Kleuter weer geopereer ná hondebyt

Charlaine Guarini in die hospitaal. Foto: Verskaf

Die ouers van Charlaine Guarini sê hul dogtertjie sal sielkundige berading ondergaan nadat sy erge wonde aan haar gesig opgedoen het toe sy deur die gesin se hond gebyt is.

Charlaine (3) van Brits in Noordwes het Woensdagoggend weer ʼn operasie ondergaan om die 70 steke in haar gesig te verwyder.

Julaine Supra, Charlaine se ma, het aan Maroela Media gesê die operasie het goed afgeloop en dat Charlaine na verwagting net een nag in die hospitaal sal moet oorbly.

“Sy word antibiotika gegee om te verseker dat nie sy infeksie opdoen nie. Hulle het ook vir haar medikasie vir die pyn gegee so sy lê nou ʼn bietjie en slaap, maar sy het al klaar ʼn bietjie geëet en gedrink. Ons wag nog vir die dokter om met ons te kom praat, maar alles het goed gegaan,” het Supra gesê.

Maroela Media het vroeër berig Charlaine is ʼn week gelede deur een van die gesin se twee boerboele in die gesig gebyt. Albei honde is later van kant gemaak. Charlaine het egter erge beserings aan albei kante van haar gesig opgedoen en twee van haar tande is ook uitgebyt. Haar wonde is dieselfde dag in die teater in ʼn Pretoriase hospitaal geheg en sy is ʼn paar dae later uit die hospitaal ontslaan.

Charlaine Guarini voor die voorval. Foto: Verskaf

Supra sê Charlaine het nie ʼn vrees vir honde oorgehou ná die voorval nie, maar skrik wel as sy honde hoor blaf en sy hulle nie kan sien nie. “Sy sal aan honde vat en as ʼn hond blaf en sy kan die hond sien, gee sy nie om nie. Dit is net as sy nie die honde kan sien nie wat sy bang raak,” het sy gesê. Sy het gesê Charlaine is ook skrikkerig om in die bakkie te ry waarmee sy na die hospitaal gehaas is nadat sy gebyt is.

“Ons sal beslis vir haar berading kry om te verseker dat sy die voorval behoorlik verwerk. Maar sy is ʼn baie sterk dogtertjie en is sedert die voorval nog net so vriendelike kind soos sy altyd was. Sy sal beslis oukei wees.”

Supra het gesê dit is vir haar en Charlaine se pa, Franco, baie moeilik om die negatiewe kommentaar te lees wat mense oor hulle op sosiale media kwytraak. Verskeie mense veroordeel die ouerpaar oor wat gebeur het of omdat hulle die honde van kant gemaak het ná die voorval.

“Ek het van die kommentare gelees en was só ontsteld dat my familie net die selfoon weggevat het. Mense lewer kommentaar oor iemand wat hulle nie ken nie en ʼn situasie waarby hulle nie betrokke was nie. En hierdie kommentaar raak nie net vir ons nie, dit raak Charlaine ook. Dit is baie moeilik om hierdie goed te sien.”

Supra het gesê sy en Franco probeer egter hard om hulle nie aan die negatiewe aanmerkings te steur nie en net op Charlaine se herstel te fokus. “Ons kind is vir ons die belangrikste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Lorieka ·

Dit reg mense wil net negatief wees sterkte sy is n dapper dingetjie

Jeanette ·

Baie sterkte vir julle. Moet julle nie aan mense steur nie daar is ongelukkig altyd mense wat lelike goed moet sê. Weet nie hoekom nie.

My mening ·

Ek staan 100% agter die mamma en pappa se besluit om die honde van kant te maak. Ja, hulle is soos kinders. Ja, jy is lief vir hulle. Maar as hulle my vlees en bloed gaan skade bring, is dit die beter keuse. Daar is geen waarborg dat hy nie weer gaan aanval nie. My morkie het groot geword saam my boerboel en die boerboel het sy maat na n jaar dood gebyt. Ons het gedink dat sy dalk geirriteerd geraak het, maar toe begin sy sommer vir geen rede ons ander diere ook aanval, en byt hulle so erg dat ons massiewe veearts onkostes gehad het. Sy is nou na n ander persoon wat geen diere het nie, maar my punt bly, as sy moontlik een van my kinders moes byt, sou dit ook haar voorland gewees het.
Sterkte vir julle dogtertjie se herstel

sylvia ·

Ag steur julle nie aan wat die ménse sê nie. Doen wat julle dink reg is. Mense sal altyd verskil en ‘n kabaal opskop. Lees die positiewe dinge en laat die negatiewe verby gaan, Ons leer mos almal uit die lewe.

