Kaapse waterkrisis: Wat word gedoen?


kaapstad-lugfoto

‘n Lugfoto van Kaapstad. Foto: Sharonang/Pixabay.com

Die Wes-Kaap is steeds in die greep van ʼn ernstige droogte van twee jaar.

Dit staan in skrille kontras met die res van die land, wat plek-plek al verligting ervaar het met goeie reën, soveel so, dat waterbeperkings in Gauteng Maandag amptelik opgehef is.

Die watervlakke in Wes-Kaapse damme het hierdie week tot ʼn gemiddelde vlak van 28,4% gedaal nadat dit nog verlede week op 31,5% gestaan het. Boonop het die Stad Kaapstad verlede week ʼn plaaslike noodtoestand verklaar en Maandag gesê daar is nou net 105 dae se bruikbare water vir inwoners oor. ʼn Verdere vyf munisipaliteite is in die middel van Februarie as plaaslike rampgebiede verklaar te midde van die voortslepende droogte.

Anton Bredell, Wes-Kaapse minister vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het gesê verskeie munisipaliteite sal vandeesweek nog vergader om te besluit oor die volgende stappe om die oorblywende water te bestuur.

In effek het die meeste van die provinsie se damme nog eintlik net so min as 20% bruikbare water oor. “Damwater kan net tot op 18% gebruik word, want dit is die minimumwatervlak wat nodig is om die natuurlike ekologie van ʼn dam in stand te hou. Daarna raak slik ook ʼn kwessie en die water sal deur ekstra suiweringsprosesse moet gaan om dit drinkbaar te maak,” het Julius Kleynhans, portefeuljedirekteur vir water en omgewingsake by die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), gesê.

berg-rivier-dam

‘n Lugfoto van die Bergrivierdam tussen Franschhoek en die Paarl. Die foto is geneem in Junie 2016. Foto: commons.wikimedia.org.

Kleynhans meen buiten die droogte plaas kwessies soos vinnige verstedeliking verdere druk op ʼn stad soos Kaapstad se waterverskaffing in tye van droogte. Kenners soos Willem de Clerq van die Universiteit Stellenbosch se Waterinstituut het ook onlangs aan Radio Rosestad in Bloemfontein gesê die vinnige bevolkingsgroei in die Kaapse metro dra by tot die waterkrisis, terwyl baie inwoners in die stad hulle steeds eenvoudig nie aan waterbeperkings steur nie.

Volgens Charl Opperman, hoofuitvoerende beampte van Agri-Wes-Kaap, is die stad se waterverskaffingsinfrastruktuur vir ʼn miljoen mense ontwikkel en dit moet tans aan sowat 3,6 miljoen mense water verskaf. “Daar was ʼn geweldige invloei van mense na die stad oor die laaste paar jaar en groot uitbreidings het plaasgevind, maar bitter min infrastruktuur vir waterverskaffing is bygevoeg.”

Opperman het gesê landbou in die Wes-Kaap trek ook swaar. “Boere is op ʼn 30% waterbeperking geplaas, terwyl 50% van ons water van damme kom wat in die laaste twee jaar nog nie ʼn kans gehad het om ordentlik op te vul nie. Daar word nou geoes, maar boorde kan nie natgelei word om dit voor te berei vir die volgende seisoen nie. Ek vermoed ons gaan nog die uitwerking van hierdie droogte oor die volgende twee tot drie jaar voel.”

Kenners waarsku al sedert 2011

Die huidige droogte is die derde een wat die stad sedert 2001 tref. Die watervlakke van damme het in 2005 ʼn algehele laagtepunt van 26% bereik en kenners het in 2011 gewaarsku die stad se water kan binne die volgende ses jaar opraak. Daar kan met reg gevra word wat die stad oor die afgelope paar jaar gedoen het om toekomstige waterkrisisse af te weer.

Een van die kenners wat gemaan het die stad moet beter voorsiening vir waterverskaffing maak, is prof. Jenny Day van die instituut vir waterstudies aan die Universiteit van die Wes-Kaap en Varswaternavorsingsentrum in Kaapstad.

Day het gesê die waterkrisis wat Kaapstad tans teister is nie noodwendig veroorsaak deur gebrekkige beplanning van die stad se kant nie. “Die Stad Kaapstad was besig met die voltooiing van verskeie uitvoerbaarheidstudies wat aanleiding sou gee tot nuwe waterverskaffingsplanne wat tussen 2019 en 2021 ingestel sou word, maar die buitengewone droogte het die stad heeltemal onkant gevang.”

