op die toneel. “Die DA verwelkom die hulp van al die sfere van die regering om diegene wat deur die brand geraak is, by te staan,” het Madikizela gesê.

Foto: Twitter via @_ArriveAlive

Foto: Twitter via @_ArriveAlive

“Ons verwelkom ook die ondersteuning van die plaaslike gemeenskap aan die pasiënte. ʼn Kerksaal is beskikbaar gestel waar sommige pasiënte gehuisves is voordat hulle na ander hospitale oorgeplaas kon word. Gemeenskapslede het komberse en ander voorraad aangedra vir die mense wat geraak is.”

Die administrasieblok van die hospitaal is nie deur die brand geraak nie, maar die res van die hospitaal is erg beskadig. Leensie Streicher, woordvoerder van die hospitaal, het vroeër aan Maroela Media gesê die kraamsaal en pediatriese sale het nie skade opgedoen nie, maar die elektrisiteitstoevoer na hierdie dele is afgesny.

“ʼn Plaaslike kliniek sal intussen voorvalle soos steekwonde en dies meer hanteer, terwyl kraamgevalle na die Paarl verwys word. Die hospitale in Piketberg, Vredenburg en Porterville is tans op bystand vir ernstige noodgevalle,” het Madikizela gesê.

“Die DA bedank die samewerking van brandbestryders van die Swartland-munisipaliteit en die Weskus-distriksmunisipaliteit om die vlamme te blus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Eers val n hospitaal se dak in tydens herstelwerk…en nou dit?

Jos ·

Ek neem aan dis ‘n staatshospitaal, en die staat is nie eers betrokke met hulpverlening nie. Die gemeenskap moet hulp verleen. Herstelwerk is seker gedoen deur onkundiges uit die geografiese omgewing want die wet se mos so.

Wanda ·

Gaan kyk maar wie bied hulp aan…..as jy maar sien is dit wittes wat kospakkies klere komberse ens aanbied en uitdeel. Dit word nooit raak gesien nie.

martmarie ·

Ek dink nie hierdie is die plek om sommer net aannames te maak nie. As jy nie persoonlik daar betrokke was Saterdagaand nie, hou eerder maar eerder u snedige aanmerkings terug. Die HELE gemeenskap het saamgewerk Saterdagaand. Alle geloofs-en kleurgroepe. Ons almal besef dit is ons dorp se hospitaal waar vele van ons inwoners gebore is. Dit is die plek waarheen jy geneem word in ‘n noodgeval en die wat nie medies het nie, geholpe raak. Hierdie ramp raak die HELE gemeenskap. Dit was tereg opgemerk deur een van die dokters, dat die saamstaan van hierdie dorp ‘n mens klein laat voel en jou dankbaar maak om deel te wees van hierdie gemeenskap. Dit was ‘n voorreg om van hulp te kon wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.