Stem! ·

Ek neem die ouers nie kwalik oor die besluit met hul honde nie. Ek sou dieselfde gedoen het. Verwag hulle dan hierdie arme kind moes elke dag in vrees leef in haar eie huis vir ‘n hond wat haar aangeval het en wonder wanneer dit weer gaan gebeur? Wag tot die oordeelaars dit moet oorkom dan kyk ons hoe hulle daarmee sou saamleef. Julle het ‘n goeie besluit geneem en opgetree in die beste belang van julle kind. Sou julle besluit het om nie die honde van kant te maak nie sou julle ook gekritiseer word deur dieselfde mense wat sulke swak kommentaar gegee het.

MissDemeanor ·

Boerboele. Daar is nie n manier dat ek my kind in iemand se tuin sal laat speel as hul een van daai monsters op hul erf het nie. Toe ek ‘n kind was het my ouers dit ook nie toegelaat nie. Daardie “bondeltjies van liefde” kan jou kop van jou lyf af skeur as jy iets doen om hul te trigger.

Karma ·

Boerboel, Rottweiler, Alsatian, basterbrak, Malteser, Chihuahua …… ‘n hond bly ‘n hond. Terg hom of maak hom kwaad en hy gaan reageer deur waarskynlik te byt. Daardie honde was “getrigger” deur mense wat by die plek verbygeloop het, hulle geterg het en die huismense wat besig was om te trek.

Ek sou baie beslis nie my honde laat uitsit het nie (skiet my, maar – my diere is my kinders. Ek het ‘n yslike Rottweiler en twee Alsatians en is liewer vir hulle as vir mense) – daar moes ander alternatiewe gewees het, soos om die honde vir iemand te gee wat nie kinders of ander diere het nie of hulle aan die Polisie te skenk. Dit is net die een hond wat die aanvalwerk gedoen het; hoekom die ander hond óók uitsit?

Ons weet nie regtig wat gebeur het nie en soos die Mamma sê, die mense se geniepsige kommentaar maak séér en affekteer nie net haar, die dogtertjie se pa en die dogtertjie self nie, maar die hele familie. Ek is bly dat kleinding goed aansterk en al wat dié tannie nou vir haar wil sê is: bly maar weg van honde af, as jy hulle nie ken nie en wees maar versigtig hoe jy ‘n hond benader (ek is self baie versigtig vir my Rottweiler, al is ek die “Alpha-wyfie” in die “pak” – ek weet sy sál byt as sy “getrigger” word).

rollie ·

Karma – Ek wil nooit in ‘n posisie wees waar ek voel ek moet versigtig vir my eie hond wees nie. Reeds daar eken jy dat jy nie daai hond behoorlik kan beheer nie. Nee, ek sal nie daai groot en ander bewese mensvreter honde aanhou nie, ek wil in beheer wees ten all tye… en as my hond byt, moet die skade nie te groot wees nie. Hierdie goed verskeur mense as hul koppe uithaak.

Positief ·

Julle het reg opgetree om julle honde van kant te maak, mens kan nie voorsien dat so iets gaan gebeur nie maar wanneer dit wel gebeur dan moet jy keer dat dit nie weer gaan gebeur nie, jy kan ook nie die diere vir iemand anders gee nie, die kans dat hulle op daardie mense sal draai is baie goed. Mense wat negatiewe dinge kwyt raak, is mense wat niks beter het om te doen of te sê nie en is nie gelukkig in hulle self nie so hulle voel hulle moet ander mense aanval of hulle nou die omstandighede ken of nie, moet julle nie daaraan steur nie. Soos jy sê fokus op klein Charlaine sodat sy so gou moontlik heeltemal herstel. Sy het julle onverdeelde aandag baie nodig. Die negatiewe mense moet maar iets anders gaan soek om op te fokus. Sterkte vir julle ek glo sy gaan volkome herstel.

Oumie ·

Saam dankbaar sy is okay. Dank die Heer vir Sy genade en mediese sorg. Vertrou die dapper poplap gaan gou van alles vergeet. Sterkte aan haar ouers.

