Jong uitblinker sterf in tuisdorptragedie

Karel Minnie (14). Foto: Verskaf

ʼn Gemeenskap is in rou nadat Karel Minnie (14), ʼn uitblinker op skool, Maandag in sy tuisdorp tragies gesterf het.

Johanna Duvenhage (36), Karel se ma, het Donderdag aan Maroela Media gesê hul harte is nog bitter seer, maar die gemeenskap van Odendaalsrus dra hulle op die hande deur die moeilike tyd.

Karel het sy laerskoolloopbaan verlede jaar aan Laerskool Odensia in dié Vrystaatse dorp voltooi. Hy was elke jaar onder die top-10 akademiese leerders, het rugby gespeel en is ook verlede jaar as die skool se beste 0.13-kolwer aangewys.

Hy het vanjaar sy hoërskoolloopbaan aan die Hoër Tegniese Skool (HTS) in Welkom begin en het van die skool se busdiens gebruik gemaak om tussen sy huis en Welkom te pendel.

Karel is Maandag omstreeks 15:00 deur ʼn motor getref, kort nadat die bus hom in Odendaalsrus afgelaai het.

“Hy wou Voortrekkerstraat oorsteek op pad huis toe. Hy het tot op die middelmannetjie gegaan waarna hy tot in die middel van die ander twee bane geloop het. Soos ons verstaan, het hy ʼn bakkie sien aankom en daarvoor geskrik. Hy het agtertoe getrap en toe voor ʼn jong vrou se motor beland,” het Duvenhage gesê.

Alle omstanders, onder wie die motoris, het dadelik die seun bygestaan en nooddienste ontbied. Hy is met ʼn ambulans na die Bongani-hospitaal in Welkom geneem.

“Die dokters daar het alles in hul vermoë gedoen om sy lewe te probeer red. Ons was omstreeks 16:00 by die hospitaal en twee uur later is hy breindood verklaar.”

Karel se ma, stiefpa, Frikkie (41), en grootouers, Michael (70) en Johanna (71) Rothner, was by sy hospitaalbed toe hy dood is.

Duvenhage het gesê hulle het geen kwade gevoelens teenoor die motoris, ook van Odendaalsrus, wat haar seun raakgery het nie. “Ek weet sy gaan deur net so ʼn moeilike tyd. Ons praat elke dag en sy kan nie genoeg jammer sê nie. Ons verstaan dit was ʼn ongeluk. Daai pad is gewoonlik stil, maar kan besig raak wanneer die skole uitkom.”

Sy vertel Karel was tegnies aangelê en lief vir handwerk. “Hy wou nog altyd HTS toe gaan om daar te leer.” By sy hoërskool het hy in krieket uitgeblink en sou later vanjaar ook rugby gespeel het.

“Hy was baie opgeruimd en het altyd gehelp waar hy kan. Hy het die vermoë gehad om baie vinnig diep in almal se harte in te kruip. Hy was spontaan en het altyd grappe gemaak en gespeel.”

Volgens Duvenhage was Karel baie lief vir visvang, diere en die buitelewe en het graag saam met sy maats gaan fietsry of rondstap.

Duvenhage het almal in die gemeenskap bedank wat hulle in die afgelope tyd bygestaan het met gebede, boodskappe van bemoediging en bystand.

Karel se begrafnisdiens sal Dinsdag om 13:00 by die Arendsnes-kerk in Hospitaalpark plaasvind. Past. Jurgens Meyer gaan die diens waarneem.

Buiten sy ma, stiefpa en grootouers, laat hy sy pa, Rassie Minnie, en stiefma, Yolandi, drie sussies (6, 8 en 10 jaar oud) en ʼn halfbroer (22) agter.

Die polisie doen ʼn roetine-ondersoek van strafbare manslag, waarna die nasionale vervolgingsgesag sal beslis of enigiemand vervolg gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Engela de Klerk ·

Dis hoekom die busse in SA soos die in Noord-Amerika moet werk. Gaan ‘n skoolbus verby, wat kinders aflaai, en jy verloor jou lisensie! Selfs op ‘n dubbele pad, hier in Kanada, as daardie skoolbus stop, stop ALMAL van beide kante van die pad. So tragies!

Citroe ·

Ek stem oor die busse, maar die het nie veel met die bus te doen nie.

Louw ·

voetgangers is veronderstel om voorkeur te kry .maar ongelukkig loop bestuurders in die land oor van ongeduld en selfsug….

Ilse-Marie ·

Rus sag pragtige seun. Baie sterkte vir die ouers, skoolmaats, vriende en familie. Ook aan die motoris. Kan dink dit is nie maklik nie. Mag julle vertroosting vind by Jesus se voete ?