Verskeie projekte vir die aanvulling van waterskemas

ontsoutingsaanleg-mosselbay

Die ontsoutingsaanleg by Mosselbaai. Foto: Infrastructurene.ws

Van die langtermynopsies wat in die studies ondersoek is, is die moontlikheid van seewaterontsoutingsaanlegte. Day meen egter dit is ʼn baie duur laaste uitweg vir die Kaapse waterkrisis. “Ontsouting werk aan die Namibiese kus, waar die land in ʼn permanente toestand van droogte verkeer. ʼn Ontsoutingsaanleg kan baie vinnig opgerig word en dit is wat in Mosselbaai gebeur het toe die dorp ʼn paar jaar gelede ʼn ernstige droogte ervaar het. Die ontsoutingsaanleg het egter net vir ses maande gewerk en daarna in totale onbruik verval, want as ʼn gebied goeie reën ontvang, is dit eenvoudig net te duur om die aanleg te gebruik.”

Navorsing toon die Stad Kaapstad kan ʼn ontsoutingsaanleg bou teen ʼn koste van R15 miljard, wat water teen 450 megaliter per dag kan suiwer. ʼn Aanleg wat net 150 megaliter water per dag suiwer, se bedryfskostes sal R386 miljoen per jaar beloop, wat ʼn direkte implikasie op watertariewe sal hê en inwoners sal dus baie meer vir die water moet betaal.

Volgens Day is nog ʼn opsie wat ondersoek word om die waterkrisis op die langtermyn te hanteer, die ontginning van die Tafelbergreeks se waterklip (aquifer), wat strek van Port Elizabeth tot Kaapstad en die Cederberge.

Die projek om die ontginning van dié water te ondersoek, is in 2002 van stapel gestuur en die plan was om die waterprojek in 2024 te implementeer. In die eerste fase van die projek is gebiede vir ontginning geïdentifiseer, waarna eksplorasieboorgate in 2007 gesink is. Die boorgate is in 2009 voltooi en toerusting is geïnstalleer wat die oppervlakwater gemonitor het.

“Die waterklip in die Tafelbergreeks bestaan uit miljarde kubieke meter water, maar dit is nog nie duidelik wat die uitwerking van die ontginning van die water op die streek sal wees nie. Die uitdaging is om die water ekonomies te ontgin en te verseker dat dit nie skade aan die standhoudende vloei van ondergrondse strome aanrig nie. Hermanus gebruik reeds van hierdie grondwater en het geen waterbeperkings nie, maar net die tyd sal leer wat die langtermynuitwerking op die grondwater sal wees,” het Day gesê.

Dit lyk asof die ontginning van die waterklip goedkoper sal wees as om nuwe damme te bou of seewater te ontsout.

Die Wessel Lourensdam in Vredekloof, Brackenfell in Maart 2016. Foto: Verskaf.

Die Wessel Lourensdam in Vredekloof, Brackenfell in Maart 2016. Foto: Verskaf.

Die Stad Kaapstad het ook beplan om ʼn waterherwinningsprojek teen 2023 in te stel. Sowat ʼn 100 megaliter afvalwater sal gesuiwer word sodat dit weer drinkbaar is. “Die idee van herwinde water in krane is nie altyd gewild by inwoners nie, maar ons kan eenvoudig nie meer bekostig om nie hierdie water te benut nie. Dit is iets wat wêreldwyd suksesvol gedoen word en dit sal in die toekoms ook in Kaapstad moet gebeur,” het Day gesê.

Volgens raadslid Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir onder meer water en energie, is die ontginning van water uit die Kaapse Vlaktes se waterklip en die Lourensrivier nog langtermynopsies wat ondersoek sal word.

ʼn Meer onmiddellike oplossing vir die waterkrisis is die Voëlvlei-aanvullingskema, wat nou te midde van die droogtetoestand versnel sal word. Water vanuit die Bergriviermond sal in die Voëlvleidam gepomp word, terwyl nog ʼn paar kleiner strome ook na die dam herlei sal word.

Intussen het die stad, provinsiale regering en kenners opnuut ʼn beroep op inwoners gedoen om steeds water te bespaar, te hergebruik en te herwin, aangesien dit is waar nou die grootste verskil gemaak kan word.