SUSAN ·

Die probleem met party honde is hulle raak so opgewerk deur ander honde en ook vreemdelinge dat hulle blind van woede word en dan alles en almal om hulle wil verskeur en eintlik maar net die ander hond of vreemdeling in die hande wil kry,.

TDW ·

Ek dink altyd aan die “hulle moes eintlik” kommentators as ou tannies met sulke pruim mondjies wat glo hulle is gemaak om ander te vertel hoe hulle moet leef. Dis dieselfde ou tantes wie se kinders nie meer kom kuier nie, want daar word altyd negatiewe goed vir hulle gesê. Asb asb moenie glo dat sulke negatiewe mensies vir die volk praat nie. Dink aan hulle as alleen mense wat nou op die enigste plek hul sê kan sê en reaksie kan lok, wat beteken mense luister as hulle praat. Bid vir Wysheid vir sulkes, want hulle het dit baie meer nodig.
Sterkte vir julle, ek hoop haar wangetjies word gou beter en weer net so rond en gesond soos voor die aaklige nagmerrie. Gelukkig is sy nog klein, en dank die Heer dat kinders vinniger herstel emosioneel en fisies as volwassenes. Ek bid dat julle ook emosioneel sal gesond word.

Nog n ouma ·

In die Bybel se God op verskeie plekke “wees stil …Ek is met jou” Ek het toevallig gister vir my tuinhulp gese ek lees geen boeke oor die Bybel, slegs die Bybel. Hoekom het mense sosiale media nodig? Hul wil mekaar uitmekaar skeur. Moenie dit lees en n deur ooplaat dat die vyand moet inkom nie. Doodeenvoudig die pragkind lewe so satan jou gat

Liza ·

“Karma” 100% vir jou nugtere opinie. Stem heelhartig met jou saam.

Karma ·

Dankie tog, Liza – ten minste EEN mens wat nie ‘n “killing spree”-gril beleef elke keer as ‘n kind of iemand deur ‘n hond gebyt word nie. Ek sê altyd: as ‘n hond byt, is daar ‘n rede daarvoor – of dit nou ‘n wildvreemdeling of een van die gesinslede is wat gebyt is. En nie een soort hond of ‘n ander soort hond is meer daartoe in staat om te byt as die ander nie. – as dit ‘n hond is en dit het tande, kan dit byt.

Almal trek altyd te velde teen die groter hondsoorte – omdat wanneer só ‘n hond byt, is dit onmiddellik in die media en word die hond uitgesit of doodgeskiet. Wanneer ‘n klein hondjie egter geniepsig na iemand se hand of hakskeen byt, dink niemand eers twee keer daaraan nie. Maar wanneer ‘n groot hond byt (en veral die Pittbulls, Rottweilers, Alsatians en Boerboele loop hier deur) is die skade (vanweë die hond se grootte en gewig) veel meer en word dit onmiddellik aan die groot klok gehang.

Karin ·

Ek hoop die mamma lees dié. Ek kan maklik sê – moet jou nie aan mense se kommentaar steur nie, maar ons is almal mens en as iemand iets negatief oor jou sê, dan maak dit seer.
Mense oordeel so vinnig en die internet maak dit maklik vir hulle om dit uit te spreek want hulle hoef nie die ouers wat seer het, in die oë te kyk nie.
As ‘n ander mens my kind skade doen wil ek daardie mens iets aandoen. So as ‘n hond my kind byt sal ek die hond sekerlik ook van kant wil maak. Hoe is mens verder lief vir ‘n dier wat jou kind so seer gemaak het?
Dis maklik om te sê honde byt net as hulle getart word… wat as die hele straat se kinders die hond tart en die enetjie wat gebyt word is net op die verkeerde tyd, op die verkeerde plek? Nee wat, daardie argument hou nie vir my water nie. Want ek ken só ‘n situasie.
As ouer doen mens die beste vir jou kind met wat jy het in jou omstandighede. Die ouers het gevoel om hulle kind en ander verder te beskerm is dit die beste om die honde van kant te maak. Mens se kind se veiligheid kom eerste – bó die van ‘n dier. Julle is dapper ouers!!!

rollie ·

Persoonlik sal ek nie hierdie potensieel mensvreter honde aanhou as daar klein kindertjies in die rondte is nie. Net te onvoorspelbaar en gevaarlik. Kyk nou die skade.

Karma ·

Jou keuse is jou keuse, Rollie. Ek voel egter baie veiliger met my groot honde as my kleiner honde, want mense is versigtig vir hulle.