Sarie ·

Dis vrééslik hartseer… My innige simpatie aan sy ouers en àlmal wie vir hom lief was… Hy was ñ bàie mooi seun. ñ Vriendelike oop gesig en hy kyk mens reguit in die oë…

bren ·

Baie baie sterkte aan almal; mag jul harte stil raak en berusting vind; om n kind te verloor moet absolute hel wees. Hy was n pragtige jongman.

mc ·

Wat ‘n pragtige seun, mens kan sommer in sy oe sien dat hy in almal se harte ingekruip het. Ek is so verskriklik jammer aan almal betrokke. Mag God julle styf toevou in sy liefde en vertroosting. Baie baie sterkte.

Sandra ·

My hart breek saam hierdie ouers want ek weet hoe swaar die pad vorentoe is. Ek is dankbaar dat hulle nie die vrou kwalik neem nie want ek dink haar hel is net so erg. Dis vir my so interresant dat mense altyd sê, dat die kinders wat jonk sterf, opgeruimd, lief vir die lewe, geliefd en lief vir die natuur en buitelewe was. My kind was ook……

Siener van Melbourne ·

Hier in Australië word die spoedgrens af gebring na 40kmh soggens en smiddae tydens skool begin en eint tye wanneer leerders paaie gebruik rondom skole. Die res van die tyd is die residensiële spoedgrens 50kmh. Ek waardeer dit en maak dit soveel veiliger.

E.K. - ek sê net! ·

Siener selfs teen 40km ‘n uur kon die net so gebeur het.

Jakalas ·

E.K, Ek dink wat Siener ook bedoel is dat as iemand teen 40km/h getref word i.p.v 60km/h kan ‘n groot verskil maak of daai persoon gaan lewe of nie. Gee mens ook vinnger tyd om te reageer as so iets moet gebeur wat ‘n groot impak maak op die beserings wat op gedoen kan word in so geval.

Anso ·

Dis hartverskeurend. Baie sterkte aan sy ouers en al sy geliefdes. Dis ‘n baie moeilike pad. Pragtige seun xxx

Hannelie ·

So ‘n pragtige jong seun. Hy is nog so verskriklik jonk. Baie sterkte aan sy ouers en familie, mag jul vertroosting vind. Ek dink ook aan die vrou wat betrokke was in die ongeluk, mag jy vrede kry. ‘n Ouer is nie veronderstel om ‘n kind so vroeg te verloor nie…..ek het gesien wat dit aan my ouers doen.

Toy ·

Ai n pragtige seun dit is baie hartseer. Sterkte aan al di familie.

Vangie ·

Ai KG ons gaan jou baie mis seun jy was n pragtige kind en Rassie ons almal dink aan jou en Yolande. Hy was n liefde volle kind in die kort tydjie wat ons hom leer ken het van Desember af gaan hom baie mis. Julle moet sterk staan en weet julle bly in ons gebede.

Daan ·

Innige simpatie aan die familie.E.K.,in NZ is dit ook 40 km/uur by skole.Die spoedgrens maak jou ook dadelik bedag om versigtig te wees.Ook baie beter as mense wat 70 ry waar ‘n 60 spoedgrens geld.En ry asb ekstra versigtig verby voetgangers en fietsryers.Ek laat altyd ekstra ruimte om hulle.Moet ook nie teen die middellyn van ‘n pad ry nie.

Jakalas ·

So jonk en so veel potensiaal gehaad as ‘n jong tiener en ‘n toekomende volwassene. Ek kry die motoris en die familie ewe jammer. Die spooke wat daai dame nou in haar slaap het kan ek net dink kan enige mense verwoes. Om dit nog erger te maak, kan sy dalk tronk straf kry vir die ongeluk, wat ek dink onnodig is. As die vrou die spoed grens en pad reëls gehoorsaam het, sien ek geen rede vir haar om tronk toe te gaan vir strafbare manslag nie. Party keer is die gereg maar onregverdig. Sterkte vir almal.

Jeannie ·

Mag die Liewe Vader julle almal toevou in Sy Hande, troos en berusting bring.
Baie sterkte.

Liza101 ·

Ek lees almal se kommentare hierbo, en dink ja almal gee raad en wil nie he so iets moet weer gebeur nie, maar niks kan hierdie pragtige kind vir sy ouers teruggee nie…. Dit is so vreeslik hartseer! Ek bid dat die Here julle styf sal vashou en ook die dame wat bestuur het, ek bid vir julle almal. Rus in vrede pragtige sonskyn kind!

afrikaans ·

Dis soooooooooo hartseer, sterkte aan die families x x x x x x x

so jammer ·

Baie jammer om van julle verlies te lees. Dis baie hartseer. Wil ook maar net noem dat elke mens se tyd om te sterf lank voor sy/haar geboorte reeds bepaal is. Niks sou die tragedie kon verhoed nie. Ek besef net weereens hoe kort die lewe is en dat ons moet liefhê en omgee terwyl ons nog hier is. Hierdie prag kind het beslis dié kuns bemeester. Sterkte

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.