Die Wes-Kaapse regering het ook R60 miljoen bewillig vir die aankoop van voer vir die landbousektor en ʼn verdere R22 miljoen vir munisipaliteite om wateraanvullingskemas te versnel, nuwe boorgate te sink en infrastruktuur op te gradeer. Die plaaslike regering het nog R34 miljoen begroot om verdere droogtekwessies te hanteer en R3,5 miljoen sal bestee word om indringerplante te verwyder in die Breederivier se opvangsgebied, sodat meer water só vir gebruik beskikbaar gestel kan word.

theewaterskloofdam-2014-en-2017

Die Theewaterkloofsdam se watervlakke in 2014 en 2017. Foto: Verskaf.

Droogte gaan herhalende tema word

Day sê die Kaapse waterkrisis gaan ongelukkig nie heeltemal verdwyn nie, al kry die streek hierdie winter baie reën. “Met die groeiende bevolking en lewensstandaarde wat styg, gaan mense net al meer water nodig hê. Die groeiende vraag na water gaan nie verminder nie, inteendeel, dit gaan verhoog terwyl ons ʼn beperkte hoeveelheid water het met min nuwe waterbronne om te ontgin. Ek en ʼn kollega het destyds voorspel die grootste gedeelte van Suid-Afrika sal teen 2015 ʼn permanente soort watertekort ervaar en ek dink nie ons was heeltemal verkeerd nie.

“Alle langertermynweermodelle voorspel dat Suidelike Afrika in die toekoms nog droëer gaan word. Voeg klimaatsverandering hierby wat onvoorspelbare weerpatrone beteken met langer droogtes en hoër temperature. Water gaan in die toekoms ook ʼn sosiale kwessie word en dit is belangrik dat ons nou al begin kyk hoe ons vooroordele oor iets soos waterlose baddens en toilette kan hanteer,” het Day gesê.

Volgens Limberg sal die Stad Kaapstad in die toekoms ook opnuut fokus op die effektiewe gebruik van alle water, wat die herwinning van afval- en stormwater insluit. “Dit is vir ons belangrik om ʼn watersensitiewe stad te ontwikkel en die soort pro-aktiewe benadering wat ons tot die bestuur van al ons hulpbronne neem.”

Toekoms van waterverskaffing – weerburo

droogte

Foto: Daeron/Pixabay.com

Die weerburo bly huiwerig om ʼn definitiewe voorspelling oor die Kaapse reënseisoen te waag. “Daar is ongelukkig tans geen aanduiding van wat in die winterreënvalstreke gaan gebeur nie. Ons hoop om nader aan April of Mei meer inligting te hê, maar ʼn wintervoorspelling op ʼn seisoenale tydskaal is baie moeilik en die vaardigheidsvlak van die voorspellingstelsels is ongelukkig baie laag in die winter,” het Cobus Olivier, ʼn wetenskaplike by die Suid-Afrikaanse weerdiens, gesê.

Die Wes-Kaapse regering bly egter optimistiese dat vermindering in watergebruik sal help om die provinsie deur te dra totdat die reënseisoen amptelik in April begin. Barry Wood, bestuurder van Stad Kaapstad se departement vir grootmaatwater, water en sanitasie, het in ʼn onderhoud met Cape Talk gesê terwyl die stad vol vertroue is dat damme nie vanjaar heeltemal sal opdroog voor die winterreënseisoen nie, is hulle bekommerd oor die volgende somer, omdat damme tot drie jaar neem om weer op te vul.

Die stad hou egter vol hulle het saam met die provinsiale en nasionale regering genoeg gebeurlikheidsplanne en noodmaatreëls in plek om die waterkrisis nou en in die toekoms te hanteer.

  • Inwoners wat navrae het of die misbruik van water met bewyse wil aanmeld kan ʼn e-pos stuur na [email protected] of ʼn SMS na 31373. Verder inligting oor waterbeperkings is op die Stad Kaapstad se webwerf beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

dom ·

Wel of hulle doen net mooi niks of hulle is besig om die damme kleiner te bou om dit vol te laat lyk…