Ook 'n mamma ·

My oudste seuntjie is op 19 maande deur ons hond ook in die gesig gebyt, terwyl ek slegs ‘n paar tree van hom af was. Hy het in die tuin rondgehardloop en sy het gedink hy hardloop op haar af. Dit was bitter naby aan sy ogie maar hy het darem net 4 steke nodig gehad. Ek het my oë uitgehuil, omdat ek skuldig gevoel het dat ek dit nie kon keer nie, en omdat ek geweet het ons sal ons geliefde hond moet uitsit. Die suster in ongevalle was geirriteerd met my en het vir my gesê dis regtig nie so erg nie, ek kan maar nou ophou huil. Ek was kwaad en hartseer oor haar onkunde en kritiek, want sy is nie in my skoene nie. Al wat ek kan sê is, steur julle nie aan wat mense sê nie, hulle is nie in julle situasie nie. Vergewe hulle maar want hulle weetnie wat hulle sê nie.

ZETTIE ·

Ek stem saam met die keuse wat die ouers van hiérdie pragtige kleinding moes neem. Ek is self ‘n groot hondeliefhebber, maar as ek in dieselfde situasie was sou ek dieselfde opgetree het ook. Wie sal nou ‘n hond wil hê as jy weet hy word weggee omdat hy iemand anders gebyt het? Nee man, dink nou mooi! Ek sou beslis nie. Hoeveel ander gevalle was daar van honde wat hul eienaars aanval nadat die hond al etlike jare oud is? Of gevalle waar eienaarse honde bekom het nadat die kinders gebore is met die idee dat die hond saam met die kind moet “groot word”. Die natuur werk ongelukkig nie so nie. Diere is ongelukkig onvoorspelbaar, maak nie saak hoe goed hulle opgelei is of hoe goeie behandeling hulle kry nie. Enige ras hond byt, dis wat hulle in die natuur sou gedoen het. Mens kan die dier uit die bos haal, maar nie die bos uit die dier nie. Sterkte met kleinding se herstel vorentoe.

Uvonka ·

Ai Liefie Kind ek hoop jy herstel vining. Baie sterkte, liefde en drukkies. Ek dink almal behoort die ouers se keuses en besluite te respekteer en ons behoort hulle te ondersteun in die traumatiese tyd!

Hondbyt ·

Ek is deur ‘n boerboel gegryp in die gesig toe ek veertien was. Hoewel die skade so goed herstel het soos dit kon, is daar steeds diep emosionele “scars” wat mens daarvan dra. Ek het steeds die letsel op my oogbank waar my ooghare groei – Inteendeel ek moet dit anders pluk as die ander kant omdat daar nie meer hare op daai plek groei nie, van daar af is ek summier ‘n kat mens, ek was daarna ‘n paar keer amper gebyt deur honde – en mens freak nogal uit as dit gebeur. Dis nie net iets wat sielkundig net weggaan nie, al word die wonde gesond

Karma ·

‘n Hond voel jou vrees aan, Hondbyt. Ek is ook baie liewer vir katte as honde, maar ek verruil my woewe vir niks in die wêreld nie en die een wat enige van my honde wil skiet of uitsit as hulle dalk iemand gebyt het, sal eers vir mý moet doodskiet of uitsit om by my hond te kom.

Hondbyt ·

Karma, jy weet nie waarvan jy praat nie. Voor my voorval het die hond geen aggressie teenoor enigiemand getoon nie. My oom wou die hond van kant maak en ek het geweier en gese ek sal eerder doodgaan voor hulle die hond uitsit… weet jy wat het daarna gebeur? Hy’t twee keer my sussie se toe twee jarige dogtertjie uit haar arms probeer gryp EN iemand anders se kind gebyt… As honde bloed geproe het is dit VERBY.

Gesiggie ·

Jy is die mooiste klein Engel Kind…. sterkte aan jou , mag jy sommer gou weer beter voel, aan Mamma en Pappa , wat gebeur het was nie jul skuld. En dit was die regte keuse om eerder maar onslae te raak van die hond.. want wat as so iets weer gebeur het. Wat sou dit help jul gee hom weg en hy byt weer iemand anders, dalk sou daai person nie so gelukkig gewees het. Charlaine ek kan nie wag om jou spog foto’s te sien na als verby is.. JY IS N REGTE POPPIE ”STERKTE AAN OUERS

Aletta ·

Sy lyk na n baie dapper dogtertjie, sterkte aan die ouers!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.