‘Kernkrag ʼn groot rede vir kabinetskommeling’

David Mahlobo, die voormalige minister van staatsveiligheid en nou minister van energie. Foto: GCIS (Maart 2017)

Verskeie politieke rolspelers het in reaksie op pres. Jacob Zuma se onverwagse kabinetskommeling Dinsdagoggend gesê die president het die regering se omstrede kernkragplanne in gedagte gehad toe hy op dié kabinetsveranderinge besluit het.

Maroela Media het vroeër berig verskeie veranderinge is Dinsdagoggend onverwags aan die kabinet gemaak, onder meer die afdanking van Blade Nzimande as minister van hoër onderwys en onderrig, die aanstelling van David Mahlobo as minister van energie en die aanstelling van Buti Manamela as die adjunkminister van hoër onderwys en onderrig.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het gesê die kabinetskommeling is die mees onlangse skuif in Zuma se “oorlog teen enigiemand wat sy projek van staatskaping teenstaan”. Volgens Maimane was Nzimande, die voormalige minister van hoër onderwys en onderrig, die voor die hand liggende teiken.

“Nzimande volg vir Pravin Gordhan, Derek Hanekom, Mcebisi Jonas en ander wat versuim het om in hul spoor te trap en dus uit hul ampte verwyder is,” het Maimane gesê. “Die Suid Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP), [waarvan Nzimande die hoofsekretaris is], is ʼn vernederende hou toegedien en hulle moet nou besluit hoe lank hulle hierdie mishandeling sal duld. Of sal hulle nou doen wat reg is en begin om buite die ANC te werk.”

Maimane het gesê die aanstelling van “die meer plooibare” Mahlobo as minister van energie baan die weg vir die ANC om Suid-Afrika van ʼn multimiljardrand kernkragooreenkoms met Rusland te verseker.

“Die kabinetskommeling het niks daarmee te doen om die regering meer effektief te maak en die mense van ons land te dien nie. Inteendeel, Jacob Zuma steek oënskynlik sy kritici in die pad en gee verhogings in ruil vir ondersteuning in aanloop tot die ANC se verkiesingskonferensie in Desember vanjaar.”

‘Mahlobo ʼn getroue luitenant’

Lawson Naidoo, uitvoerende sekretaris van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac), het Maimane se gevoel bevestig dat die kabinetskommeling gedoen is met die bevordering van Suid-Afrika se kernkragooreenkoms met Rusland in gedagte.

“Dit lyk asof dit duidelik oor die kernkragooreenkoms gaan as ʼn getroue luitenant soos David Mahlobo as minister van energiesake aangestel word,” het Naidoo gesê. “Ons weet Mahlobo het die president onlangs op verskeie besoeke aan Rusland vergesel en ʼn mens kan nou aanneem dat hierdie [kabinetskommeling] gedoen is om die finale grondslag vir hierdie kernkragooreenkoms te lê, wat ek glo die finale handtekening van pres. Zuma se termyn as president sal wees.”

blade-nzimande

Blade Nzimande. Foto: Flickr/GovernmentZA

Naidoo meen ook dit is nie verrassend dat Nzimande in die pad gesteek is nie. “Ek dink dit is iets wat al ʼn ruk lank kom. Ek dink dit is interessant dat hy slegs vir Blade afgedank het en nie ander ministers verbonde aan die SAKP nie, so ons sal moet sien hoe die party daarop reageer.”

Zwelinzima Vavi, algemene sekretaris van die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde (Saftu), het gesê die aanstelling van Manamela as adjunkminister van hoër onderwys is “ʼn slim skuif” deur Zuma. Manamela, die nasionale sekretaris van die Young Communist League of South Africa, se aanstelling sal volgens Vavi veroorsaak dat die SAKP dink Zuma tree nie teen die party as ʼn geheel op nie.

Hy het bygevoeg hoewel Nzimande se afdanking ʼn slag vir die SAKP is, is dit onwaarskynlik dat die party sal wegstap van die drieparty-alliansie af. Volgens Vavi sou die ideale tyd vir só skuif gewees het toe Gordhan in Mei as minister van finansies afgedank is, maar die SAKP het dit nie gedoen nie. “[Zuma] weet hulle hou van die voordele en dit is onwaarskynlik dat hulle in solidariteit sal wegstap.”

Vavi meen ook Mahlobo se aanstelling is ʼn “blatante poging” om die regering se omstrede kernkragplanne deur te druk en sê die kabinetskommeling is ʼn poging deur Zuma om sy mag te versterk in aanloop tot die partye se verkiesingskonferensie.

“Dit gaan oor Jacob Zuma eerste en die land laaste. Dit gaan nie daaroor om enige rewolusionêre agenda te bevorder nie. Dit het niks daarmee te doen om die republiek te bevorder nie,” het Vavi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Willie ·

Rampokkery op die hoogste grad… geen salf aan te smeer nie.. verkoop die land vir sy eie rykdom, nes sy skaduwee Mugabe… steel en plunder, en die mense kripeer van elende. SA is soos n riller fliek, mens kannie glo wat hier aangaan nie..

Carine ·

Die kernkragooreenkoms met Rusland is net die dekmantel vir ‘n uiteindelike kommunistiese regeringstelsel vir SA. Niks minder en niks meer nie. Dit en al die ander debakels en spektakels is so deursigtig soos ‘n ruitlose venster.

Eish ·

Ek dag dan Kommunisme het geval? Blade is ook gefire. Dink nie jy is reg nie. Dis die omkoopgeldjies wat die helhool se keiser gaan laat aftree.

Eish ·

Die masseersalon geval nou minister van energie.
Met die dat ons nou tussen die duiwel en die diepblou see is, sal ek maar die Russe kies bo die Chinese. Miskien kan ek vlugtelingstatus daar kry wanneer ons die kernkrag aanleg nie kan betaal nie. Die Russe is darem baie mooier en ek hou van Vladimer Putin.

honourable member ·

Een groot grap terwyl die land vergaan onder die moorde. Plaas dat hy die doodstraf begin terugbring.

John ·

Oppas vir wat ons wens. Die doodstaf… en al die ou koeie wat ook nog uit die slote gegrawe gaan word en glo bewyse van skuld. Heksejagte en… dinge raak lelik… baie lelik.

zoom zoom ·

Nou soek puttin sy pond vleis uit zuma daarom die skielike skuif in die kabinet.

Ouman ·

Dit gaan oor kernkrag maar ook oor die ondersoek na die olie reserwes wat verkoop is en die verkoopobrengs daarvan wat in iemand se sak beland het. Gerugte dat geld verdwyn het is in omloop

CHRISTA ·

Hy gaan die toets met “vleuende vaandels” dop want ons land kan NIE kernkrag bekostig nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.