Peet Schabort ·

Ek is woonagtig langs ‘n dam waar daar ‘n wonderwerk plaasgevind het. ‘Kenners’ het die Vaaldam sowat 3 tot 5 jaar gegee om weer vol te wees. God het egter voorsien en ons moet maar net bid vir uitkoms. Tog is dit ook so dat ons nie in die lig van (moontlike) wonderwerke onsself die reg mag toe-eien om intussen waterbronne te misbruik. Dus behoort ons versigtig te wees met ondergrondse water deur dit nie oor te benut want ons sal die prys in die toekoms daarvoor betaal. Daar sal tereg aandag gegee moet word om so gou as moontlik water te hergebruik soos wat alreeds vir baie dekades in Windhoek die geval is. Gebruik ook hommeltuie (drones) om waterdiewe vas te trek alhoewel privaatheid geskend sal word.
Ons sal net moet besef dat SA ‘n waterarm land is. Ek sien op die internet dat prof. Jenny 35 jaar ondervinding het betreffende die wateronderwerp, so kom ons LUISTER na haar voorstelle en BRING DIT TOT UITVOER!!

MB ·

Ek is nou al gvol vir hulle gedurige gepraat oor bronne wat ontgin kan word vir lw aanvulling. Dieselfde wysie op die kitaar word gespeel as daar n droogte sy kop uitsteek. Hulle praat gedurig van ontsouting, ondergrondse water op die vlakte en fonteine uit Tafelberg, maar daar word zero gedoen. Hulle het verskonings soos te duur, maar magtig wat is die skade as daar geen water is nie. Kyk hoe lyk die paaie se infrastruktuur en die beplanning daarvan ???veral nog met die instroming wat n las op alle kommodideite plaas. Ons moet al die druk hanteer, hulle doen bokkerol.

Sak ·

Stem 100% saam MB. Die bestaan van reuse ondergrondse water “Aquifers” is al dekades lank bekend. Hoekom nou eers die ontginning daarvan oorweeg?

Hein ·

Ons moet ook onthou dat die duisende wat per bus na die Wes Kaap gestuur word dra ook by tot die water gebruik. Ons het net nie die infrastruktuur vir die skielike populasie vermeerdering nie.

Waterparra ·

As hulle orals langs die land se paaie kon opgrawe om “fibre” na oral te lê, waarom kan hulle nie die verskillende provinsies se grootste damme met mekaar verbind deur middel van pypleidings nie? So kan daar van provinsies wat tans ‘n oorvloed het water herlei word na provinsies wat onder droogte gebuk gaan.

Herman Toerien ·

Baie dankie. Uitstekende en hoogs tydige artikel. Puik werk.

Jannie ·

Pypleiding vanaf Knysna/Tsitsikama. Kan nie sien wat die probleem is nie.

Martin Van Den heever ·

Goeie dag

Ek is Martin Van den heever en is in die weskaap woongatig oorspronklik van die Vrystaat en wil graag weet en soos ek verneem kan daar nie water met behulp van lugdruk og water uit met behulp van n oudtyse water uit die bege gepomp en so doende die kostes te laag te hou nie , water uit die brrer rivier met behulp van n pyplyding in die voelvlei dam ingepomp word met behulp van n waterwiel nie,

SkarrelKind ·

Ek dink nie dis ‘n geval van niks daaromtrent doen nie. Sulke projekte is duur en die lewensvatbaarheidstudies neem tyd. Jaag mens ‘n projek en foeter dit op en dit werk nie, sit mens weer in dieselfde bootjie. Die Wes-Kaap is oor die algemeen vooruitsrewend. Ek glo in tyd sal hulle ‘n goeie plan in plek sit om die watertekort aan te spreek. Intussen spaar ons almal water dat dit klap, en dis in elk geval hoe dit hoort. Mens behoort geen hulpbronne te vermors nie.

Dirk Breytenbach ·

Ek neem kennis van al die opsies tot ons beskikking en stem saam met ander kommentators dat die huidige tekorte jare lank al voorsien is. Ons as verbruikers doen reeds wat ons kan en die gesanik van “kenners” en politici dat verbruikers te blameer is hou nie water nie. Die amptenare en politieke leiers moet verantwoordelikheid neem en iets laat gebeur. Hou op om julle slim te hou en neem aksie.

Sjoe ·

Ek stem nogal heelhartig met Skarrelkind en Dirk Breytenbach saam. Kaapstad en DA wys hoekom jul altyd uitstaan bo ander provinsies, maak soos Skarrelkind sê, deeglike studies en voer uit soos Dirk sê, GEEN slim praatjies, vat verantwoordelikheid en voer dit uit. Moenie fokus op wie kan ons blameer nie.

Gerald ·

Is daar ni n manier dat van die riviere herlei kan word na di Bergrivier toe nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.