Knysna-brande: Dié foto ‘bevestig oorsaak van vuur’

’n Google Earth-foto wat op 20 April 2017 geneem is bevestig volgens AfriForum dat die westelike Knysna-vuur op die plaas Elandskraal begin het. Foto: Verskaf

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Maandag gesê ’n Google Earth-foto wat op 20 April 2017 geneem is bevestig dat die westelike Knysna-vuur op die plaas Elandskraal begin het.

Dit stem ooreen met die bevindings van dr. David Klatzow, die forensiese deskundige wat deur AfriForum aangestel is om die oorsaak van dié brande te ondersoek. Maroela Media het vroeër berig volgens Klatzow se verslag het die westelike brand op 12 April 2017 in die Elandskraal-omgewing naby die Karatara-rivier as gevolg van weerlig ontstaan.

Luidens dié verslag het die vuur weke lank gesmeul voordat dit versprei en gelei het tot die verwoestende brande in en om Knysna wat op 7 Junie 2017 begin woed het.

’n Foto van die smeulende vuur wat op 22 April 2017 deur Morné Jonker, ’n plaaslike boer, uit ’n mikrovliegtuig geneem is. Foto: Verskaf deur AfriForum

“Die bevindings word verder gestaaf deur ’n foto van die smeulende vuur wat op 22 April 2017 deur Morné Jonker, ’n plaaslike boer, uit ’n mikrovliegtuig geneem is,” het Reint Dykema, AfriForum se woordvoerder, gesê. “Op 29 April het dr. Wallace Vosloo, ’n grondeienaar in Elandskraal, ook ’n video van die smeulende vuur uit sy hommeltuig geneem. ’n Ander getuie het die gebied te voet besoek.”

Verlede maand het Clinton Manual, hoof van Knysna-brandweer, die bevindinge bekendgemaak van die amptelike forensiese ondersoek oor die oorsaak van die brande. Hierdie ondersoek het bevind dat die Knysna-brand deur menslike aktiwiteit veroorsaak en aangevuur is deur sterk winde en droogte, bergwinde, topografie en plantegroei.

Manual het tydens die bekendstelling van die verslag gesê daar is duidelike bewyse dat die Knysna-brand begin het ná mense vuur gemaak het. Die bewyse sluit dennebolle in, wat waarskynlik gebruik is as aanstekers, en planke wat op mekaar gestapel is.

“Die rede waarom ons sê die dennebolle is as aanstekers gebruik, is dat daar geen dennebome in die omgewing is wat ons as die oorsprong geïdentifiseer het nie,” het Manual bygevoeg. Hy het gesê daar was ʼn toegangspad na die oorsprong en ander aanduidings dat mense in die gebied was, insluitend gebreekte erdeware, spykers en ander items.

Sewe mense is dood, 700 huise en ander strukture is verwoes en tussen 10 000 ha en 15 000 ha grond is afgebrand. Ongeveer 5 000 persone is ontruim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Luister ·

Al gehoor van: “A stich in time, saves nine ” ?
(Jammer, die Afrikaans daarvan klink nie so goed nie)

Gevolgtrekking: ·

Gevolgtrekking: Omdat elke rokie gepaard gaan met ‘n vuurtjie word dit toe gerapporteer en . . . wel , daardie een is nou natuurlik dood.

Theresa ·

Dan lyk dit dus of dit weerlig en mensebedrywe was. Ver uit mekaar en die dennebolle bewys mensebedryf.

Vega ·

Die munisipaliteit kan nie erken dat die vuur by Elandskraal ontstaan het nie, want dan is hulle verantwoordelik omdat hulle na vele versoeke nie reageer het op die brand nie.

H ·

Ek verstaan ook nou nie so mooi nie. Het die vuur nou asgevolg van weerlig of menslike nalatigheid ontstaan? Hoe is dit ook moontlik dat die vuur vir “weke lank gesmeul” het en niemant het moeite gedoen om dit te blus nie. Die persone wat die videos geneem het, het dit seker geraporteer? Die videos is al in April geneem en die brande in Knysna was eers in Junie. Waar was die brandweer en Working on Fire dan? Die is onaanvaarbaar.

Henry ·

Hoe toevallig!
Terserlfdertyd “ontstaan” die Kruisfontein vuur meer as 20 km ooswaarts van die Elandskraal ene rondom 0500 op die verskriklike dag van 7 Junie.
Die Kruisfontein vuur “ontstaan” enkele meters van die Nekkies woongebied. Met die hulp van ‘n 90kmpu stormwind vernietig hierdie ene ook alles weswaarts op sy weg tot in Plettenbergbaai. Kon nie weerlig se skuld wees nie, want daar was nie enige donderwolke of reënweer in die omgewing nie.
Ja en so sal ons in ieder geval nooit agter die kap van hierdie spul byle kom nie. Die skade is gedaan en allerlei slimmighede en fabels gaan nie ons gestorwe slagoffers, verwoeste huise en omgewing herbou nie.
Is maar soos dit is.

Alida ·

Die skade en hartseer is klaar gedoen. Wat karring hulle nou nog. Sal tog nooit die skuldige vang en vervolg nie.

Henry ·

Dankie.
Ons is volledig op hoogte met die inhoud van beide die Knysna Munisipaliteit en die Afriforum verslae, Terloops, ons Knysna siele is meer vertroud met die oostelike gebied (Dam se Bos) waar die Kruisfontein brand “ontstaan” het, as “annerkant Nekkies”

Nadat beide verslae bestudeer en met ons eie waarneminge, eerstehandse belewenisse en die werklikhede rondom die omvang van die brande vergelyk is, is ons daarvan oortuig dat die ontstaan/oorsprong van die onderskeie brande op aannames, onbewysbare teorieë en wat ookalle sal berus.

Ons inwoners/slagoffers het reeds vrede met die werklikheid gemaak en het nie meer die tyd of behoefte en wat ookal om kosbare tyd en energie te verspeel met allerlei slimmighede nie. Ons het veels te veel werk wat gedoen word om ons eiendomme en ons dorp weer te herstel.

jaco ·

die verswyging van baie meer waarskynlike redes vir die brande se ontstaan is weens gedienstigheid aan politieke korrektheid (eintlik kon dit ook working on fire se mense gewees het wat die brande gestig het om ekstra werk te kry).
Die verswyging van die baie meer waarskynlike redes vir die brande se ontstaan laat my ook dink aan oud-president Mbweki se gedurige gehamer met “poverty causes AIDS”. HIV as oorsaak van AIDS is ontken en anti-retrovirale middels is nie eens ingevoer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.